210 Persoonlik en Verhoudingsgerig

Daar is nie een oorbodige woord in die Bybel nie. Elke woord het ‘n doel en dra betekenis. Daar is geen onbelangrike woorde en geen onnodige besonderhede nie. Van Genesis tot Openbaring is elke woord met die res verweef en vorm dit saam die verhaal van die Vader se liefde, die Seun se bloed en die krag van die Heilige Gees. Die Bybel is van begin tot einde persoonlik en verhoudingsgerig, want God self is persoonlik en verlang na ‘n verhouding met mense. Selfs wanneer Hy van die duiwel en die magte van die hel praat, verwys Hy nooit na hulle as “dit” nie, maar as “hulle”. Dit beklemtoon dat God met persone en wesens omgaan, nie met onpersoonlike kragte nie.

Die waarheid dat God, Yahweh, die Koning van die heelal, persoonlik is en ‘n verhouding met mense wil hê, is nie net die kern van God se Woord nie, maar ook iets wat die Christelike geloof uniek maak onder die godsdienste van die wêreld. Ons God is nie ‘n onpersoonlike krag of ‘n abstrakte beginsel nie. Hy is ‘n persoonlike God met eienskappe soos liefde, hoop, vrede, bewussyn, ‘n wil en emosies. Juis daarom kan ons ‘n lewende en dinamiese verhouding met Hom hê. ‘n Dinamiese verhouding beteken alles dit wat tussen ons en God plaasvind omdat, ons in ‘n verhouding met Hom leef. Die Here verlang daarna om Homself op ‘n doelbewuste en persoonlike manier aan die mens bekend te maak. Hy nooi ons uit tot ‘n verhouding met Hom—’n verhouding wat ons identiteit vorm en ons doel in die lewe bepaal. Dink net ‘n oomblik daaroor. Besef jy hoe ongelooflik groot hierdie waarheid is?

Maar hoe kan ons, wat so beperk en verganklik is, die oneindige God werklik leer ken? Die belangrikste manier waarop ons Hom leer ken, is deur Sy persoonlike aard wat dwarsdeur die Bybel openbaar word. Dit sien ons nie net in die woorde en paragrawe nie, maar ook in die temas, verhale, getuienisse en selfs die poësie van die Skrif. Bladsy ná bladsy openbaar God Sy hart deur die geskiedenis van Sy volk—deur oorloë en ballingskap, deur goeie en slegte konings, deur profete en predikers, en uiteindelik deur die koms van die Messias. Die Bybel beeld God uit as Een wat spreek, liefhet en doelbewus handel.

Trouens, die Bybel begin met God as die eerste Een wat in die heelal spreek. Moses teken in Genesis alleen die woorde “God het gesê” 29 keer op. Dit beklemtoon dat God van die begin af ‘n God is wat Homself bekend maak en met Sy skepping kommunikeer. God het die mens na Sy beeld en gelykenis geskep. Dit verwys nie net na hoe Hy lyk nie, maar veral na wie Hy is. Daarom het die mens, soos God, die vermoë om in verhouding te leef, lief te hê, te skep en doelbewus op te tree. Die verhaal van God wat saam met Adam en Eva in die Tuin van Eden wandel, openbaar ‘n God wat na gemeenskap met Sy skepping verlang. En daar hou dit nie op nie. Hierdie tema loop soos ‘n goue draad deur die hele Skrif. Ons sien dit in God se verbond met Abraham, Moses en Dawid—elkeen ‘n persoonlike belofte dat Hy Sy volk sal lei, bewaar en onderhou. En dan kom die hoogtepunt van alles: Jesus Christus, God wat mens geword het en tussen ons kom woon het. Vir die eerste keer in die geskiedenis staan God letterlik oog tot oog met die mens. As dit nie persoonlik en verhoudingsgerig is nie, wat is dan?

In wie word God se sending die duidelikste openbaar? In die persoon van Jesus Christus!  God se wese is verhoudingsgerig, en nêrens word dit dieper of duideliker sigbaar as in Sy Seun nie. In die teologie—die studie van God—is Jesus, God wat mens geword het. Hy openbaar die Vader se ewige liefde en oorbrug die skeiding tussen God en die mens. Dit is die grootste bewys dat God persoonlik is en ‘n verhouding met mense verlang. Deur Sy lewe, Sy lering en Sy offer aan die kruis wys Jesus God se begeerte om mense met Homself te versoen en hulle in ‘n intieme verhouding met Hom te bring. Soos ons lees in Johannes 3:16:

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Hierdie waarheid loop soos ‘n goue draad deur die hele Nuwe Testament. In Johannes 15:15 sê Jesus vir Sy dissipels:

“Ek noem julle nie meer diensknegte nie… maar Ek het julle vriende genoem.”

Hiermee wys Jesus dat ons verhouding met God nie gebou is op die blote nakoming van reëls nie, maar op ‘n lewe van geloof, gehoorsaamheid en gemeenskap met Hom. God nooi ons om nie net anders op te tree nie, maar om anders te leef—in voortdurende gemeenskap met Hom en in liefdevolle gemeenskap met mekaar.

Verder speel die Heilige Gees ‘n onmisbare rol om hierdie persoonlike verhouding met God te onderhou. Jesus beskryf die Heilige Gees in Johannes 14:16 as ons Trooster en in Johannes 16:13 as die Een wat ons in die hele waarheid lei. Die Heilige Gees woon in elke gelowige (1 Timoteus 1:14) en maak voortdurende gemeenskap met God moontlik. Soos Romeine 8:26 ons leer, tree die Gees ook vir ons in wanneer ons nie weet hoe om te bid nie. Hierdie inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees kweek en verdiep ‘n lewe van gebed en aanbidding. Dit herinner ons voortdurend daaraan dat God altyd by ons is en versterk die lewende verhouding wat ons met Hom het. Ek huiwer effens om die woord “dinamies” te gebruik, omdat dit nie ‘n woord is wat ons elke dag gebruik nie. Tog beskryf dit hierdie verhouding baie goed. Ons verhouding met God is nie staties of vêr nie; dit is lewend, groeiend en voortdurend aan die werk in ons lewens.

Besef ons werklik hoe diep die implikasies daarvan is dat God persoonlik is en ‘n verhouding met ons wil hê? Dit beteken dat ons nie alleen is in ‘n onverskillige heelal nie. Ons word geken, geliefd en waardeer deur ‘n God wat verlang dat ons heel, verlos, genees en geestelik gesond sal wees—volgens Sy maatstaf en nie volgens ons eie lae standaarde of die maklike uitweg wat ons so dikwels kies nie. Hierdie verhouding nooi elke mens uit tot ‘n lewende geloof, waar ons God se liefde, vergifnis en doel vir ons lewe persoonlik kan ervaar. Só word teologie nie bloot ‘n versameling leerstellings nie, maar ‘n daaglikse werklikheid waarin ons met God wandel en Sy liefde die grondslag word van ons hoop, ons identiteit en ons verhouding met ander. Die Here, ons God, is en bly altyd persoonlik en verhoudingsgerig.

Veertig jaar gelede het my seun met ‘n meisie uitgegaan. Ek het hom gevra of die verhouding ernstig was. Hy het geantwoord: “Nee, Pa, dis net ‘n ‘hookup’. Niks persoonlik nie, niks ernstigs nie.” Destyds het ek nie heeltemal verstaan wat hy bedoel het nie, maar iets in my hart was diep ontstel. Hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe minder kon ek verstaan waarom sy woorde my so ontstel het. Eers onlangs, veertig jaar later, het ek besef waarom. By ‘n byeenkoms het ek voor ‘n jong man gesit wat ‘n Bybel en ‘n boek by hom gehad het. Die titel van die boek het iets met beginsels te doen gehad. Omdat ek nuuskierig was, het ek hom gevra wat die beginsels behels. Hy het gesê: “Die eerste beginsel is: Moenie dinge persoonlik opneem nie.” Ek het hom gevra wat hy daarmee bedoel. Hy antwoord toe: “Soos met Jesus se kruisiging—moenie dat dit jou ontstel nie. Moenie dit persoonlik opneem nie.” Ek was innerlik geskok. En skielik het ek verstaan waarom my seun se woorde destyds, en nou hierdie jong man s’n, my so diep ontstel het. Seks is iets uiters persoonlik. Om dit af te maak as bloot ‘n seksuele ontmoeting sonder enige persoonlike betekenis, is absurd. In vandag se losbandige ‘hookup’-kultuur word een van die mees intieme dinge wat twee mense saam kan deel, gereduseer tot iets tydeliks en weggooibaar, waar mense mekaar as bloot ‘n middel tot ‘n doel gebruik. Nog meer as dit: die kruisiging van Jesus Christus is die mees persoonlike en verhoudingsgerigte gebeurtenis wat die wêreld nog ooit beleef het. Ek het vir die jong man gesê: “‘n Klap in Jesus se gesig was persoonlik (Matteus 26:67). Die spies wat Sy sy deurboor het, was persoonlik. Elke hou van die hamer waarmee die spykers deur die Verlosser se hande en voete gedryf is, was onmiskenbaar persoonlik. Hy het Homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood toe—ja, die dood aan die kruis (Filippense 2:8). Van Genesis tot Openbaring vertel die Bybel God se verhaal en wys dit hoe ons inpas in Sy Koninkryk. Van begin tot einde is dit ‘n verhaal van ‘n God wat persoonlik is en ‘n verhouding met mense wil hê.”

Altyd.

Matteus 22:37–39 is persoonlik en verhoudingsgerig. Die oproep in 1 Tessalonisense 4 en 5 om mekaar aan te moedig en op te bou, is persoonlik en verhoudingsgerig. En dit is maar net ‘n paar voorbeelde. God is altyd persoonlik en verhoudingsgerig, en ons behoort ook so te leef. Selfs wanneer ons sê: “Dis niks persoonlik nie; dis net besigheid,” bly dit persoonlik. Dit is nooit bloot net besigheid nie. Laat ons die Bybel lees soos geliefdes wat met verlange na mekaar soek. Van vóór die begin af was God persoonlik en verhoudingsgerig, en selfs ná die einde van hierdie wêreld sal Hy steeds persoonlik en verhoudingsgerig wees. Dink daaroor.

Ek is die Social Porter van Living In His Name Ministries.

Vertaal deur Chané de Clercq Walke

OP 55 Volharding

Calvin Coolidge het gesê:
“Niks in die wêreld kan die plek van volharding inneem nie. Talent sal dit nie doen nie; niks is meer algemeen as onsuksesvolle mense met talent nie. Begaafdheid sal dit nie doen nie; onvergenoegde begaafdheid, is byna ’n spreekwoord. Opleiding sal dit nie doen nie; die wêreld is vol opgevoede mislukkings.”

Wanneer ons die term “Hou aan” gebruik, soos dit in Filippense 3:12 gebruik word, beteken dit om ywerig te wees en aan te hou aanhou — moenie stop nie, moenie afdwaal nie, bly gefokus en beweeg reguit vorentoe. Volharding het al gevegte gewen; dit was ’n onmiskenbare hulpmiddel in alles van die herstel van huwelike tot wetenskaplike ontdekkings, tot die oorwinning oor dwelm- en alkoholverslawing. Ek het vroeër byna geen volharding gehad nie; ek kon skaars enigiets klaarmaak, en ek het gewonder hoekom my lewe so rigtingloos gevoel het. ’n Ouer man het eenkeer vir my gesê: “Volharding is nie bloot hardkoppigheid nie — dit is geloof wat in die vuur van vertraging verfyn word.” Ugh! Die “vuur van vertraging” beteken ’n langdurige, intens moeilike tydperk van wag, waar ons doelbewus vertraag word in die vervulling van ’n belofte, droom of deurbraak. Ons het volharding nodig. Ek dink dit is iets wat aangeleer word, veral in hierdie wêreld van kitsbevrediging waarin ons tans leef. In die lig daarvan dat ons wil hê wat ons wil hê, wanneer ons dit wil hê, en hoe ons dit wil hê, klink die idee van ’n “vuur van vertraging” eenvoudig verskriklik.

Galasiërs 6:9:
“Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons oes as ons nie moed opgee nie.”
Volharding. Die Griekse woord vir “bly” (abide) kom 127 keer in die Nuwe Testament voor, en 35 keer in sy verskillende vorme net in die Evangelie van Johannes. ’n Belangrike kernbegrip van “bly” is volharding — om aan te hou, te vertoef, en voort te gaan. As ’n mens in ag neem hoe dikwels die Here hierdie woord in die Skrif gebruik, besef ek dat Hy volharding as iets belangriks beskou wat ons moet leer en inoefen.

“Cave bestiam”, Latyn vir “pasop vir die dier”. Een van Satan se gunsteling dinge om te doen, is om ons te probeer kry om op te gee! God sê egter vir ons om te volhard, aan te hou, voort te gaan en klaar te maak. Laat ek daardie vier weer sê: volhard, aanhou, voortgaan en klaarmaak.

 

Volharding is een van God se meer subtiele eienskappe, maar nietemin ’n eienskap van die Here. Ons moet besef dat, as God nie volhardend was nie en nie Sy volharding met ons gedeel het nie, ons maklik sou swig voor die wêreld en vinnig sou kapituleer in die golf van duisternis en karakterverval wat daagliks — indien nie uurliks nie — oor die wêreld rondom ons spoel. Die kwaad mag volhardend wees, maar God is nog meer onverbiddelik in Sy soeke na ons as wat ons verbeelding kan begryp.

Volharding. Die Here het ons nagestreef met Sy blywende, ewigdurende liefde. Hy volhard in Sy onophoudelike uitreik en soek na dié wat aan Hom behoort, om ons huis toe te bring na Homself. Dink vir ’n oomblik daaroor na: is jy ’n volhardende persoon  — en op watter manier is jy volhardend?

Ek wil ’n storie oorvertel, ’n hartseer storie, van iemand wat ek by ’n ouetehuis ontmoet het. Ek sal haar Gladys noem. Toe ’n vriend en ek haar kamer vir die eerste keer binnegegaan het om haar te besoek, het sy op haar bed gelê, bedek met ’n netjiese, vars gestrykte laken en ’n dun, verbleikte kombers, terwyl sy na die muur gestaar het. Sy was vel en been, met fyn grys hare wat styf oor en agter haar kop getrek was, verweerde gelaatstrekke, en sy was bleek — byna deurskynend bleek. Haar vel was so dun dat ’n mens die are net onder die oppervlak kon sien. Sy was so broos en stil dat ons gedink het sy is dood, was dit nie vir die flou op- en afbeweeg van haar borskas nie — skaars waarneembaar, net sigbaar as ons stil gestaan en ’n oomblik lank gekyk het. Met ingehoue asem en intense fokus het ons vir ’n oomblik gewag, in die hoop dat sy haar kop sou draai en met ons sou praat. Toe dit nie gebeur nie, het ek vorentoe gestap en gevra hoe dit vandag met haar gaan. In ’n stem so dun soos die geritsel van droë blare, terwyl sy steeds na die muur gestaar het, het sy geantwoord dat sy net daar lê en wag om te sterf; sy is moeg om in hierdie wêreld te wees en is klaar met asemhaal. Uiteindelik het sy stadig haar kop gedraai om na ons te kyk en, met baie dun, bleek lippe, vir ons gesê sy verstaan nie hoekom sy nog leef nie. Met verwarring in haar stem het sy aangehou en gesê haar hart hou net aan klop en klop, en sy het besluit om bloot te wag totdat dit ophou. So het sy dan elke dag, die hele dag, elke week, gewag.

Die volgende week het ons teruggekom, en daar was Gladys, wat in haar bed gelê het, byna presies soos sy was die eerste keer toe ons haar ontmoet het. Ek sê jou, dit het gelyk asof sy nie ’n duim beweeg het sedert die laaste keer toe ons haar gesien het nie. Haar hande was oor haar bors gevou bo-op die laken en kombers, haar vel dun soos nat papier, en haar oë was toe. Ek het sag met haar gepraat, net ’n bietjie harder as ’n fluistering, en gevra of sy wakker was. Met haar oë steeds toe, het sy gesê: “Ja.” Ek het vir haar gesê dit is ’n pragtige dag, dit is warm, en die blomme blom oral—en toe het ek haar gevra hoekom haar oë toe is. Sy het gesê sy is moeg daarvoor om na die lug en die blomme en die bome te kyk, moeg daarvoor om na mure en mense te kyk, en dat sy eenvoudig nie meer enigiets daarvan wil sien nie. Sy het daarop aangedring dat sy steeds wag om te sterf.

Ongeveer ’n maand later het Gladys inderdaad gesterf. Sy het gesterf omdat sy ingegee het—sy wou só graag nie meer hier wees nie dat haar liggaam eenvoudig opgegee het. Dit het haar meer as twee jaar geneem om haarself tot die dood te dryf, maar dit het gelyk asof sy uiteindelik haar doel bereik het.

Ongelukkig het ons later uitgevind dat iemand twee jaar tevore aan Gladys geprofeteer het dat sy net nog ’n paar jaar oor het en dat God haar huis toe sou neem. In die lig van daardie dwase en wrede profesie—gerig aan ’n gesonde vrou met kinders en kleinkinders—het Gladys besluit dat, as dit dan só moes wees, sy maar net sou gaan lê en wag. Sy het vir meer as twee jaar gewag, elke dag ’n bietjie meer ingegee, totdat sy op ’n dag inderdaad die land van die lewendes verlaat het.

Gladys was ’n goeie voorbeeld van wat met ons gebeur wanneer ons ophou volhard in die Here, in die lewe, liefde, goedheid, hoop, vrede, of enige ander goeie ding wat God in ons lewens gesaai het. Nadat ek Gladys ontmoet het, het ek besef dit is waar: enigeen van ons kan, as ons dit toelaat, só hartseer word, só berus daarin om op te hou asemhaal, dat ons uiteindelik ophou. Maar God het ’n ander plan. Ná daardie verskriklike verhaal verkies ek veel eerder ’n “positiewe perspektief van volharding.” Daardie frase het ’n mooi ritme, nè? “Positiewe perspektief van volharding.”

Volharding—wat is dit? Hier is ’n deel van wat ek tot dusver daaroor verstaan: dit is die vermoë om aan te hou doen wat reg is, ongeag hoe jy voel. Met ander woorde, ons druk deur selfs wanneer ons voel ons wil ophou, selfs wanneer ons dink ons het goeie rede om op te hou. As God nie gesê het jy moet ophou met wat jy doen nie, dan staan ons op ons pos, soos die soldate wat ons is. Om vas te staan tot die einde is nie ’n manier om gered te word nie, maar dit is die bewys dat ’n mens werklik aan Jesus toegewy is. Weereens: volharding is nie ’n middel om verlossing te verdien nie; dit is die neweproduk van ’n lewe wat opreg toegewy is.

Joyce Meyer het gesê: “Gewoonlik moet ek die regte ding doen, met die regte gesindheid, vir ’n lang tyd voordat ek begin om die regte resultate te sien—dít is volharding.” Ek glo sy was reg. In my eie ervaring, al is dit beperk, het ek ook besef dat ek mense dikwels vir ’n lang tyd reg moet behandel voordat hulle my op dieselfde manier begin behandel. Nie altyd nie, maar oor die algemeen, die meeste van die tyd. Die sleutelwoorde hier is: volhard daarin om mense reg te behandel.

Dit beteken dat selfs wanneer hulle ons nie goed behandel nie, ons niemand met ‘kwaad met kwaad’ moet vergeld nie, maar doelbewus kies om te doen wat eerbaar is in die oë van almal. Beskou dit as ’n daad van goedhartigheid. Beskou dit as ’n vorm daarvan om jou brood met die armes te deel, soos in Jesaja 58:7. Net soos God goed is vir ons en volhard om ons lief te hê, moet ons soos Hy wees.

Net soos natuurlike saad uiteindelik wortel skiet en die begin van ’n plant deur die grond breek, sal ons ook deurbrake sien as ons aanhou om die regte ding te doen—ongeag wat ander doen. Weereens, die woorde wat bly vassit, is: “hou aan om die regte ding te doen”—volhard.

Net ’n terloopse vraag: wat is jou idee van ’n “deurbraak”? Wees eerlik— absoluut eerlik. Mense gee dikwels heeltemal te maklik op. Wanneer hul gevoelens hulle in die steek laat, gee hulle self ook op. Daar is iets wat ek noem “die gees van Eeyore”, wat presies klink soos Eeyore uit Winnie the Pooh. Eeyore se houding sê: “Wat maak dit saak? Niemand gee tog om nie.” Of: “Dis reg so. Ek sal leer om daarsonder te leef.” Of: “Natuurlik. Ek kan maar net sowel huis toe gaan.” Of: “Nee wat, ek het net eensaam geraak omdat ek so gewild is. Ek het gedink dis beter om maar die vervelige ou ek te wees as om iets te probeer wees wat ek nie is nie. Ek hoop jy’s nie te teleurgesteld nie.”

Wanneer ons opgee, of ophou volhard, is wanhoop en moedeloosheid net ’n asem weg. Laat ek ons almal bemoedig: as jy onder druk voel om op te gee en jou rug te draai teen jou vriende, of selfs teen Christus—moet dit nie doen nie.

Onthou die voordele van vasstaan, en hou aan leef vir Christus. Volhard.

Matteus 10:22 sê: “En julle sal deur almal gehaat word deur My Naam te verheerlik; maar wie tot die einde volhard, sal gered word.” Jy kan ook kyk na Lukas 18:1-8, Jakobus 1:12 en Romeine 5:3-4. God praat baie oor deursettingsvermoë en volharding.

Volharding beteken om aan te hou, en dit beteken nie om net aan te hou om gered te word of om net te kry wat ons wil hê nie. Dit beteken om vol te hou in ons strewe om Jesus vas te gryp, ons Lewe, die Liefhebber van ons siele. Hy alleen is die bron en fokus van ons volharding! Ten volle. Sulke volharding eer God se soewereiniteit en verander die een wat wag. Volharding vervang trots—of die gedagte: “Ek verdien nou ’n antwoord”—verdiep ons desperate hunkering na God self, eerder as net om van God te kry wat ons wil hê, en vorm karakter wat die uiteindelike seën kan dra sonder om daardeur gekniehalter te word.

Net omdat ons opgee, beteken nie dat ons ’n mislukking is nie. Nee. Dit mag vir ons lyk of ons misluk het, maar dit is net mislukking soos ons dit meet. God sien dit nie so nie. Daar is ’n tyd om vasberade aan te hou, net soos daar ’n tyd is om los te laat en jou voete in ’n ander rigting te draai.

Verskeie jare gelede het twee ander mans en ek ’n mannevergadering gehad wat ons die “20/20 Mannegroep” genoem het. Ons het vir ’n jaar volhard, en aan die einde van daardie jaar het ons gevoel die Here wys ons om ons pogings te heroorweeg. In ons gebed en herbeoordeling het ons dit so ervaar dat die Here ons aanmoedig om ons vergaderings te staak. Eerlik gesê, ek wou nie regtig nie, want ek het van die idee van die “20/20 Mannegroep” gehou, maar ek weet ook dit is beter om die Here te volg as om aan iets vas te hou waarvan Hy reeds weggegaan het. So, ons het dit gestaak, en dit het bewys dat dit die regte ding was. Maak dit van ons ‘n mislukking? Absoluut nie. Wanneer om op te hou om iets na te streef, is ’n goeie vraag, want daar is inderdaad tye om ’n rigting te verander wat ons voorheen as die wil van die Here geken het. As God van rigting verander, moet ons saam met God beweeg, en nie koppig vasbyt aan ’n ou paradigma nie.

Greg Herrick het geskryf: “Koppige geloof is nie dieselfde as volhardende liefde nie.” Net omdat iemand se ou-ou-ouers kerk gehou het soos hulle dit gedoen het, as God vra dat ons ons manier van doen verander, vir die Hemel seën, verander net. Toe die ou-ou-ouers die kerk begin het, was dit ’n wonderlike idee. Maar mense het verander, kultuur het verander, ideale het verander, en ons moet nie so koppig wees dat ons nie kan verander wanneer God alreeds ’n nuwe pad ingeslaan het nie. As ons nie wil verander nie, kan wat eens ’n groot seën was maklik ’n beperking word wat so versmorend is dat ons skaars kan asemhaal. Die evangelieboodskap bly natuurlik dieselfde, maar hoe ons dit uitleef, kan lei daartoe dat die Here ons na ’n hoër plek roep. As ons saam met die Here beweeg, sal ons nie net groei nie, maar ook floreer. Volhard in die strewe na Jesus, nie in ’n paradigma wat jy net hou nie, of met metodes waarmee jy gemaklik is, of ’n melancholiese idee van “soos ons dit vroeër gedoen het nie.” Ek glo die frase “Ons het dit nog nooit so gedoen nie” het baie bedienings keer op keer daarvan weerhou om te bly floreer.

Hier is ’n interessante voorbeeld van volharding en verandering: Het jy al ooit van ’n maatskappy genaamd “Traf-O-Data” gehoor? Nee? Ek ook nie destyds nie. Maar hoe lyk dit met Microsoft? O ja, daar het ons almal al van gehoor. Soos dit uitwerk, is albei maatskappye deur Bill Gates en Paul Allen begin. Traf-O-Data was die eerste maatskappy wat hulle in 1972 begin het. Gates en Allen het dit vir ’n paar jaar bestuur voordat hulle opgegee het. Hulle het hul oorspronklike idee laat vaar. Maar as hulle nie opgegee het by Traf-O-Data nie, sou daar dalk nooit Microsoft gewees het nie. En ek moet sê, hulle het baie beter gevaar met Microsoft as met hul oorspronklike idee.

Hoe weet ons dus wanneer om deur te druk en wanneer om los te laat en God se leiding na ’n nuwe ding te volg? Hier is ’n paar vrae om te help met die heroorweging van aksies: Is jou plan nog steeds reg? En hoe kan jy dit weet? Ons moet eerlik wees daaroor. As dit nie reg is nie, pas die plan aan. Wag op God om dit te bevestig, en ja, die Here bevestig sy Woord onwrikbaar. Is jou doel nog steeds reg? Wat is jou bewyse? Wees eerlik. As dit nie reg is nie, pas jou doel aan of laat dit vaar. Daar is geen eer daarin om aan iets vas te hou as God reeds ’n nuwe pad ingeslaan het nie. Luister goed hier: volharding is nie koppigheid nie.

Ek is my eie beste voorbeeld van koppigheid, iets wat ek dikwels met volharding verwar het. Om dinge te laat vaar, was moeilik vir my. Ek het altyd geglo dat ons nooit moet opgee nie, wanneer ek op iets besluit het, ek dit tot die bitter einde moes vashou. Ek het gedink die enigste ding wat erger is as om te sterf, is om op te gee. Jy weet, die ou gesegde van die kaptein wat saam met die skip moet ondergaan, ensovoorts. Ek het dikwels gevoel ek is ’n mislukking as ek opgegee het en my projek nie nog stywer vasgegryp het in ’n poging om dit “te laat werk” nie, om dit uit te knyp totdat dit werk. Dit was vir my moeilik om die verskil tussen volharding en koppigheid te leer. Weereens, as God van rigting verander, moet ons saam met God beweeg, en nie koppig vasbyt aan ’n ou paradigma nie.

Romeine 14:19 sê:
“Laat ons dan die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is.”

Volhard daarin om vas te hou aan dit wat vrede bring en die liggaam van Christus opbou. Dit is baie duidelik en reguit.

Kolossense 1:23 sê:
“as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afdwaal van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het.”

Ons moet volhard in ons geloof, volhard om gevestig en standvastig te wees, en nie beweeg te word van die hoop wat vir ons in die evangelie gehou word nie.

1 Korintiërs 14:1 sê:
“Hardloop agter liefde aan en wees ywerig vir die gawes van die Gees, maar veral om te profeteer.”

Streef na liefde en begeer die gawes van die Gees, maar veral die gawes waarmee julle kan profeteer. Volhard in die strewe na Jesus, nie net in wat gemaklik of gewoond is nie, maar in alles wat Hom eer en verheerlik.

Dit beteken duidelik dat ons moet volhard totdat ons die liefde begryp — dat ons moet aanhou streef na die geestelike gawes wat God vir ons het, veral profesie. En moenie dat die woord “profesie” jou afskrik nie. Ek dink ons haak baie keer vas by ’n enkele woord en mis dan die werklike inhoud. Dit gaan nie daaroor om vreemde of onbybelse leerstellings te aanvaar nie. Wat ek eenvoudig sê, is: moenie vaskyk teen ’n woord soos “profesie” net omdat dit buite jou verwysingsraamwerk val nie. Volhard om te verstaan wat God bedoel. En net omdat sommige mense dit verkeerd hanteer het, beteken dit nie, dat dit nie ’n geldige gawe van die Here is nie.

Volhard om in die waarheid te wandel — nie net die feite nie, maar die waarheid. Waarheid en feite is nie altyd dieselfde nie, jy weet. Onthou ook, daar is ’n balans in volharding. 1 Johannes 5:18 sê: “Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie aanhou sondig nie.” Vriende, dit is nie noodwendig daardie een koekie wat ons oorgewig maak nie, maar die leefstyl van koekies waarin ons volhard. Dit is nie outomaties die een of twee verkeerde dinge wat ons doen wat ons verontreinig nie, maar die leefstyl van verkeerdheid waarin ons aanhou leef. Dit is nie soseer die enkele leuen hier en daar wat ons in die moeilikheid bring nie, maar die patroon van leuens wat soveel hartseer veroorsaak.

Die sleutelwoord vir vandag in 1 Johannes 5:18 is “aanhou” of “volhard”. Soos 1 Johannes 3:6 ook sê: “Elkeen wat in Hom bly, hou nie aan om te sondig nie. Elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien of geken nie.” Daardie Skrifgedeelte praat nie van ’n enkele daad nie, maar van ’n leefstyl. Dit is ons gedrag en gewoontes wat wys of ons Jesus werklik ken of nie. Onthou: Daar is balans in ons volharding, en volharding is nie dieselfde as koppigheid nie. En om op te volhard in iets beteken nie iemand is ’n mislukking nie. Dink net,  hoe sien God die situasie? Volhard en vind uit. As jy Hom vra, belowe ek, Hy sal antwoord — op Sy tyd. O ja, Hy sal.

Ek het êrens gelees dat die waarde van volharding nie daarin lê om hardkoppig aan die verlede vas te klou nie. Dit kom uit ’n visie van die toekoms wat só oortuigend is dat jy enigiets sal gee om dit werklikheid te sien word. Hierdie lewe is werklik. God is werklik en Hy leef. Ek glo regtig dat volharding in ons dade voorspruit uit volharding in ons visie. Laat ek ons almal aanmoedig om God te soek vir ons visie en ons drome. Dit is nog nie verby nie, en ek het nog nie die klok hoor lui nie — so kom ons sit ons skouer aan die wiel en volhard in ons strewe na Jesus.

Volharding stel jou in staat om aan te hou optree selfs wanneer jy nie gemotiveerd voel nie. Volgens vroeë Christelike skrywers is daar twee deugde wat met moed verband hou: geduld en volharding. Geduld is om swaarkry of gevaar te verduur sonder om moedeloos te word. Volharding is om aan te hou ten spyte van swaarkry of gevaar. As daar ware moed in ons is, dan is geloof en hoop ook daar. En waar geloof en hoop is, is geduld en volharding naby. Volhard in gebed, volhard en hou uit deur beproewings, en volhard in geloof en gehoorsaamheid. Deur Christus sal ons volhardend, met uithouvermoë en standvastig wees.

In Lukas 5:17–20 was Jesus besig om in ’n huis die mense te leer. ’n Paar mans het ’n verlamde man tot op die dak gedra. Daar het hulle die dak oopgemaak en die man laat afsak in die vertrek sodat Jesus hom kon genees. Daardie mans was ongelooflik waaghalsig! En jy kan net dink hoe deurmekaar dit waarskynlik was, met stof en stukke van die dak wat op die mense hieronder geval het. Ek kan wed dat mense gekla het, dalk selfs geskree het dat hulle moet ophou — maar tog het hulle volhard, omdat hulle hoop gehad het dat iets sou verander. Hulle het ’n visie gehad van ’n beter toekoms vir hul vriend.

Laat ons dieselfde bereidheid hê om namens ons naaste te volhard.

Ek is Social Porter, en dit is gebring aan u deur Living In His Name Ministries, Area 22 Guitars, Cannie Ledbetter by Oakdale Cemetery, Skyland Battery and Ignition, Mnr. Jack Johnson by Johnson’s Gulf Service, Elmo en Mary Hogan, en Trinity Bakers, waar daar altyd iets lekkers in die oond is.

Wees volhardend hierdie week. Streef voort na die doel om die prys te wen waarvoor God ons in Christus Jesus hemel toe geroep het. Volhard! Volhard! Volhard! Wees in vrede, en laat Jesus jou rus en troos wees. Tot ons weer ontmoet, Amen.

Vertaal deur Chané de Clercq

OP 97 Wonde Verg Genesing, En Genesing Neem Tyd

Sommige wonde genees redelik vinnig, maar daar is wonde van die hart en siel wat tyd, selfondersoek, insig en begrip verg om te genees. Wanneer ’n vriend onverwags lelik of wreed optree, of wanneer jy met ’n pynlike verraad agtergelaat word, laat dit ’n kneusing op die hart wat nie maklik verdwyn nie. Ek weet nie van jou nie, maar in my eie lewe is daar dinge gesê en gedoen wat daardie seer en kneusplekke soms baie moeilik maak om agter te laat. Wanneer iemand—veral ’n vriend van baie jare—jou herhaaldelik bespot en verkleineer, is dit soms moeilik om verby hulle geprojekteerde morele meerderwaardigheid te kom. Baie mense dra daardie kneusplekke saam tot in die graf, terwyl hulle hul gewonde harte versorg, soms vir jare. Later in die lewe, kom dit na vore as bitterheid, ’n gebrek aan vertroue, ongeloof, of selfs, in sommige gevalle, depressie, isolasie en woede. Hoe hanteer ons sulke dinge?

Ek ken een of twee traumaverpleegkundiges wat in die noodafdeling van die plaaslike hospitaal gewerk het, en hulle sal vir enigiemand wat met fisiese wonde te doen het, sê dat die genesingsproses—selfs vir liggaamlike wonde—sorg, tyd en aandag verg.

Wonde verg genesing, en genesing neem tyd. Wonde het die regte soort salf nodig, die regte soort verband, dalk selfs ’n bietjie chirurgie. En ek wil sê dat Dokter Jesus die universele kenner is wanneer dit kom by die hantering van wonde van die hart, verstand en liggaam. Ons het God se genesende salf en krag nodig soos nog nooit tevore nie.

In 1759 het Joseph Hart ’n lied geskryf wat die toets van tyd deurstaan het. Selfs vandag spreek dit tot dié wat gewond is en genesing nodig het—verby ’n dokter alleen, het hulle God se genesende aandag nodig. (Neem in ag dat hierdie lied oorspronklik in engels geskryf is.)

Die woorde lui:
“Kom, julle sondaars, arm en behoeftig,
Swak en gewond, siek en seer;
Jesus staan gereed om julle te red,
Vol medelye, liefde en krag.
Kom, julle moeës, swaar belaai,
Verlore en verwoes deur die val;
As julle wag totdat julle beter is,
Sal julle nooit kom nie.
Ek sal opstaan en na Jesus gaan,
Hy sal my in Sy arms omhels;
In die arms van my dierbare Verlosser,
O, daar is tienduisend sjarme—
ja, daar is tienduisend sjarme.”

As ’n voorbeeld, kom ons neem die oorwinning oor egskeiding, aangesien dit in ons land waarskynlik een van die mees algemene, maar ook mees vernietigende voorbeelde is van ’n wond wat genesing nodig het.

Kom ons vra eerlik: Kom ’n mens ooit regtig oor egskeiding? Ek glo dit voel soos ’n lewende dood. In ’n uitstekende boek met die titel: Beyond Betrayal deur Jerry Price, verduidelik hy dat wanneer iemand sterf, dit goeie nag is, nie totsiens nie—die geliefde is van die liggaam geskei. Maar wanneer ’n verhouding breek, is dit asof die persoon gesterf het, al leef hy of sy nog. Die persoon is nie weg nie, maar die verhouding is dood, en daarom is die seer en rou nog dieper. Daar is ’n gevoel van afstand en vervreemding, omdat die ander persoon steeds lewe, al is die band tussen julle gebreek. In hierdie geval is dit nie net totsiens nie, maar ook goeie nag. Daar bly ’n wond wat baie moeilik is om te genees—indien dit ooit heeltemal genees. En ek is oortuig daarvan dat, as God nie deel is van ons genesing nie, ons harte nie werklik heel sal word op ’n manier wat gesondheid, lewe en groei bevorder nie.

Psalm 34:18: “Die Here is naby dié wat ’n gebroke hart het…”

Wanneer die meeste mense fisies gewond word, stroom bloed na die wond toe. Bloedplaatjies bind aan mekaar om ’n ‘prop’ te vorm—’n stolling—met die doel om die bloeding te stop. Mettertyd het ek geleer dat rou soms nutteloos kan voel, maar tog is dit op een of ander manier nodig om deur die hartseer in ons lewens te beweeg. Ek glo dit werk op dieselfde manier wanneer ons emosioneel of geestelik gewond is. Die Here stuur mense—vriende en familie—om goedhartig teenoor ons te wees, om hoop en bemoediging te spreek. Hulle “bind saam”, soos bloedplaatjies, en doen alles wat hulle kan om die emosionele bloeding te help stop. Wanneer ’n geliefde sterf, sien ons dikwels hoe familie bymekaarkom en mekaar vertroos. Dit lyk soos ’n vorm van stolling—’n eerste stap om die genesing van ’n gebroke hart of verstand te begin. As jy al ooit gerou of diep seergemaak is, het jy sekerlik opgemerk hoe die Here dit op ander se harte lê om aan jou te dink. Hy stuur hulle om jou te vertroos in jou tyd van hartseer. Hulle kom saam, bind aan mekaar, en so begin die wond stadig genees. Dit is die begin van God se genesingsproses.

Wanneer ons harte en gedagtes gewond is, benodig die wonde van die hart tyd om te verwerk wat met ons gebeur het, nadat die metaforiese bloeding stadiger geword het. Spreuke 4:26: “Let op die pad van jou voete, en laat al jou weë gevestig word.” Die woord “let op” in Spreuke 4:26 beteken om iets “in jou gedagtes te oordink, totdat jy tot ’n gevolgtrekking kom.” Ons liggame reageer op ’n soortgelyke manier. ’n Oorsig van wat gebeur het word gemaak, en ’n plan van aksie om die fisiese wond te genees, word bepaal.

Ek het nog ’n waarneming: mense—en waarskynlik die meeste lewende dinge—neig om terug te trek wanneer hulle gewond is. Hulle soek veiligheid. Ek noem dit ’n tyd van saamtrek, ’n selfverdedigingsmeganisme wat die Here in ons ingebou het. Hierdie terugtrekking kan gesien word in fisiese, emosionele en selfs geestelike wonde, of dit nou werklik of verbeel is. Ongelukkig is dit maklik, sodra ons eers teruggetrek het, om net ’n slagoffer te word—net soos die duisternis wil hê ons moet wees. Ons herleef die oomblik toe ons diep seergemaak is, en so bly ons teruggetrek, en glo dat as ons net wegbly, ons nie weer seergemaak sal word nie. Maar om as slagoffer te leef, los nie die pyn of konflik op nie; dit rek dit net uit. Ek ken iemand wat die hele dag sal sê hy is ’n introvert. Ek glo dit nie heeltemal nie. Ek dink hy is ’n gewonde siel wat teruggetrek het en homself as ’n “introvert” her etiketteer sodat, hy beter oor alles kan voel.

Net so, in ons liggame, nadat ons fisies gewond is, herorganiseer die selle hulself, en vir ’n tyd begin die wond letterlik saamtrek—die oppervlak word kleiner. Enigeen wat al ’n kraap op die knie gehad het, sal dit kan verstaan: nadat die bloeding gestop het en ’n roof gevorm het, het die wond saamgetrek en het dit styf gevoel. Dit is ook baie waarskynlik dat ons ’n sagte salf moes aanbring om die geslote wond meer elasties te maak, sodat dit ons beweging nie te veel sou belemmer nie. Ons harte en gedagtes werk op ’n soortgelyke manier. God plaas genesende salf op ons wonde om littekens te verminder en om die hartwond elasties te hou, sodat dit kan beweeg en genees sonder om te verstyf.

Jesaja 1:6: “Van die voetsool tot die kruin van jou kop is daar geen gesondheid nie—net wonde, kneusplekke en oop wonde, nie gesuiwer, verband of met olie vertroos nie.” Wonde verg genesing, en genesing neem tyd.

Die Here het ’n proses om ons harte te genees na die wonde van verraad, en interessant genoeg, is dit dieselfde proses wat Hy vir ons liggame ontwerp het. Die Here is absoluut briljant!

In wysheid neem ons liggame, weer volgens Sy ontwerp, ’n oorsig van die getraumatiseerde stelsels en begin die Here se genesingsproses volg. Volg ons nie dieselfde prosesse ook geestelik en verstandelik nie? Ek glo ons kan God se genesingsproses sien net deur te kyk na die stelsels van genesing wat Hy, in Sy wysheid, in ons liggame ingebou het. Ja, ek weet ek het dit al vroeër genoem, maar ek glo dit is so belangrik dat ons God se wysheid verstaan.

As ’n kantnota:  genesing neem tyd, tensy die Here ingryp en ons onmiddellik in orde bring… en Hy doen dit inderdaad. Lukas 4:40: “Toe die son ondergaan, het die mense al die siekes na Jesus gebring, en Hy het op elkeen Sy hande gelê en hulle genees.” Party sou sê: “Wel, dit was toe, en dit is nou.” Maar ek het persoonlik soortgelyke voorvalle gesien waar God direk ingryp. Wanneer die Here nie onmiddellik genees nie, gaan ons emosionele en geestelike wonde deur ’n ander proses. Wat deur trauma in wanorde gebring is, begin weer organiseer, herskep, verbind en in lyn gebring word. Die probleem ontstaan egter wanneer ons hardkoppig weier om die wonde te laat genees. Ons ontken God se genesingsproses en bly net die herinnering aan seer en verraad herleef—huilend en jammer. Dit is soos ’n fisiese wond wat probeer genees, maar ons hou aan om die roof af te pluk en aan die wond te krap. Vriende, ons moet die Here toelaat om Sy werk te doen en ons na Sy genesingsplek te bring. Dit verg eenvoudig tyd.

Wonde verg genesing, en genesing neem tyd. Terwyl ons deur die genesingsproses gaan, moet ons dikwels wag, en wag is so ’n moeilike ding. Ek het dit al vroeër gesê, maar hier is dit weer: hoe lank ons ook al in hierdie lewe moet wag, sou ’n mens dink ons sou beter daarin word. Wanneer ons op die Here moet wag om genesing aan ons gewonde harte te bring, hoor ek dikwels mense sê hulle voel verlate of vergete. O, dit is nie waar nie. Julle is nie in ballingskap nie. Ons is alleen saam met die Here sodat ons herorganiseer en herfokus kan word, sodat Hy persoonlik vir ons seer en kneusplekke kan sorg.

As jy in ’n leiersposisie is en in sonde verstrik geraak het, wil ek hê jy moet weet: ek wil nie hê jy moet weggaan nie. Ek wil net hê jy moet vir ’n tyd sit en rus. Nie omdat jy sleg is nie, maar sodat die Here die kneusplekke van jou hart en gewete kan genees. Party mense wil dalk hê jy moet heeltemal weggaan, maar dit is nie altyd die beste ding nie. Ons hoef nie die gewondes te verwerp of dood te maak nie; ons moet hulle naby hou sodat ons kan help om oor die wonde van hul hart en siel te kom. Galasiërs 6:1: “Broeders, as iemand in sonde betrap word, moet julle wat geestelik is, hom sagmoedig reghelp. Maar pas op vir julleself, sodat julle nie ook versoek word nie.”

Wanneer die Here ons na Sy genesingsplek neem, is dit nie ballingskap nie… dit is om alleen by die Here te wees. Ek verstaan dat dit soos ballingskap kan voel, en dit is moeilik om die gevoelens van alleenheid te dra, maak nie saak hoe breed ons skouers is of hoe sterk ons harte is nie… maar laat ons onthou, dit is net gevoelens.

In Sy barmhartigheid neem God ons na Sy genesingsplek, want alles wat gewond is, vat tyd om te genees. Ontgifting van die wêreld, sonde, en die afwykings van die kerk neem eenvoudig tyd… dit is wysheid, en dit is duidelik tot ons voordeel om saam met God na Sy rusplek te gaan. Johannes, wat die Evangelie van Johannes geskryf het, asook 1, 2 en 3 Johannes en die Openbaring, was die slagoffer van Romeinse vervolging en ’n balling op Patmos. Dit mag lyk asof dit ’n verskriklike ding vir Johannes was om in ballingskap geplaas te word, maar dit blyk ook dat God Johannes se lewe bewaar het deur hom na Homself toe te neem.

Kom ons vra die Here: Psalm 51:12: “Herstel vir my die vreugde van U redding en gee vir my ’n gewillige gees om my te ondersteun.” Herstel neem tyd. Wees geduldig en laat die Here doen wat Hy so goed kan doen. Vriende, God weet presies waar ons is… Hy neem ons uit om ons in te bring, Hy bring ons af om ons op te hef. Die idee is om “saam met God te gaan”, nie om “te kry wat jy wil hê” nie. Met God is dit ’n goeie idee; sonder God, ’n slegte idee.

Dit is waar, die tyd wat dit neem om genees te word, het in die oomblik hol ure, en dit voel soms of die wag te lank is. Maar selfs daar is dit weer wysheid om te onthou dat ons God nie hard of wreed is nie. Wees vol vertroue: Hy het ons lief, en alles wat Hy doen en wil doen is altyd vir ons welstand. Onthou, Jesus het gesê in Lukas 11:10-12: “Want elkeen wat vra, ontvang; en die een wat soek, vind; en vir die een wat klop, sal oopgemaak word. Watter vader onder julle, as sy seun hom ’n vis vra, sal hom in plaas van ’n vis ’n slang gee? Of as hy vir hom ’n eier vra, sal hy vir hom ’n skerpioen gee?” As ons na Hom soek, sal Hy ons vind, maar ons moet genoeg belangstelling hê om die Here regtig na te streef.

Uit my eie ervaring het ek geleer dat, selfs in die hol ure van wag, ek alleen saam met God was, en dat Hy my wys, my wonde is toegedraai en my hart en verstand het genees.

Jesaja 30:26: “… die Here verbind die kneusplek van Sy volk en genees die seer van hulle wonde.”

As jy gewond is, skandelik ontbloot, of mislei en bedrieg is; as jy siek en seer is, weet dat Jesus gereed staan, met hande vol medelye, liefde en krag. As jy moeg is, swaar belaai, teleurgestel en verwoes deur die hartseer en trauma van die lewe, weet Jesus presies wat om te doen. Selfs voordat jy by die plek gekom het waar jy nie nog seer kon hanteer nie—uitgeput van die gebrek aan water in die hitte van die dag, moeg van die stryd… voordat jy daar was waar jy nou is, het God al daar vir jou gewag. Hy het geweet wat Hy gaan doen, selfs voordat jy ooit getraumatiseer is. Die salf en die pleister was reeds gereed, die operasiekamer voorberei—Hy wag net dat jy Sy Naam vir hulp aanroep. Staan op en gaan na Jesus; Hy is werklik die enigste een wat enige van ons kan help. Dokter Jesus weet presies watter “medikasie” nodig is om jou te genees—hart, liggaam en gees.

Ek glo ons leef in die dae van Eksodus 32 en 1 Konings 12:28, wat ek die dae van die “goue kalf” noem—die dae van verraad, bedrog en landverraad. Ons leef in wat ek die “Judas-dae” noem, wanneer gelowiges besluit dat Jesus nie die Here en God is nie en terugtrek van hul verbond met God. Dit is die tyd van verkeerde keuses en verkwisting. Alles wat mislei, teleurstel of mense se harte seermaak, en wat die vyand gebruik om ons moed te breek—dit is wat hierdie dae kenmerk. Moet asseblief nie moed verloor nie, my familie. Staan op, selfs al is julle moeg. Lig julle bewende arms en roep die Naam van Jesus aan. God sal selfs die berge laat bewe om julle gekneusde en gewonde harte te genees.

Laat die Here jou gewete, jou hart, jou verstand en jou liggaam genees. Hy staan—Hy sit nie—maar staan gereed om te help. Wonde verg genesing, en genesing neem tyd. Vriende, laat asseblief God se proses in julle lewe werk. Dink daaroor.

Miga 1:3: “Kyk, die Here kom uit Sy plek; Hy sal afkom en op die hoë plekke van die aarde trap.”
Jesaja 35:3-4: “Lig die swak hande op en versterk die knieë wat weggee; sê vir hulle met vreesvolle harte: Wees sterk, moenie vrees nie; julle God kom, Hy sal kom met wraak; met goddelike vergelding sal Hy kom om julle te red.”

Galasiërs 6:9-10: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons oes as ons nie moed verloor nie. Laat ons dus, terwyl ons die kans het, goed doen aan almal, veral aan die lede van die geloofshuis.”

Deel jou brood met die mense rondom jou. Laat ons saam met die Here werk aan versoening. Jy weet, in 2 Korintiërs 5:18-19 sê Paulus dat God ons met Homself versoen het en dat Hy ons ook die taak gegee het om ander te help en by te staan om versoen te word.

’n Kant nota: as ons nie skaamte aanspreek nie, is herstel baie moeilik.

Wees sag met jouself as jy nie so vinnig genees soos jy dink jy behoort nie, of as omstandighede en seisoene nie vinnig genoeg verander nie. God se genesingsproses is deeglik en regverdig. Wonde verg genesing, en genesing neem tyd.

Wees sterk en moedig hierdie week, gaan in vrede, en laat die Here se genesingsproses werk presies soos Hy dit bedoel het. Gaan saam met God en wees bly, want Jesus ken jou naam—daar is niks meer troostend of bemoedigend as dit nie. Amen.

Vertaal deur Chané de Clercq

 

133 – Ek Sal, en die Rede Waarom

Toe ek ’n seun was, het ek meer as ’n paar keer in frustrasie my Pa hoor sê: “Seun, ek sê jou, wanneer ek eendag in die hemel kom, het ek ’n paar vrae vir God. My hele lewe het ek net gehoor wat Hy kon doen maar nie wou doen nie, dalk sou doen maar nie gedoen het nie… en Hy verduidelik nooit enigiets nie.” Al het my Pa nooit kerk toe gegaan nie, nooit sy Bybel gelees nie, nooit enige byeenkomste oor die Here bygewoon nie, en ook nie boeke oor Hom gelees nie, het hy voortdurend teleurgesteld en verbitterd gelyk oor alles wat met God te doen het. Ek het grootgeword met geen kennis van die Koninkryk van God nie, behalwe dat om met die Koning van die konings te bemoei ’n mors van tyd was — tensy jy gefrustreerd en teleurgesteld wou wees. Kerke het vir my gelyk soos reëls op reëls wat niemand kon nakom nie, of selfs wou nakom nie, net om ’n verhouding te probeer hê met Iemand wat onmoontlik was om te ken of te verstaan. Reël-nakoming bring ons nie in ’n verhouding met God nie — Hy is juis die Een wat die belangrikste is om te ken, in die hele heelal.

Weet jy, ek het Jesus persoonlik ontmoet — van naby, oog tot oog — en alles wat ek as kind oor God geleer het, is heeltemal onwaar. Heeltemal. Ek dink dat my pa deur sy hele lewe, die somtotaal van wat hy gehoor het, kan opsom in die volgende: “God gaan jou kry,” “pasop, seun, God sal jou straf,” en “jy is net ’n sondaar seun, en jy sal nooit enigiets meer wees as ’n arme niemand wat nie in die hemel inkom nie.”

Wel, ek lees my Bybel, ek gaan kerk toe, en ek lees ywerig boeke oor die Groot EK IS. Ek staan verstom oor al die beloftes van hoop, gesondheid, genesing, verbinding en verhoudingsverlossing wat die Here maak. Ek het nêrens ’n wêreld gevind van “sal nie”, “moenie”, “kan nie”, en “mag nie” soos baie reëlnakomers altyd gereed hou nie. Jesus, die Seun van God, het na ons toe gekom — in die vlees — en vir die eerste keer ooit oog tot oog met die mensdom gestaan. En in Johannes 16 alleen, gee Hy vir ons ’n lys van “Ek sal”, “Ek het”, en dan verduidelikings van “omdat”. Só, waar is die idee dat God nooit enigiets verduidelik nie — want Hy doen. Elke keer wanneer Jesus gesê het: “Ek sal”, “Ek het”, of “sodat julle kan hê”, skep dit ’n atmosfeer van moontlikheid en potensiaal vir ons om saam met die Here betrokke te wees en alles te besit wat God belowe. Die sleutelwoorde is “betrokke wees”, nie net reëls gehoorsaam nie. Onthou, dit gaan nie oor reëls om te onderhou nie, maar oor iemand om te wees. Wanneer Jesus “omdat” gesê het, het Hy bedoelings en handelinge verduidelik. God is geïnteresseerd in die gesprek, en Hy wíl hê ons moet verstaan — en dat ons dalk nie verstaan nie, beteken nie Sy verduideliking is onwerklik nie. Hou dit eenvoudig. Ek glo regtig dat ons baie van wat God gesê het en sê, heeltemal oordink en, probeer om dit na meer te laat klink as wat dit werklik bedoel. Jesus het by vier belangrike geleenthede “kan hê” gebruik: dat julle die lewe kan hê, dat julle die lewe in oorvloed kan hê, dat julle vrede kan hê, en dat julle vreugde kan hê. As ons dit nie kon besit nie, sou die Here nooit die toon van moontlikheid en potensiaal geskep het om ons te laat weet dat ons alles wat Hy sê, kan ken en daarin kan wandel nie.

Ons moet weet dat die Here binne die wonderlike grense van geregtigheid werk, aangesien Hy self die standaard en verpersoonliking van geregtigheid is en, Hy sal Homself nooit weerspreek, deur vir ons bose begeertes te gee nie. Jesus sê sommer reguit in Johannes 16:1: “Ek het hierdie dinge gespreek,” en dan verduidelik Hy dit met “omdat” of “om die rede”. Hy sê “Ek het hierdie dinge gespreek” in die sin van “let op”, “gee aandag”, en “hoor dit—moenie dit miskyk nie.” Hy erken in vers 25 dat dit waar is dat Hy in die verlede in raaiselagtige gelykenisse en metafore gepraat het, maar dan belowe Hy: “Van nou af gaan Ek openlik met julle praat.” Met ander woorde, Hy wíl hê ons moet regtig verstaan wat Hy sê, maar Hy wil ook hê ons moet genoeg belangstelling hê om Hom te soek sodat ons dit alles kan begryp—nie soos lui kinders wees wat wag dat die ouer net alles vir hulle moet sê, sonder dat hulle self ’n persoonlike belegging in hul kennis en welstand maak nie.

Toe ek jonk was, het ek soms my ma gevra na die betekenis van ’n woord. Sy sou antwoord: “Gaan kyk dit op.” Ek het gedink sy is onbehulpsaam, maar in haar wysheid het sy my aangemoedig om self aksie te neem en die antwoord te gaan soek, eerder as om op iemand anders staat te maak omdat ek te lui was.

In Johannes 16 sê Jesus “Ek sal”, “Ek het”, “Hy sal”, en “omdat”. Hy gee aan ons Sy persoonlike belofte wanneer Hy sê “Ek sal”, en met “Ek het” laat Hy ons weet wat reeds in werking gestel is. Hy belowe ons die Heilige Gees wat ons sal leer, en Hy sê nie “AS” die Heilige Gees kom nie, maar “wanneer” Hy kom, sal die Heilige Gees dit en dat doen. En… Jesus sê ook waarom, deur weer “omdat” te gebruik — wat beteken “om die rede”.

God is nie verplig om Homself aan enigiemand op enige tyd te verduidelik nie, maar Hy doen dit uit liefde, omdat Hy belangstel in ’n dialoog met ons en wil hê dat ons moet verstaan wat Hy sê. Hy praat inderdaad met mense, en Hy bied regtig gereeld verduidelikings aan. Is ons geïnteresseerd om te luister? Daar is wyer en dieper beloftes van “ja en amen” as wat die reëlhouer se ingesteldheid van “moenie dit doen nie” is, tog sien soveel mense God as die God van “kyk uit, wees versigtig, en moenie dit doen nie”, en dit is glad nie Sy hart nie. Natuurlik het God grense en waarsku ons teen potensiële probleme, maar ons self is dikwels diegene wat soos die wet op twee bene aan die wêreld rondom ons lyk omdat ons altyd praat oor wat ons nie mag doen nie, nie wil doen nie, en alles waarteen ons is. Wel, vriende, waarvoor is julle in die gees van regverdigheid, vir regte moraliteit of, vir Goddelike etiek? Wat gaan jy doen nadat jy glo dat Jesus die Here is? God se beloftes is meer as net ’n versekeringspolis.God het ’n hele wêreld van ongelooflike moontlikhede en potensiaal vir jou, maar jy moet genoeg in Hom belangstel om Sy goedheid teenoor jou na te streef.

Wat dink jy?

Vertaal deur Chané de Clercq

105 – 18 Dinge Wat Nooit Gebeur

Nooit. Net soos daar verskeie belangrike dinge is wat ons van die Here moet weet en wat altyd waar is, is daar ook verskeie belangrike dinge wat nooit gebeur nie—wat beteken:  op geen tydstip in die verlede of toekoms nie; by geen geleentheid nie; nooit ooit nie. “Nooit,” soos God die woord gebruik, is ’n absolute negatiewe.

Een van die eerste dinge wat nooit gebeur nie, is dat God nooit ’n mens is nie, en omgekeerd, mens is nooit God nie. Numeri 23:19: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, of ’n mens se kind dat Hy van gedagte sou verander nie. Het Hy dit gesê en sal Hy dit nie doen nie? Of het Hy gepraat en sal Hy dit nie vervul nie?” Ons mag probeer om die Here tot dieselfde vlak as onsself te verminder en dink dat die Here met dinge worstel soos ons dit doen, maar dit is net wat ons sou wou hê—dit is op geen manier waar nie. Hy is altyd God, en daar is nooit ’n tyd dat Hy dit nie is nie; ek is nooit God nie, en daar is nooit ’n tyd dat ek dit is nie.

Die Here God doen nooit sonde nie. Waar daar geen sonde is nie, is daar ook geen oortreding of ongeregtigheid nie. 1 Johannes 3:5 sê: “Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie.” Jesus het op geen manier tekort geskiet nie, het nie gemis nie, en daar sal nooit ’n plek wees waar die dood of sterflikheid in Hom vastrapplek kan kry nie.

God is nooit te laat nie, en solank as wat ons lewe, is dit nooit te laat nie. In Lukas 7 is daar ’n verhaal waarin Jesus presies op die regte tyd opdaag. Ek het ’n prediker hoor sê God is die “God van die laaste minuut,” wat impliseer dat die Here wag tot die allerlaaste oomblik om op te tree, maar dit is nie waar nie. Hy is altyd betyds, op die perfekte tyd, en nooit minder nie. ’n Moeder se seun het gesterf en is uitgesleep om begrawe te word. Die jong seun was duidelik al lankal dood, lank genoeg om vir die begrafnis voorberei te word, dus was dit nie net in die laaste minuut of twee dat hy opgehou asemhaal het nie. Nee, die seun was dood—regtig dood. Wat het Jesus gedoen? Hy het die moeder aangemoedig om nie bekommerd te wees nie, en Hy het die seun beveel om van sy doodsbed op te staan. Jesus was nie te laat nie; Hy was presies betyds. God is nie die God van die laaste minuut nie—Hy is altyd betyds, perfek, en nooit te laat nie.

Liefde faal nooit, en God faal nooit! 1 Johannes 4:8 sê: “Wie nie liefhet nie, ken God nie, want God is liefde,” en 1 Korintiërs 13 leer ons dat liefde nooit faal nie. Daarbenewens is God nooit jaloers of ’n opschepper nie, nooit arrogant of onbeskof nie. Hy is nooit prikkelbaar of wrokkig nie, en Hy is nooit, maar nooit bly as iemand verkeerd optree nie.

Die Here sal ons nooit verraai nie. Psalm 89:33 sê die Here: “… maar Ek sal nie van Hom my troue liefde wegneem of ontrou wees aan my getrouheid nie.” Dit is belangrik, want ons wil dikwels hê dat die Here skuld moet hê aan die dinge waaroor ons skuldig voel, maar Hy is nie so nie. God sal nooit afdaal om by ons ongeregtigheid aan te sluit sodat ons nie skuld hoef te voel nie; veel eerder behoort ons te streef om verhewe te word sodat ons kan ‘opstyg’ om by Hom in Sy geregtigheid aan te sluit. Alhoewel Jesus vlees geword het en ons sonde op Homself geneem het, het Hy geen sonde gehad nie, Hy het nooit gesondig of oortree nie, en geen van ons sonde kleef aan Hom dat Hy bevlek sou word nie.

God is nooit moeg nie, Hy raak nooit uitgeput nie en het nooit ’n middagslapie nodig nie. Jesaja 40:28 sê: “Het julle dit nie geweet nie? Het julle dit nie gehoor nie? Die HERE is die ewige God, die Skepper van die uithoeke van die aarde. Hy word nie moeg nie en Hy raak nie uitgeput nie; Sy insig is onnaspeurbaar.” En daardie laaste deel, “Sy insig is onnaspeurbaar,” beteken dat God se wysheid eindeloos is. Hy verstaan alles so volmaak dat daar geen einde aan Sy insig is nie. Die Here word nooit bedrieg nie, Hy laat Hom nooit manipuleer nie, en Hy word nooit oortref nie. Nooit.

Die Here sal jou nooit verlaat nie. Ons, wat gelowiges is, vertel mekaar dat Hy ons nooit sal verlaat nie, nie soos weeskinders verlate nie, maar weer eens, die besonderhede van ons lewens vertel dikwels ’n ander storie. Hoe dikwels probeer ons onsself oortuig teen God se beloftes? God lieg nooit nie, dus is dit waar: Hy sal jou nooit verlaat nie. Kom ons sny dus hierdie “wee my” houding uit, waarin ons een ding sê, maar wanneer ons iets verkeerd doen of ongepas optree, ophou optree asof: “Die Here het die vertrek verlaat. Jy weet, God kan nie waar sonde is wees nie, so Hy is nie by my nie.” Ai, wat ’n leuen, ’n absolute enorme leuen. As God nie waar sonde is kan wees nie, hoe kon Hy dan by jou gewees het toe jy gered is? Vergewe my dat ek so ’n kragtige woord gebruik, maar dit is die waarheid: dit is net dom en val net ons eie houding van selfbevestiging in die strik: “As ek God was, sou ek ook nie van myself gehou het nie.” Wel … gelukkig is jy nie God nie, want Hy is nie só nie.

God mors nooit, nie een klein stukkie, van alles wat ons deurmaak nie. Daar is geen oortollige woorde in die Bybel nie, en daar is ook geen oortollige mense in die Hemel nie. Onthou Romeine 8:28: “En ons weet dat alles meewerk tot die goeie vir hulle wat God liefhet, wat volgens Sy doel geroep is.” Dit is geen speletjie nie; die Here praat nooit ligsinnig of sê dinge wat Hy nie bedoel nie.

Laastens, God sal nooit sterf of vervaag nie. Hy is ewig, sonder einde. Psalm 90:2 sê die Here is “van ewig tot ewig is U God.” Hy kom uit die ewigheid en strek in die ewigheid in. God het nooit aansoek gedoen by ’n etiese komitee, ’n korporasie of ’n regering om God te wees en te werk soos Hy doen nie. Hy vra nooit hulle toestemming om die Here te wees nie; eerder behoort hulle Sy toestemming te vra om ’n agentskap of regering te wees.

Graveer hierdie dinge op jou hart en in jou gedagtes, vertrou daarop, en dink weer oor hoe jy die Here sien. Ons moet regtig ons verdraaide idees van die Here aanspreek.

Wat dink jy? Daar is eintlik meer as 18 dinge wat God nooit is nie. Hoeveel kan jy opspoor?

Vertaal deur Chané de Clercq

032 Luister

Ek het al meer as net ’n paar sessies bygewoon waar iemand probeer het om ’n geskil met iemand anders op te los. Een ding wat ek telkens opgemerk het, is hoe opvallend min daar eintlik geluister word.

Ons is dikwels so vasgevang in onsself – wat ons wil sê of doen – dat ons nie regtig hoor wat die ander persoon sê nie. Dis eintlik ’n aangename verrassing om iemand te ontmoet wat nie net luister nie, maar ook kan opsom wat jy gesê het.

Weet jy, dis moeilik om jou naaste te hoor, as jy heeldag aan die praat is.

Matteus 11:15: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”

Deur die Bybel roep God ons meer as 61 keer op om te luister – om werklik teenwoordig te wees en te hoor. Ek sou sê die Here wil hê ons moet die waarde van luister verstaan.

Ek glo dat ’n deel van die algemene wêreldwye angsvlak – wat ek dink ongelooflik hoog is – te wyte is aan die feit dat die meeste mense nie voel asof hulle gehoor word nie. Ons voel klein, onsigbaar, afgeskryf en onbelangrik… asof ons nie saak maak nie, vasgevang in ’n algemene gevoel van verwerping. Ek glo regtig dat baie van ons angs verlig kan word as ons net meer moeite doen om regtig te leer luister. Maar wanneer ons midde-in konflik is, is ons houding: “Wie wil nou na hulle luister – verál as HÚLLE so verkeerd is?”, alles gesê met hoofletters, uitroeptekens en net ’n bietjie té hard en dramaties.

Miskien sal dit help as ons ’n beter begrip het van wat dit regtig beteken om te luister. Dit beteken immers om jou “oor te verbreed, intelligent te hoor, jou ore spits en aandag te gee.” Sien jy dit? Dit gaan oor meer as net om woorde waar te neem – dit vra ’n doelbewuste poging om die ander persoon te verstaan en te hoor wat hulle werklik bedoel. Moenie net na woorde luister nie – luister vir die hart daaragter.

Met dit in gedagte, het ek gedink om vier basiese punte te deel oor hoe en waar ’n mens kan begin om ’n goeie luisteraar te word.

1 – Luister op ’n aktiewe manier.

Gee aandag. Wees werklik teenwoordig in die oomblik. Niemand wil met ’n lyk gesels nie – so leer om hierdie drie dinge te doen: parafraseer, verduidelik, en gee terugvoer. Dis regtig belangrik, so hier is dit weer: parafraseer, verduidelik, en gee terugvoer. Parafrasering help jou om seker te maak jy verstaan reg. Verduideliking beteken om vrae te vra totdat jy ten volle verstaan wat die ander persoon bedoel. Terugvoer is om jou eie gedagtes en gevoelens te deel op ’n nie-veroordelende manier. En, kyk mooi hier, ou maat — jy kan nie aan die einde sê: “jy’s ’n idioot,” en steeds hoop vir ’n positiewe uitkoms nie. Ja, ek weet, dalk is dit waar… maar dit hoef eenvoudig net nie gesê te word nie — nie as jy regtig die konflik wil oplos nie.

2 – Luister met empatie.

Sit jouself in die ander persoon se skoene… Verstaan jou naaste se probleem sonder om deel te raak van hul konflik. Het jy dit gehoor? Sonder om in hul konflik ingetrek te word. Jy mag dalk nie hou van wat gesê word nie, maar dikwels – as jy regtig luister – sal jy agterkom dat, as jy in hul situasie was, jy moontlik dieselfde sou gevoel het.

Romeine 12:15 sê: “Wees bly saam met die wat bly is; huil saam met die wat huil.”

Onthou, niemand het gesê ons moet saamstem nie. Maar dink hieraan: God luister na ons in al ons deurmekaar emosies en woorde – ja, Hy luister… maar dit beteken nie Hy stem altyd saam nie.

3 – Luister met ’n oop hart en gemoed.

Wanneer jy net hoor wat jy wíl hoor (selektief luister), of alles deur ’n verdedigende of gekleurde bril hoor, dan luister jy nie regtig met ‘n oop gemoed nie. Probeer eerder luister soos ’n ontdekkingsreisiger of antropoloog wat iemand van ’n ander wêreld ontmoet – iemand met ander gewoontes, oortuigings en manier van dink. Jou doel is nie om saam te stem nie, maar om te verstaan. Onthou, jy hoef nie hul siening te aanvaar of hul standpunt te deel nie – maar jy kan met respek luister na hul dilemma, sonder om self daarin ingetrek te word.

4 – Luister met bewustheid.

Luister of wat hulle sê, ooreenstem met die feite? Met ander woorde, as luisteraars moet ons ons huiswerk doen, sodat ons ten minste ’n idee het van wat die feite is. Maar dink ook hieraan: net omdat jy die feite het, beteken dit nie noodwendig jy het die volle waarheid nie. Feite vertel nie altyd die hele storie nie. As jy reeds aktief, met empatie en met ’n oop gemoed geluister het, en jy verstaan nog steeds nie hul standpunt nie – moenie aanval nie. Gaan na die probleem toe, nie na die persoon toe nie! Om iemand te spot, te verneder of opsetlik te terg, help nie om die konflik op te los nie. Trouens, dit verstewig die konflik net verder. Daardie optrede wen niks – dit laat jou net lyk of jy wil wen, maak nie saak wat reg is nie. Haal asem. Ontspan. Moenie reageer uit frustrasie nie. Gee eerder tyd, wag ’n bietjie en versamel meer inligting. Die doel is om betrokke en oop te bly in die gesprek — nie om die ander persoon te verneder of stil te maak nie. In plaas daarvan om hul woorde met woede of verwerping te beantwoord, kan jy iets sê soos: “Kan jy dalk ’n bietjie meer verduidelik?”, of “Het jy ’n spesifieke voorbeeld?”, of selfs net: “Dankie dat jy jou perspektief met my gedeel het — ek sal daaroor nadink.” Jy kan ook sê: “Dis interessant; ek het dit nog nie so gesien nie.”

God luister na ons — nie net na ons woorde nie, maar na ons harte. Laat ons ook leer om so te luister. Die kuns van luister is ’n Christus-agtige vaardigheid wat ons met nederigheid en opregtheid moet aanleer. Baie mense hoor, maar min luister regtig — en dít is iets wat kan verander.

Vertaal deur Chané de Clercq

Baie dankie dat jy saam gelees het. Ek is Social Porter van Living in His Name Ministries.

098 Die Teorie van Verplaasde Verantwoordelikheid

Ons sê dikwels die weer is sleg, of dat ’n boom maar ’n swak verskoning vir ’n boom is. Of ons sê: as “hulle” dit nie gedoen het nie, sou “ek” dit nie hoef te doen nie. Maar wat ons kies en hoe ons kies, bly ons eie verantwoordelikheid. Die gewig van ons besluite rus op niemand anders as onsself nie. My keuses is myne alleen — dit behoort aan my om dit te aanvaar of op te los. Ek vind dit vreemd hoe selde ek besef dat daar eintlik niks fout is met die weer nie. Die weer is net… die weer. Tog sê ek dikwels: “Die weer is vandag sleg.” Maar is dit regtig dat die weer sleg is, of hou ek eenvoudig net nie daarvan nie?

Op ’n verskriklik warm dag in Julie was ek besig om nuwe heinings op te sit. O my genade, dit was warm, en ek was deurweek van sweet. Ek het besluit om onder ’n nabygeleë boom in die skaduwee te gaan sit om ’n bietjie te rus en droog te word. Toe ek gaan sit, het ek binne ’n paar oomblikke besef dat ek net so warm en nat was soos toe ek in die son gestaan en heiningspale in die grond inslaan het. Ek het opgekyk en gesien dat die boom waaronder ek sit, eintlik maar ’n skraal ding was met min takke en blare. Onmiddellik het die woorde uit my mond gekom: “Jy is ’n swak verskoning vir ’n boom — hoekom laat ek jou selfs hier groei?” Presies toe het die Here my hart aangeraak en vir my ’n vraag gestel: “Is die boom swak, of hou jy net nie van die tipe skaduwee wat die boom maak nie? Is die boom te blameer, of het jy bloot swak gekies?”

’n Week later het ’n vriend van my kom kuier. Toe hy by die huis instap, sê hy: “Die weer is regtig sleg daar buite.” Met ’n glimlag het ek toe vir hom dieselfde vraag gevra wat God aan my gestel het: “Is die weer werklik sleg, of hou jy net nie daarvan nie?” Ek het geweet hy is ’n man wat aan die waarheid toegewyd is. Al was dit ’n bepalende oomblik, het hy nie probeer om die verantwoordelikheid vir sy woorde te verskuif of my te beskuldig dat ek te veel vrae vra nie. In plaas daarvan het hy begin nadink oor die grondslag van waaruit hy besluite neem. Hy het ongemaklik in sy stoel rondgeskuif — eers na links, toe na regs — en my ’n skewe kyk gegee. Toe sê hy: “Ag, jy’s reg. Ek het die weer blameer vir my voorkeure.” In plaas daarvan om my te beskuldig dat ek te analities is, het hy, soos ’n wyse man, die vraag op homself en sy denke toegepas.

Kom ons dink ’n bietjie daaroor; hoe dikwels iemand vir ons ’n deurdringende vraag vra — en in plaas daarvan om toe te laat dat die vraag in ons harte werk doen, verskuif ons die verantwoordelikheid daarvan om God se wysheid toe te pas. In plaas daarvan om te vra hoe ons beter kan wees, fokus ons daarop hoe hulle, ja, “hulle”, op een of ander manier op ons ingedring het. Dan beskuldig ons hulle daarvan dat hulle ondersoekend of nuuskierig is. Ek vind dit nogal merkwaardig hoeveel gelowiges vasval in die idee van “skeppende evolusie” — deur huiwerig te wees om hul eie motiewe te ondersoek, eerder as om te erken dat hul ware dryfkrag êrens anders lê. Hebreërs 13:14 sê: “Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige stad.” Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie — en tog is dit verbasend hoeveel gelowiges hul lewens versier asof dit hul finale bestemming is. Hulle versier dit asof dit reeds “huis saam met Jesus” is. Hulle probeer ons oortuig dat die aarde in die hemel verander kan word. Maar dit lyk nie eens na die eenvoudigste idee van die hemel nie, en ons voel eerder soos vreemdelinge op aarde.“Ek het nie ’n probleem nie — jy vra net te veel vrae.” Sien jy hoe die verantwoordelikheid om te hanteer wat werklik in ons aangaan, verskuif word deur te sê: “Jy vra net te veel vrae”?

Ons sê: “Hierdie skoene lyk verskriklik.” Maar is die skoene werklik sleg, of is die waarheid eerder dat ek dit verwaarloos het en nie mooi daarna omgesien het nie? Ons sê: “Die toets was te moeilik.” Was die toets regtig te moeilik, of is die waarheid dat ons nie genoeg geleer het nie — of dalk net nie die werk goed genoeg verstaan het nie? Ons sê: “As God net wou…” — dit of dat. Is dit werklik dat God nie opgetree het nie, of is die waarheid eerder dat ons nagelaat het om saam met Hom te werk en Hom te vertrou dat Hy op die regte tyd met die regte antwoord sal reageer? Ons sê: “As die mense in my gemeente nie so behoeftig was nie, sou ek nie te besig wees om tyd saam met my familie te spandeer nie.” Ek het dit werklik gehoor. Maar is dit waar dat hul behoefte die oorsaak is van my besige lewe, of is die waarheid nie dalk eerder dat dit nie die skuld van behoeftige mense is dat ek nie genoeg tyd saam met my vrou en kinders deurbring nie — maar dat ek eenvoudig kies om iets anders te doen?

Ons keuses is ons eie verantwoordelikheid. Dit is nie my ma se skuld dat ek nie Universiteit toe is nie — ek was die een wat besluit het om iets anders te doen. Ons moet ophou om verantwoordelikheid te verskuif na dinge of ander mense om te probeer verduidelik hoekom ons nie kan, nie wil, of nie gedoen het nie. Onthou: as jy te besig is, was jy die een wat “ja” gesê het. Niemand het jou te besig gemaak nie — net jy self.

Jesaja 49:20: “Die kinders van jou verlies sal nog in jou ore sê: ‘Die plek is te nou vir my; maak vir my plek sodat ek kan woon.’”

Vriende, laat ons verantwoordelik wees en die Here vra vir wysheid. Ons het almal Sy wysheid dringend nodig. Wat dink julle?

Vertaal deur Chané de Clercq.