Toe ek ’n seun was, het ek meer as ’n paar keer in frustrasie my Pa hoor sê: “Seun, ek sê jou, wanneer ek eendag in die hemel kom, het ek ’n paar vrae vir God. My hele lewe het ek net gehoor wat Hy kon doen maar nie wou doen nie, dalk sou doen maar nie gedoen het nie… en Hy verduidelik nooit enigiets nie.” Al het my Pa nooit kerk toe gegaan nie, nooit sy Bybel gelees nie, nooit enige byeenkomste oor die Here bygewoon nie, en ook nie boeke oor Hom gelees nie, het hy voortdurend teleurgesteld en verbitterd gelyk oor alles wat met God te doen het. Ek het grootgeword met geen kennis van die Koninkryk van God nie, behalwe dat om met die Koning van die konings te bemoei ’n mors van tyd was — tensy jy gefrustreerd en teleurgesteld wou wees. Kerke het vir my gelyk soos reëls op reëls wat niemand kon nakom nie, of selfs wou nakom nie, net om ’n verhouding te probeer hê met Iemand wat onmoontlik was om te ken of te verstaan. Reël-nakoming bring ons nie in ’n verhouding met God nie — Hy is juis die Een wat die belangrikste is om te ken, in die hele heelal.
Weet jy, ek het Jesus persoonlik ontmoet — van naby, oog tot oog — en alles wat ek as kind oor God geleer het, is heeltemal onwaar. Heeltemal. Ek dink dat my pa deur sy hele lewe, die somtotaal van wat hy gehoor het, kan opsom in die volgende: “God gaan jou kry,” “pasop, seun, God sal jou straf,” en “jy is net ’n sondaar seun, en jy sal nooit enigiets meer wees as ’n arme niemand wat nie in die hemel inkom nie.”
Wel, ek lees my Bybel, ek gaan kerk toe, en ek lees ywerig boeke oor die Groot EK IS. Ek staan verstom oor al die beloftes van hoop, gesondheid, genesing, verbinding en verhoudingsverlossing wat die Here maak. Ek het nêrens ’n wêreld gevind van “sal nie”, “moenie”, “kan nie”, en “mag nie” soos baie reëlnakomers altyd gereed hou nie. Jesus, die Seun van God, het na ons toe gekom — in die vlees — en vir die eerste keer ooit oog tot oog met die mensdom gestaan. En in Johannes 16 alleen, gee Hy vir ons ’n lys van “Ek sal”, “Ek het”, en dan verduidelikings van “omdat”. Só, waar is die idee dat God nooit enigiets verduidelik nie — want Hy doen. Elke keer wanneer Jesus gesê het: “Ek sal”, “Ek het”, of “sodat julle kan hê”, skep dit ’n atmosfeer van moontlikheid en potensiaal vir ons om saam met die Here betrokke te wees en alles te besit wat God belowe. Die sleutelwoorde is “betrokke wees”, nie net reëls gehoorsaam nie. Onthou, dit gaan nie oor reëls om te onderhou nie, maar oor iemand om te wees. Wanneer Jesus “omdat” gesê het, het Hy bedoelings en handelinge verduidelik. God is geïnteresseerd in die gesprek, en Hy wíl hê ons moet verstaan — en dat ons dalk nie verstaan nie, beteken nie Sy verduideliking is onwerklik nie. Hou dit eenvoudig. Ek glo regtig dat ons baie van wat God gesê het en sê, heeltemal oordink en, probeer om dit na meer te laat klink as wat dit werklik bedoel. Jesus het by vier belangrike geleenthede “kan hê” gebruik: dat julle die lewe kan hê, dat julle die lewe in oorvloed kan hê, dat julle vrede kan hê, en dat julle vreugde kan hê. As ons dit nie kon besit nie, sou die Here nooit die toon van moontlikheid en potensiaal geskep het om ons te laat weet dat ons alles wat Hy sê, kan ken en daarin kan wandel nie.
Ons moet weet dat die Here binne die wonderlike grense van geregtigheid werk, aangesien Hy self die standaard en verpersoonliking van geregtigheid is en, Hy sal Homself nooit weerspreek, deur vir ons bose begeertes te gee nie. Jesus sê sommer reguit in Johannes 16:1: “Ek het hierdie dinge gespreek,” en dan verduidelik Hy dit met “omdat” of “om die rede”. Hy sê “Ek het hierdie dinge gespreek” in die sin van “let op”, “gee aandag”, en “hoor dit—moenie dit miskyk nie.” Hy erken in vers 25 dat dit waar is dat Hy in die verlede in raaiselagtige gelykenisse en metafore gepraat het, maar dan belowe Hy: “Van nou af gaan Ek openlik met julle praat.” Met ander woorde, Hy wíl hê ons moet regtig verstaan wat Hy sê, maar Hy wil ook hê ons moet genoeg belangstelling hê om Hom te soek sodat ons dit alles kan begryp—nie soos lui kinders wees wat wag dat die ouer net alles vir hulle moet sê, sonder dat hulle self ’n persoonlike belegging in hul kennis en welstand maak nie.
Toe ek jonk was, het ek soms my ma gevra na die betekenis van ’n woord. Sy sou antwoord: “Gaan kyk dit op.” Ek het gedink sy is onbehulpsaam, maar in haar wysheid het sy my aangemoedig om self aksie te neem en die antwoord te gaan soek, eerder as om op iemand anders staat te maak omdat ek te lui was.
In Johannes 16 sê Jesus “Ek sal”, “Ek het”, “Hy sal”, en “omdat”. Hy gee aan ons Sy persoonlike belofte wanneer Hy sê “Ek sal”, en met “Ek het” laat Hy ons weet wat reeds in werking gestel is. Hy belowe ons die Heilige Gees wat ons sal leer, en Hy sê nie “AS” die Heilige Gees kom nie, maar “wanneer” Hy kom, sal die Heilige Gees dit en dat doen. En… Jesus sê ook waarom, deur weer “omdat” te gebruik — wat beteken “om die rede”.
God is nie verplig om Homself aan enigiemand op enige tyd te verduidelik nie, maar Hy doen dit uit liefde, omdat Hy belangstel in ’n dialoog met ons en wil hê dat ons moet verstaan wat Hy sê. Hy praat inderdaad met mense, en Hy bied regtig gereeld verduidelikings aan. Is ons geïnteresseerd om te luister? Daar is wyer en dieper beloftes van “ja en amen” as wat die reëlhouer se ingesteldheid van “moenie dit doen nie” is, tog sien soveel mense God as die God van “kyk uit, wees versigtig, en moenie dit doen nie”, en dit is glad nie Sy hart nie. Natuurlik het God grense en waarsku ons teen potensiële probleme, maar ons self is dikwels diegene wat soos die wet op twee bene aan die wêreld rondom ons lyk omdat ons altyd praat oor wat ons nie mag doen nie, nie wil doen nie, en alles waarteen ons is. Wel, vriende, waarvoor is julle in die gees van regverdigheid, vir regte moraliteit of, vir Goddelike etiek? Wat gaan jy doen nadat jy glo dat Jesus die Here is? God se beloftes is meer as net ’n versekeringspolis.God het ’n hele wêreld van ongelooflike moontlikhede en potensiaal vir jou, maar jy moet genoeg in Hom belangstel om Sy goedheid teenoor jou na te streef.
Wat dink jy?
Vertaal deur Chané de Clercq