098 Die Teorie van Verplaasde Verantwoordelikheid

Ons sê dikwels die weer is sleg, of dat ’n boom maar ’n swak verskoning vir ’n boom is. Of ons sê: as “hulle” dit nie gedoen het nie, sou “ek” dit nie hoef te doen nie. Maar wat ons kies en hoe ons kies, bly ons eie verantwoordelikheid. Die gewig van ons besluite rus op niemand anders as onsself nie. My keuses is myne alleen — dit behoort aan my om dit te aanvaar of op te los. Ek vind dit vreemd hoe selde ek besef dat daar eintlik niks fout is met die weer nie. Die weer is net… die weer. Tog sê ek dikwels: “Die weer is vandag sleg.” Maar is dit regtig dat die weer sleg is, of hou ek eenvoudig net nie daarvan nie?

Op ’n verskriklik warm dag in Julie was ek besig om nuwe heinings op te sit. O my genade, dit was warm, en ek was deurweek van sweet. Ek het besluit om onder ’n nabygeleë boom in die skaduwee te gaan sit om ’n bietjie te rus en droog te word. Toe ek gaan sit, het ek binne ’n paar oomblikke besef dat ek net so warm en nat was soos toe ek in die son gestaan en heiningspale in die grond inslaan het. Ek het opgekyk en gesien dat die boom waaronder ek sit, eintlik maar ’n skraal ding was met min takke en blare. Onmiddellik het die woorde uit my mond gekom: “Jy is ’n swak verskoning vir ’n boom — hoekom laat ek jou selfs hier groei?” Presies toe het die Here my hart aangeraak en vir my ’n vraag gestel: “Is die boom swak, of hou jy net nie van die tipe skaduwee wat die boom maak nie? Is die boom te blameer, of het jy bloot swak gekies?”

’n Week later het ’n vriend van my kom kuier. Toe hy by die huis instap, sê hy: “Die weer is regtig sleg daar buite.” Met ’n glimlag het ek toe vir hom dieselfde vraag gevra wat God aan my gestel het: “Is die weer werklik sleg, of hou jy net nie daarvan nie?” Ek het geweet hy is ’n man wat aan die waarheid toegewyd is. Al was dit ’n bepalende oomblik, het hy nie probeer om die verantwoordelikheid vir sy woorde te verskuif of my te beskuldig dat ek te veel vrae vra nie. In plaas daarvan het hy begin nadink oor die grondslag van waaruit hy besluite neem. Hy het ongemaklik in sy stoel rondgeskuif — eers na links, toe na regs — en my ’n skewe kyk gegee. Toe sê hy: “Ag, jy’s reg. Ek het die weer blameer vir my voorkeure.” In plaas daarvan om my te beskuldig dat ek te analities is, het hy, soos ’n wyse man, die vraag op homself en sy denke toegepas.

Kom ons dink ’n bietjie daaroor; hoe dikwels iemand vir ons ’n deurdringende vraag vra — en in plaas daarvan om toe te laat dat die vraag in ons harte werk doen, verskuif ons die verantwoordelikheid daarvan om God se wysheid toe te pas. In plaas daarvan om te vra hoe ons beter kan wees, fokus ons daarop hoe hulle, ja, “hulle”, op een of ander manier op ons ingedring het. Dan beskuldig ons hulle daarvan dat hulle ondersoekend of nuuskierig is. Ek vind dit nogal merkwaardig hoeveel gelowiges vasval in die idee van “skeppende evolusie” — deur huiwerig te wees om hul eie motiewe te ondersoek, eerder as om te erken dat hul ware dryfkrag êrens anders lê. Hebreërs 13:14 sê: “Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige stad.” Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie — en tog is dit verbasend hoeveel gelowiges hul lewens versier asof dit hul finale bestemming is. Hulle versier dit asof dit reeds “huis saam met Jesus” is. Hulle probeer ons oortuig dat die aarde in die hemel verander kan word. Maar dit lyk nie eens na die eenvoudigste idee van die hemel nie, en ons voel eerder soos vreemdelinge op aarde.“Ek het nie ’n probleem nie — jy vra net te veel vrae.” Sien jy hoe die verantwoordelikheid om te hanteer wat werklik in ons aangaan, verskuif word deur te sê: “Jy vra net te veel vrae”?

Ons sê: “Hierdie skoene lyk verskriklik.” Maar is die skoene werklik sleg, of is die waarheid eerder dat ek dit verwaarloos het en nie mooi daarna omgesien het nie? Ons sê: “Die toets was te moeilik.” Was die toets regtig te moeilik, of is die waarheid dat ons nie genoeg geleer het nie — of dalk net nie die werk goed genoeg verstaan het nie? Ons sê: “As God net wou…” — dit of dat. Is dit werklik dat God nie opgetree het nie, of is die waarheid eerder dat ons nagelaat het om saam met Hom te werk en Hom te vertrou dat Hy op die regte tyd met die regte antwoord sal reageer? Ons sê: “As die mense in my gemeente nie so behoeftig was nie, sou ek nie te besig wees om tyd saam met my familie te spandeer nie.” Ek het dit werklik gehoor. Maar is dit waar dat hul behoefte die oorsaak is van my besige lewe, of is die waarheid nie dalk eerder dat dit nie die skuld van behoeftige mense is dat ek nie genoeg tyd saam met my vrou en kinders deurbring nie — maar dat ek eenvoudig kies om iets anders te doen?

Ons keuses is ons eie verantwoordelikheid. Dit is nie my ma se skuld dat ek nie Universiteit toe is nie — ek was die een wat besluit het om iets anders te doen. Ons moet ophou om verantwoordelikheid te verskuif na dinge of ander mense om te probeer verduidelik hoekom ons nie kan, nie wil, of nie gedoen het nie. Onthou: as jy te besig is, was jy die een wat “ja” gesê het. Niemand het jou te besig gemaak nie — net jy self.

Jesaja 49:20: “Die kinders van jou verlies sal nog in jou ore sê: ‘Die plek is te nou vir my; maak vir my plek sodat ek kan woon.’”

Vriende, laat ons verantwoordelik wees en die Here vra vir wysheid. Ons het almal Sy wysheid dringend nodig. Wat dink julle?

Vertaal deur Chané de Clercq.

Leave a Reply