Romeine 1:18-21 sê: “Want die toorn van God word uit die hemel geopenbaar oor alle goddelose en onregverdige mense wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk, omdat dit wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit vir hulle getoon. Sedert die skepping van die wêreld is sy onsigbare eienskappe duidelik gesien en verstaan deur die dinge wat gemaak is – selfs sy ewige krag en godheid – sodat hulle onversskrokke is.”
God is nie versteek nie, maar ons is steeds besig om onsself weg te steek. Al van die tyd van Genesis af, toe Adam en Eva in die tuin weggekruip het weens sonde, het God nooit vir die mens weggekruip nie. Sy werke is vir almal sigbaar wat bereid is om te kyk. Letterlik, sy vingerafdrukke is oral op alles sigbaar.
Daar is geen verskoning om nie in God te glo nie. Hy het Homself duidelik aan die wêreld en aan elke mens se gewete bekend gemaak. Kom nou, Sy vingerafdrukke is oral sigbaar. Net deur na die sterre in die nag te kyk, behoort dit enigeëen te oortuig dat daar ’n Skepper is. Verder glo ek dat almal diep binne hulself weet dat daar ’n God is, en dat elke mens met ’n gevoel van reg en verkeerd gebore word. Reis na die verste uithoeke van die wêreld, en beide God-aanbidders sowel as God-haters is dit eens dat steel verkeerd is, lieg verkeerd is, egbreuk verkeerd is, verraad verkeerd is – veral wanneer dit hulself raak. Waar het hulle daardie idee van reg en verkeerd gekry? Soos C.S. Lewis gesê het: “Ons kan nie weet wat ’n krom lyn is nie, tensy ons eers ’n idee van ’n reguit lyn het nie.” Tog lyk dit asof mense die waarheid onderdruk omdat hulle nie wil glo nie. ’n Man het vir my eenkeer gesê: “Vir God om te bestaan, moet Hy aan sekere standaarde voldoen.” (lag) Hy het regtig geglo sy standaarde is hoog genoeg om God te definieer. Ek dink wat hy eintlik wou sê, is: “God moet Homself bewys volgens mý standaarde.”
Die Here is ewigdurend, Hy is nie afhanklik van iemand of iets nie, en Hy hoef ook nie aan iemand se standaarde te voldoen om te bestaan nie. As die Here gebonde aan menslike vereistes was, sou Hy nie regtig almagtig en onafhanklik wees nie. Hy sou net nog ’n ander god wees, ’n klein “g” in ’n see van mensegemaakte gode wat onderhewig en afhanklik is van die bui van die mens om te kan bestaan. …en vir my sou dit net dom wees.
Waarom glo ons dan nie in God nie? Dit is tog beslis makliker om in God te glo as om te glo dat draaiende atome ooreenstemming bereik het om nie net saam te smelt en iets te skep nie, maar ook intelligent en wys genoeg te wees om oneindige diep konsepte soos liefde, haat, verantwoordelikheid, vriendskap, blou lug, reën, en al die talle fisiese en nie-fisiese dinge van bestaan by te voeg. Waarom glo ons dan nie in God nie?
Ek glo ’n algemene “Ek wil nie” lê aan die kern van die saak – ’n hart vol van “ek wil nie.” Om te glo sou ongelowiges direk konfronteer met hulself, hul sondige karakter, hul rebellie, en hul behoefte om terug te keer na God, wat dalk meer is as wat die meeste bereid is om te doen. Dit lyk asof dit net te na aan die waarheid is, en te eerlik. Miskien is die behoefte aan Christus nog nie dringend genoeg nie … nog nie.
Daarom ontken hulle die feit van God se bestaan en speel klein geestelike speletjies om die waarheid weg te redeneer. Vanweë dit word God se vaste grens teen alle goddeloosheid en ongeregtigheid uit die hemel geopenbaar en is dit met onwrikbare vasberadenheid deur die hand van God self gestel. Teenoor die ongeloof het Hy gesê: “Tot hier toe en nie verder nie… julle sal nie sonde, boosheid en ongeloof in my huis bring nie.”
Die Here is die God van waarheid. Die God van die Bybel is nie ’n god van mites of legendes nie. Jesus Christus is Die Waarheid. Hy is die uiteindelike werklikheid; Hy is wat regtig bestaan in die heelal, in ’n wêreld vol misleiding en leuens. Net so is die Bybel nie net ’n gemaakde boek van godsdienstige fantasie nie; dit is waar, geestelik, histories en wetenskaplik.
God is nie versteek nie. Ons is. Ons het in die tuin van Eden weggekruip, en ons kruip vandag nog weg. Die Here roep ons om uit ons skuilplekke uit te kom, om nederig te wees en eerlik te wees, om die deure van ons harte oop te gooi en ons heinings af te breek. Wat gaan aan met al ons wrokke en jaloesie, eintlik? Christus is sigbaar en bereid om al ons donkerste geheime te vergewe; ons hoef net bereid te wees om uit ons wegkruipplekke uit te kom. Kom uit, kom uit, waar jy ook al is. God roep jou om huis toe te kom!
Vertaling is deur Chané de Clercq
Ek is “Social Porter” van “Living in His Name Ministries”