Selfs al voel dit asof die hele wêreld teen ons is, selfs wanneer ons oë niks anders sien as donker wolke rondom ons nie — as gelowiges is God aan ons kant, en ons het die krag om as oorwinnaars bo uit te kom. As gelowiges dra ons die Koning van die Heelal in ons, by ons, en vir ons. Die Heilige Gees beweeg voor ons soos ’n stralende, liggewende wolk wat ons lei, en agter ons staan ’n vuurpilaar wat ons beskerm en aandryf. Ons het die geskrewe Woord van God in ons hande en ons het die gemeenskap van Jesus en die heiliges om ons.
Wanneer ons dink aan al hierdie glorieryke waarhede, sien ek geen goeie rede waarom ons ’n stryd sou betree en verloor nie.Ons is meer as oorwinnaars — meer as net dié wat struikelblokke oorkom en oorwinning behaal. Meer! Nie net oorwinnaars nie, méér as dit.Jesus was meer as ’n oorwinnaar, en daarom is ons, Sy mense, ook meer — omdat Hy méér is. Omdat Hy is, is ons. Omdat Hy gedoen het, kan ons.
Romeine 8:37 sê:
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”
In daardie vers beteken die Griekse woord hypernikao “oor en bo” (hyper) en “om te oorwin” (nikao). God het ons gemaak om dié mense te wees wat nie net oorwin nie, maar ’n oorweldigende, stralende oorwinning behaal. Meer!
Wat dink jy, dink God van ons? In die Smithsonian-museum is daar ’n voorskoot met ’n bruin vlek daarop. Dit lyk soos ’n sjokoladekol, en die voorskoot self is nie veel werd nie. Maar toe hulle Abraham Lincoln, die groot bevryder, uit die teater dra, het sy bloed op daardie voorskoot gedrup toe hulle verby ’n klein dogtertjie stap. Iemand het dadelik gesê: “Dit is heilig vir Amerika — bewaar dit!”
Niks in die wêreld kan daardie voorskoot, wat met bloed gemerk is, vervang of opweeg nie. En ek wil vir jou sê — teenoor die wêreld, die vlees, die duiwel en die hele hel: as die bloed van Jesus Christus oor jou is, dan is jy meer werd as al die goud in Fort Knox of enigiets anders in die wêreld.
Jy is kosbaar vir Hom. MEER!
Kom ons kyk na die verskil tussen Romeine 7 en Romeine 8:
Romeine 7 is vol swaar en hartseer, maar Romeine 8 is vol hoop en vreugde.
Romeine 7 praat van skuldgevoelens, maar Romeine 8 van vryheid.
Romeine 7 voel soos ’n begrafnis, maar Romeine 8 soos ’n troue.
Romeine 7 gaan oor verlies en mislukking, maar Romeine 8 oor oorwinning.
Romeine 7 wys hoe die mens sukkel, maar Romeine 8 wys hoe God red en bevry.
In Romeine 7 sien ons iemand wat op homself fokus, maar in Romeine 8 sien ons iemand wat op Jesus fokus.
Ons is nie net oorwinnaars nie — ons is meer as oorwinnaars! Hierdie waarheid moet deel wees van hoe elke Christen oor hulself dink. Ons is nie mense wat altyd verloor nie. Ons is nie mislukkings nie. Ons is nie vasgevang in vrees, verwarring of moedeloosheid nie. Ons leef nie onder die mag van duisternis nie.
Romeine 8:37 sê: “In al hierdie dinge…” — dit beteken daar is geen deel van jou lewe waar jy moet voel of wees asof jy verloor het nie. Alles beteken alles! Daar is nie ’n uitsondering nie.
Ja, ons gaan moeilike tye hê. Maar in al daardie dinge sê die Bybel is ons meer as oorwinnaars — ons kom sterker daaruit met God se hulp. Ons is mense wat deur God se krag vol moed leef. Ons is nie bang vir die lewe nie, want God gee ons moed en krag. Ons wys met ons hele lewe wie Jesus is. Soos Jesus sê in Matteus 22:37: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, hele siel en hele verstand.” Alles in jou behoort aan Hom.
Alles beteken alles – niks minder nie.
Ons dra Sy lig. Ons is meer!
Ons is nie net oorwinnaars nie. Ons het nie net dinge soos sonde, verslawing, vrees en slegte gewoontes oorwin nie — ons bly dit oorwin! En meer as dit, God het vir ons die krag en gesag gegee om ander mense te help. Sy krag, wat soos dinamiet is, werk deur ons sodat ander ook vry kan word van dit wat hulle vasvang en vernietig.
Ons leef nie net om eendag hemel toe te gaan nie. Ons leef nou al as kinders van God. Selfs wanneer dinge moeilik is — wanneer ons ly, vervolg word, honger ly, in gevaar is of alles verloor — kan ons steeds oorwin, want Jesus gee vir ons krag.
Ons is meer as oorwinnaars. Meer!
Ons dra nie dowwe, vaal kleure soos die wêreld nie. Nee — deur Jesus is ons geklee in helder kleure: blou, goud, rooi, pers en groen. Ons dra die lig van God.
Jesus gee vir ons oë wat verder sien, ore wat kan hoor wat kom, en monde wat kan praat wat in God se hart is — woorde wat lewens verander, selfs reg oor die wêreld. In Jesus is ons nie net mense wat net-net deur die lewe kom nie. Ons is nie net weduwees, weeskinders of bedelaars nie. Ons leef ’n nuwe, kragtige lewe omdat Jesus vir ons gesterf het en opgestaan het.
Ons is meer as oorwinnaars!
Vertaal deur Chané de Clercq