105 – 18 Dinge Wat Nooit Gebeur

Nooit. Net soos daar verskeie belangrike dinge is wat ons van die Here moet weet en wat altyd waar is, is daar ook verskeie belangrike dinge wat nooit gebeur nie—wat beteken:  op geen tydstip in die verlede of toekoms nie; by geen geleentheid nie; nooit ooit nie. “Nooit,” soos God die woord gebruik, is ’n absolute negatiewe.

Een van die eerste dinge wat nooit gebeur nie, is dat God nooit ’n mens is nie, en omgekeerd, mens is nooit God nie. Numeri 23:19: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, of ’n mens se kind dat Hy van gedagte sou verander nie. Het Hy dit gesê en sal Hy dit nie doen nie? Of het Hy gepraat en sal Hy dit nie vervul nie?” Ons mag probeer om die Here tot dieselfde vlak as onsself te verminder en dink dat die Here met dinge worstel soos ons dit doen, maar dit is net wat ons sou wou hê—dit is op geen manier waar nie. Hy is altyd God, en daar is nooit ’n tyd dat Hy dit nie is nie; ek is nooit God nie, en daar is nooit ’n tyd dat ek dit is nie.

Die Here God doen nooit sonde nie. Waar daar geen sonde is nie, is daar ook geen oortreding of ongeregtigheid nie. 1 Johannes 3:5 sê: “Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie.” Jesus het op geen manier tekort geskiet nie, het nie gemis nie, en daar sal nooit ’n plek wees waar die dood of sterflikheid in Hom vastrapplek kan kry nie.

God is nooit te laat nie, en solank as wat ons lewe, is dit nooit te laat nie. In Lukas 7 is daar ’n verhaal waarin Jesus presies op die regte tyd opdaag. Ek het ’n prediker hoor sê God is die “God van die laaste minuut,” wat impliseer dat die Here wag tot die allerlaaste oomblik om op te tree, maar dit is nie waar nie. Hy is altyd betyds, op die perfekte tyd, en nooit minder nie. ’n Moeder se seun het gesterf en is uitgesleep om begrawe te word. Die jong seun was duidelik al lankal dood, lank genoeg om vir die begrafnis voorberei te word, dus was dit nie net in die laaste minuut of twee dat hy opgehou asemhaal het nie. Nee, die seun was dood—regtig dood. Wat het Jesus gedoen? Hy het die moeder aangemoedig om nie bekommerd te wees nie, en Hy het die seun beveel om van sy doodsbed op te staan. Jesus was nie te laat nie; Hy was presies betyds. God is nie die God van die laaste minuut nie—Hy is altyd betyds, perfek, en nooit te laat nie.

Liefde faal nooit, en God faal nooit! 1 Johannes 4:8 sê: “Wie nie liefhet nie, ken God nie, want God is liefde,” en 1 Korintiërs 13 leer ons dat liefde nooit faal nie. Daarbenewens is God nooit jaloers of ’n opschepper nie, nooit arrogant of onbeskof nie. Hy is nooit prikkelbaar of wrokkig nie, en Hy is nooit, maar nooit bly as iemand verkeerd optree nie.

Die Here sal ons nooit verraai nie. Psalm 89:33 sê die Here: “… maar Ek sal nie van Hom my troue liefde wegneem of ontrou wees aan my getrouheid nie.” Dit is belangrik, want ons wil dikwels hê dat die Here skuld moet hê aan die dinge waaroor ons skuldig voel, maar Hy is nie so nie. God sal nooit afdaal om by ons ongeregtigheid aan te sluit sodat ons nie skuld hoef te voel nie; veel eerder behoort ons te streef om verhewe te word sodat ons kan ‘opstyg’ om by Hom in Sy geregtigheid aan te sluit. Alhoewel Jesus vlees geword het en ons sonde op Homself geneem het, het Hy geen sonde gehad nie, Hy het nooit gesondig of oortree nie, en geen van ons sonde kleef aan Hom dat Hy bevlek sou word nie.

God is nooit moeg nie, Hy raak nooit uitgeput nie en het nooit ’n middagslapie nodig nie. Jesaja 40:28 sê: “Het julle dit nie geweet nie? Het julle dit nie gehoor nie? Die HERE is die ewige God, die Skepper van die uithoeke van die aarde. Hy word nie moeg nie en Hy raak nie uitgeput nie; Sy insig is onnaspeurbaar.” En daardie laaste deel, “Sy insig is onnaspeurbaar,” beteken dat God se wysheid eindeloos is. Hy verstaan alles so volmaak dat daar geen einde aan Sy insig is nie. Die Here word nooit bedrieg nie, Hy laat Hom nooit manipuleer nie, en Hy word nooit oortref nie. Nooit.

Die Here sal jou nooit verlaat nie. Ons, wat gelowiges is, vertel mekaar dat Hy ons nooit sal verlaat nie, nie soos weeskinders verlate nie, maar weer eens, die besonderhede van ons lewens vertel dikwels ’n ander storie. Hoe dikwels probeer ons onsself oortuig teen God se beloftes? God lieg nooit nie, dus is dit waar: Hy sal jou nooit verlaat nie. Kom ons sny dus hierdie “wee my” houding uit, waarin ons een ding sê, maar wanneer ons iets verkeerd doen of ongepas optree, ophou optree asof: “Die Here het die vertrek verlaat. Jy weet, God kan nie waar sonde is wees nie, so Hy is nie by my nie.” Ai, wat ’n leuen, ’n absolute enorme leuen. As God nie waar sonde is kan wees nie, hoe kon Hy dan by jou gewees het toe jy gered is? Vergewe my dat ek so ’n kragtige woord gebruik, maar dit is die waarheid: dit is net dom en val net ons eie houding van selfbevestiging in die strik: “As ek God was, sou ek ook nie van myself gehou het nie.” Wel … gelukkig is jy nie God nie, want Hy is nie só nie.

God mors nooit, nie een klein stukkie, van alles wat ons deurmaak nie. Daar is geen oortollige woorde in die Bybel nie, en daar is ook geen oortollige mense in die Hemel nie. Onthou Romeine 8:28: “En ons weet dat alles meewerk tot die goeie vir hulle wat God liefhet, wat volgens Sy doel geroep is.” Dit is geen speletjie nie; die Here praat nooit ligsinnig of sê dinge wat Hy nie bedoel nie.

Laastens, God sal nooit sterf of vervaag nie. Hy is ewig, sonder einde. Psalm 90:2 sê die Here is “van ewig tot ewig is U God.” Hy kom uit die ewigheid en strek in die ewigheid in. God het nooit aansoek gedoen by ’n etiese komitee, ’n korporasie of ’n regering om God te wees en te werk soos Hy doen nie. Hy vra nooit hulle toestemming om die Here te wees nie; eerder behoort hulle Sy toestemming te vra om ’n agentskap of regering te wees.

Graveer hierdie dinge op jou hart en in jou gedagtes, vertrou daarop, en dink weer oor hoe jy die Here sien. Ons moet regtig ons verdraaide idees van die Here aanspreek.

Wat dink jy? Daar is eintlik meer as 18 dinge wat God nooit is nie. Hoeveel kan jy opspoor?

Vertaal deur Chané de Clercq

Leave a Reply