032 Luister

Ek het al meer as net ’n paar sessies bygewoon waar iemand probeer het om ’n geskil met iemand anders op te los. Een ding wat ek telkens opgemerk het, is hoe opvallend min daar eintlik geluister word.

Ons is dikwels so vasgevang in onsself – wat ons wil sê of doen – dat ons nie regtig hoor wat die ander persoon sê nie. Dis eintlik ’n aangename verrassing om iemand te ontmoet wat nie net luister nie, maar ook kan opsom wat jy gesê het.

Weet jy, dis moeilik om jou naaste te hoor, as jy heeldag aan die praat is.

Matteus 11:15: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”

Deur die Bybel roep God ons meer as 61 keer op om te luister – om werklik teenwoordig te wees en te hoor. Ek sou sê die Here wil hê ons moet die waarde van luister verstaan.

Ek glo dat ’n deel van die algemene wêreldwye angsvlak – wat ek dink ongelooflik hoog is – te wyte is aan die feit dat die meeste mense nie voel asof hulle gehoor word nie. Ons voel klein, onsigbaar, afgeskryf en onbelangrik… asof ons nie saak maak nie, vasgevang in ’n algemene gevoel van verwerping. Ek glo regtig dat baie van ons angs verlig kan word as ons net meer moeite doen om regtig te leer luister. Maar wanneer ons midde-in konflik is, is ons houding: “Wie wil nou na hulle luister – verál as HÚLLE so verkeerd is?”, alles gesê met hoofletters, uitroeptekens en net ’n bietjie té hard en dramaties.

Miskien sal dit help as ons ’n beter begrip het van wat dit regtig beteken om te luister. Dit beteken immers om jou “oor te verbreed, intelligent te hoor, jou ore spits en aandag te gee.” Sien jy dit? Dit gaan oor meer as net om woorde waar te neem – dit vra ’n doelbewuste poging om die ander persoon te verstaan en te hoor wat hulle werklik bedoel. Moenie net na woorde luister nie – luister vir die hart daaragter.

Met dit in gedagte, het ek gedink om vier basiese punte te deel oor hoe en waar ’n mens kan begin om ’n goeie luisteraar te word.

1 – Luister op ’n aktiewe manier.

Gee aandag. Wees werklik teenwoordig in die oomblik. Niemand wil met ’n lyk gesels nie – so leer om hierdie drie dinge te doen: parafraseer, verduidelik, en gee terugvoer. Dis regtig belangrik, so hier is dit weer: parafraseer, verduidelik, en gee terugvoer. Parafrasering help jou om seker te maak jy verstaan reg. Verduideliking beteken om vrae te vra totdat jy ten volle verstaan wat die ander persoon bedoel. Terugvoer is om jou eie gedagtes en gevoelens te deel op ’n nie-veroordelende manier. En, kyk mooi hier, ou maat — jy kan nie aan die einde sê: “jy’s ’n idioot,” en steeds hoop vir ’n positiewe uitkoms nie. Ja, ek weet, dalk is dit waar… maar dit hoef eenvoudig net nie gesê te word nie — nie as jy regtig die konflik wil oplos nie.

2 – Luister met empatie.

Sit jouself in die ander persoon se skoene… Verstaan jou naaste se probleem sonder om deel te raak van hul konflik. Het jy dit gehoor? Sonder om in hul konflik ingetrek te word. Jy mag dalk nie hou van wat gesê word nie, maar dikwels – as jy regtig luister – sal jy agterkom dat, as jy in hul situasie was, jy moontlik dieselfde sou gevoel het.

Romeine 12:15 sê: “Wees bly saam met die wat bly is; huil saam met die wat huil.”

Onthou, niemand het gesê ons moet saamstem nie. Maar dink hieraan: God luister na ons in al ons deurmekaar emosies en woorde – ja, Hy luister… maar dit beteken nie Hy stem altyd saam nie.

3 – Luister met ’n oop hart en gemoed.

Wanneer jy net hoor wat jy wíl hoor (selektief luister), of alles deur ’n verdedigende of gekleurde bril hoor, dan luister jy nie regtig met ‘n oop gemoed nie. Probeer eerder luister soos ’n ontdekkingsreisiger of antropoloog wat iemand van ’n ander wêreld ontmoet – iemand met ander gewoontes, oortuigings en manier van dink. Jou doel is nie om saam te stem nie, maar om te verstaan. Onthou, jy hoef nie hul siening te aanvaar of hul standpunt te deel nie – maar jy kan met respek luister na hul dilemma, sonder om self daarin ingetrek te word.

4 – Luister met bewustheid.

Luister of wat hulle sê, ooreenstem met die feite? Met ander woorde, as luisteraars moet ons ons huiswerk doen, sodat ons ten minste ’n idee het van wat die feite is. Maar dink ook hieraan: net omdat jy die feite het, beteken dit nie noodwendig jy het die volle waarheid nie. Feite vertel nie altyd die hele storie nie. As jy reeds aktief, met empatie en met ’n oop gemoed geluister het, en jy verstaan nog steeds nie hul standpunt nie – moenie aanval nie. Gaan na die probleem toe, nie na die persoon toe nie! Om iemand te spot, te verneder of opsetlik te terg, help nie om die konflik op te los nie. Trouens, dit verstewig die konflik net verder. Daardie optrede wen niks – dit laat jou net lyk of jy wil wen, maak nie saak wat reg is nie. Haal asem. Ontspan. Moenie reageer uit frustrasie nie. Gee eerder tyd, wag ’n bietjie en versamel meer inligting. Die doel is om betrokke en oop te bly in die gesprek — nie om die ander persoon te verneder of stil te maak nie. In plaas daarvan om hul woorde met woede of verwerping te beantwoord, kan jy iets sê soos: “Kan jy dalk ’n bietjie meer verduidelik?”, of “Het jy ’n spesifieke voorbeeld?”, of selfs net: “Dankie dat jy jou perspektief met my gedeel het — ek sal daaroor nadink.” Jy kan ook sê: “Dis interessant; ek het dit nog nie so gesien nie.”

God luister na ons — nie net na ons woorde nie, maar na ons harte. Laat ons ook leer om so te luister. Die kuns van luister is ’n Christus-agtige vaardigheid wat ons met nederigheid en opregtheid moet aanleer. Baie mense hoor, maar min luister regtig — en dít is iets wat kan verander.

Vertaal deur Chané de Clercq

Baie dankie dat jy saam gelees het. Ek is Social Porter van Living in His Name Ministries.

Leave a Reply