Billik? Volgens watter standaard besluit ons wat regverdig is?
Volgens watter standaard het ons besluit wat regverdig is? Een dag het ’n man vir my geskree: “Christenskap is nie regverdig nie, en God ook nie!”
Om onsself of anders iets waardevols te ontneem deur misleiding of bedrog is veral maklik om te regverdig wanneer ons, ons situasies só raam dat ons onsself as die slagoffers van onregverdigheid uitbeeld – asof dit ons eie rolprent is en ons is die hoofrolspeler. En ja, ek glo baie mense doen dit: hulle sien hulself as die ongelukkige slagoffers van onreg. Eva se optrede in die tuin het God daarvan beskuldig dat Hy nie regverdig is nie – sy het gevoel dat God iets vir haar wegsteek.
Sodra ons onsself as slagoffers sien, gaan dit oor om die “balans te herstel”. Ons herkou aan hoe swaar dit met ons gaan en sê vir onsself: “Ek kul nie, ek ‘herstel net regverdigheid’.” Herstel regverdigheid? Dis soos my grappie oor myself: “Ek het nie ’n obsessiewe persoonlikheid nie – ek doen net alles BAIE.” Ons het almal al die universele storie gehoor van goeie mense wat sleg eindig. Ons skud ons koppe, klik ons tonge en sê: “Hoe kon dit met húlle gebeur? Hulle was tog goeie mense.” Maar dit begin gewoonlik met klein oortredings – subtiele dinge, soos om “net effens af te dwaal”. Ons raak goed daarmee om ’n koel buitekant voor te hou, al is ons bang, mense sien reg deur ons. Party leer dalk om klein bedrae uit die kasregister te vat.Ander los bloot sekere feite uit en, so groei die gedrag geleidelik.
Wat begin as ’n leuen deur weglating – om net sekere dele van jou storie uit te los – word uiteindelik ’n doelbewuste keuse. Dit skuif van ’n eenmalige voorval na ’n leefstyl. Sien jy die “pes wat in die donker kruip” (Psalm 91:6)? Dis nie die een Oreo-koekie wat jou vet maak nie – dis die leefstyl van Oreo-koekies wat die probleem is. Niemand word net een oggend wakker en besluit om ’n dief of bedrieër te wees nie. Jy dink nie sommer: “Ek gaan vandag begin steel en dwelms gebruik” nie. Dit is gewoonlik ’n stadige, slinkse afwaartse pad – ’n “pes wat in die donker wandel”, ’n verskriklike, noodlottige siekte wat ons harte in ’n greep van wanhoop vasdruk.
Hierdie verhaal van ’n geleidelike af wenteling maak dit moeilik om die proses van afwyking raak te sien. Mense is dikwels meer ingestel op kortpaaie as wat hulle self besef. Dikwels neem ons doelbewuste besluite om te mislei. Soos in speletjieteorie, is daar ’n stryd tussen korttermynvoordeel en langtermynintegriteit – ’n spanning tussen die regte ding om te doen en die minder beginselvaste een. Hoeveel sonde is te veel? Wanneer is ons keuses eerbaar genoeg? Hoe goed is goed genoeg? Hoe sleg is te sleg? Wanneer raak ons só onrustig dat ons bereid is om na God uit te roep vir hulp?
Sielkundiges sê dikwels dat die grootste dryfveer agter oneerlikheid ’n diep gevoel van onreg is. Sodra mense begin vergelyk en kompeteer, begin hulle ander se “verborgde voordele” raaksien – privaat tutors, familiegeld, oudstudente-verbindinge, of selfs ’n gereelde gholfspeletjie met die baas. Teen so ’n mededinger voel dit amper regverdig om iemand anders se werk as jou eie voor te hou – dit voel asof jy net die speelveld gelyk maak.
Iemand wat begin kul, glo dikwels eers dat almal anders ook kul, maar net nadat hulle self begin het – nie voor dit nie. Dis soos om te sê: “Hierdie gevreesde siekte is nie meer so erg nie, want nou het almal dit.” Of soos ’n dogter wat vir haar ma sê: “Ma wil net nie hê ek moet ’n lewe hê nie! Dis nie regverdig nie! Al my vriende doen dit!” Regtig? Doen hulle regtig? Hoeveel keer gebruik ons nie dieselfde soort redenasie teenoor God nie – nes ’n tiener wat teen haar ouers praat om haar sin te kry? As dinge nie uitwerk soos ons wil hê nie, wys ons met die vinger en sê: “Dis nie regverdig nie! Hoekom doen U dit aan my, Here?” of: “U is God! As U só goed is, hoekom het U dit toegelaat? Dis nie regverdig nie!!”
Regverdig? Regverdig?! Eintlik is die Here méér as net regverdig – Hy het bo regverdigheid uitgestyg en Sy lewe vir ons gegee. Jy’s reg: Christenskap is nie regverdig nie. Dit is beter as regverdig! Ons almal gly en struikel op die lewenspad, maar terwyl ons op pad is na ons ewige tuiste, laat ons eerder die vrugte van die Gees kies. Moenie dat jou oë gewoond raak aan die duisternis om jou nie. God ís regverdig en Hy ís regverdigheid self. Moenie op jou eie insig steun nie – laat God God wees, want Hy is baie goed daarin.
Vertaal deur Chané de Clercq