033 Hy is ons God!

Hy is ons God!
Hierdie is ’n samestelling uit The Message Bible:

Het jy geweet God is ’n veilige plek? Die oomblik as jy by Hom is, kan jy ontspan – en jy sal nooit spyt wees dat jy aan Sy deur geklop het nie. Wanneer God met mense praat wat seer gekry het, begin hul harte weer klop, en mense wat hoop verloor het, voel weer lig wanneer Hy in hul oor fluister.

Die tyd van die bendeleiers is amper verby, en die dae van die farao is op ’n einde.
Ons God en Koning het vir ons hemelse juwele gemaak – sterre soos juweliersware aan die lug – en Hy laat ons skryf in Sy boek van wonders! Hoe wonderlik is Hy! Hy is God, ons God.

Wanneer God naby is, werk boosheid teen homself; geweld draai terug na die een wat dit begin het. Mense wat vol vloeke is, word stil en leeg – hulle praat baie, maar sê niks. Hulle leef asof die wêreld plat is en kan nie verder as vandag dink nie. Sonder Jesus, die Christus van God, drink die mens uit ’n veldbottel vol warm woestynwind. Hulle kuier in die Kroeg van Sonde, en dwaal af in ’n doodloopstraat. Dié wat geregtigheid verag, noem God “leë windpraters”! Vol gal en opgeblaas,  blaas hulle hulself uit. Hulle sê: “God is weg”… maar kyk na hul lewens – het jy nie opgelet nie? Hul opbrengs is dorings en onkruid. Hulle is soos skape wat mekaar probeer oortuig hulle is die herder, maar sonder God is hulle niks meer as ’n ry nulle nie. Hulle behandel mense soos kitskos – waaroor hulle selfs te besig is om te bid.

Ek? Ek sal nooit God se Naam behandel soos ’n handelsmerk nie. Ek wil wees soos Jakob wat omdraai en springtou speel van blydskap! God se wyse raad is bevestig in my – dit wys in die vrede van my hart. Hy het my kaartjie hel toe gekanselleer en my sondeloon opgeskeur. Toe ek vol geheime was en hoë heinings reg rondom my gebou het om dit weg te steek, was God goed vir my. Hy het nie die heinings afgebreek nie – Hy het eerder genade-graffiti daaroor geskryf.

Voordat ek vir Jesus geken het, het die duiwel se waters my gedurig oorstroom.
Die toue van die hel was styf om my polse, doodstrikke was oral, en die galgtou het styf om my nek getrek! Maar toe – God!! Dis reg, toe het my God op die toneel verskyn! Die aarde het geskud, berge het gebewe, Sy neusgate het gevleuel, Sy mond het vuur uitgespoeg. Helder weerlig het losgebars, haelklippe en vuurpyle het gereën, die oseane is oopgevlek, weerlig is geslinger – en my God het teen die vyand van die hemel opgetree soos ’n orkaan van heilige woede wat losbreek…
en Hy het my laat staan – vry, bevry, op ’n oop en wyd veld! Ek was – en is steeds – so verras deur Sy liefde! Hy het my ’n vars begin gegee. Hy het die boek van my hart oopgemaak sodat al die wonderlike dinge wat Hy in my gedoen het, sigbaar kon word. Die teks van my lewe is geskryf – ek het Sy goedheid geproe, Sy gesondheid en Sy Waarheid. My lewe het God se soeklig geword! Hoe is dit moontlik? Hoe kán dit wees – dat God só goed is vir ’n mens soos ek?

Jesus het na my toe gekom – ek kon Hom van ver sien aankom, van baie ver af, asof ek teleskopiese visie gehad het! Daar was heerlikheid wat geblink het, hoë heinings is oorgespring, Sy vyande is gevang, en die opsweepers is verpletter; dooies is vasgespyker! Wham! Wham! Ek sê vir jou – ek hét gesien hoe Jesus dit doen! Hy was ongelooflik vreesloos! Wat ’n vertroue! Sy teenwoordigheid was só oorweldigend dat haters weggevee is, en duiwels het hul skuilplekke verlaat en padgegee.

Die Rots is ’n seën – Hy is vry, bevrydend, en Hy maak dinge reg. Jesus is Heerlikheid op toer – Hy is God se kunswerk ten toon gestel. Op Sy bevel hou Mejuffrou Dag klas, en Professor Nag gee lesings; ongesproke waarheid word oral hoorbaar gemaak. Die son het ’n nuwe bruidegom, en dagbreek hardloop soos ’n atleet na die wenstreep. Lied na lied word gesing, en Sy Naam rym so mooi – dit wek geloof in harte.

 

Vertaal deur Chané de Clercq

Ek is Social Porter van Living In His Name Ministries.

Leave a Reply