Daar is nie een oorbodige woord in die Bybel nie. Elke woord het ‘n doel en dra betekenis. Daar is geen onbelangrike woorde en geen onnodige besonderhede nie. Van Genesis tot Openbaring is elke woord met die res verweef en vorm dit saam die verhaal van die Vader se liefde, die Seun se bloed en die krag van die Heilige Gees. Die Bybel is van begin tot einde persoonlik en verhoudingsgerig, want God self is persoonlik en verlang na ‘n verhouding met mense. Selfs wanneer Hy van die duiwel en die magte van die hel praat, verwys Hy nooit na hulle as “dit” nie, maar as “hulle”. Dit beklemtoon dat God met persone en wesens omgaan, nie met onpersoonlike kragte nie.
Die waarheid dat God, Yahweh, die Koning van die heelal, persoonlik is en ‘n verhouding met mense wil hê, is nie net die kern van God se Woord nie, maar ook iets wat die Christelike geloof uniek maak onder die godsdienste van die wêreld. Ons God is nie ‘n onpersoonlike krag of ‘n abstrakte beginsel nie. Hy is ‘n persoonlike God met eienskappe soos liefde, hoop, vrede, bewussyn, ‘n wil en emosies. Juis daarom kan ons ‘n lewende en dinamiese verhouding met Hom hê. ‘n Dinamiese verhouding beteken alles dit wat tussen ons en God plaasvind omdat, ons in ‘n verhouding met Hom leef. Die Here verlang daarna om Homself op ‘n doelbewuste en persoonlike manier aan die mens bekend te maak. Hy nooi ons uit tot ‘n verhouding met Hom—’n verhouding wat ons identiteit vorm en ons doel in die lewe bepaal. Dink net ‘n oomblik daaroor. Besef jy hoe ongelooflik groot hierdie waarheid is?
Maar hoe kan ons, wat so beperk en verganklik is, die oneindige God werklik leer ken? Die belangrikste manier waarop ons Hom leer ken, is deur Sy persoonlike aard wat dwarsdeur die Bybel openbaar word. Dit sien ons nie net in die woorde en paragrawe nie, maar ook in die temas, verhale, getuienisse en selfs die poësie van die Skrif. Bladsy ná bladsy openbaar God Sy hart deur die geskiedenis van Sy volk—deur oorloë en ballingskap, deur goeie en slegte konings, deur profete en predikers, en uiteindelik deur die koms van die Messias. Die Bybel beeld God uit as Een wat spreek, liefhet en doelbewus handel.
Trouens, die Bybel begin met God as die eerste Een wat in die heelal spreek. Moses teken in Genesis alleen die woorde “God het gesê” 29 keer op. Dit beklemtoon dat God van die begin af ‘n God is wat Homself bekend maak en met Sy skepping kommunikeer. God het die mens na Sy beeld en gelykenis geskep. Dit verwys nie net na hoe Hy lyk nie, maar veral na wie Hy is. Daarom het die mens, soos God, die vermoë om in verhouding te leef, lief te hê, te skep en doelbewus op te tree. Die verhaal van God wat saam met Adam en Eva in die Tuin van Eden wandel, openbaar ‘n God wat na gemeenskap met Sy skepping verlang. En daar hou dit nie op nie. Hierdie tema loop soos ‘n goue draad deur die hele Skrif. Ons sien dit in God se verbond met Abraham, Moses en Dawid—elkeen ‘n persoonlike belofte dat Hy Sy volk sal lei, bewaar en onderhou. En dan kom die hoogtepunt van alles: Jesus Christus, God wat mens geword het en tussen ons kom woon het. Vir die eerste keer in die geskiedenis staan God letterlik oog tot oog met die mens. As dit nie persoonlik en verhoudingsgerig is nie, wat is dan?
In wie word God se sending die duidelikste openbaar? In die persoon van Jesus Christus! God se wese is verhoudingsgerig, en nêrens word dit dieper of duideliker sigbaar as in Sy Seun nie. In die teologie—die studie van God—is Jesus, God wat mens geword het. Hy openbaar die Vader se ewige liefde en oorbrug die skeiding tussen God en die mens. Dit is die grootste bewys dat God persoonlik is en ‘n verhouding met mense verlang. Deur Sy lewe, Sy lering en Sy offer aan die kruis wys Jesus God se begeerte om mense met Homself te versoen en hulle in ‘n intieme verhouding met Hom te bring. Soos ons lees in Johannes 3:16:
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Hierdie waarheid loop soos ‘n goue draad deur die hele Nuwe Testament. In Johannes 15:15 sê Jesus vir Sy dissipels:
“Ek noem julle nie meer diensknegte nie… maar Ek het julle vriende genoem.”
Hiermee wys Jesus dat ons verhouding met God nie gebou is op die blote nakoming van reëls nie, maar op ‘n lewe van geloof, gehoorsaamheid en gemeenskap met Hom. God nooi ons om nie net anders op te tree nie, maar om anders te leef—in voortdurende gemeenskap met Hom en in liefdevolle gemeenskap met mekaar.
Verder speel die Heilige Gees ‘n onmisbare rol om hierdie persoonlike verhouding met God te onderhou. Jesus beskryf die Heilige Gees in Johannes 14:16 as ons Trooster en in Johannes 16:13 as die Een wat ons in die hele waarheid lei. Die Heilige Gees woon in elke gelowige (1 Timoteus 1:14) en maak voortdurende gemeenskap met God moontlik. Soos Romeine 8:26 ons leer, tree die Gees ook vir ons in wanneer ons nie weet hoe om te bid nie. Hierdie inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees kweek en verdiep ‘n lewe van gebed en aanbidding. Dit herinner ons voortdurend daaraan dat God altyd by ons is en versterk die lewende verhouding wat ons met Hom het. Ek huiwer effens om die woord “dinamies” te gebruik, omdat dit nie ‘n woord is wat ons elke dag gebruik nie. Tog beskryf dit hierdie verhouding baie goed. Ons verhouding met God is nie staties of vêr nie; dit is lewend, groeiend en voortdurend aan die werk in ons lewens.
Besef ons werklik hoe diep die implikasies daarvan is dat God persoonlik is en ‘n verhouding met ons wil hê? Dit beteken dat ons nie alleen is in ‘n onverskillige heelal nie. Ons word geken, geliefd en waardeer deur ‘n God wat verlang dat ons heel, verlos, genees en geestelik gesond sal wees—volgens Sy maatstaf en nie volgens ons eie lae standaarde of die maklike uitweg wat ons so dikwels kies nie. Hierdie verhouding nooi elke mens uit tot ‘n lewende geloof, waar ons God se liefde, vergifnis en doel vir ons lewe persoonlik kan ervaar. Só word teologie nie bloot ‘n versameling leerstellings nie, maar ‘n daaglikse werklikheid waarin ons met God wandel en Sy liefde die grondslag word van ons hoop, ons identiteit en ons verhouding met ander. Die Here, ons God, is en bly altyd persoonlik en verhoudingsgerig.
Veertig jaar gelede het my seun met ‘n meisie uitgegaan. Ek het hom gevra of die verhouding ernstig was. Hy het geantwoord: “Nee, Pa, dis net ‘n ‘hookup’. Niks persoonlik nie, niks ernstigs nie.” Destyds het ek nie heeltemal verstaan wat hy bedoel het nie, maar iets in my hart was diep ontstel. Hoe meer ek daaroor nagedink het, hoe minder kon ek verstaan waarom sy woorde my so ontstel het. Eers onlangs, veertig jaar later, het ek besef waarom. By ‘n byeenkoms het ek voor ‘n jong man gesit wat ‘n Bybel en ‘n boek by hom gehad het. Die titel van die boek het iets met beginsels te doen gehad. Omdat ek nuuskierig was, het ek hom gevra wat die beginsels behels. Hy het gesê: “Die eerste beginsel is: Moenie dinge persoonlik opneem nie.” Ek het hom gevra wat hy daarmee bedoel. Hy antwoord toe: “Soos met Jesus se kruisiging—moenie dat dit jou ontstel nie. Moenie dit persoonlik opneem nie.” Ek was innerlik geskok. En skielik het ek verstaan waarom my seun se woorde destyds, en nou hierdie jong man s’n, my so diep ontstel het. Seks is iets uiters persoonlik. Om dit af te maak as bloot ‘n seksuele ontmoeting sonder enige persoonlike betekenis, is absurd. In vandag se losbandige ‘hookup’-kultuur word een van die mees intieme dinge wat twee mense saam kan deel, gereduseer tot iets tydeliks en weggooibaar, waar mense mekaar as bloot ‘n middel tot ‘n doel gebruik. Nog meer as dit: die kruisiging van Jesus Christus is die mees persoonlike en verhoudingsgerigte gebeurtenis wat die wêreld nog ooit beleef het. Ek het vir die jong man gesê: “‘n Klap in Jesus se gesig was persoonlik (Matteus 26:67). Die spies wat Sy sy deurboor het, was persoonlik. Elke hou van die hamer waarmee die spykers deur die Verlosser se hande en voete gedryf is, was onmiskenbaar persoonlik. Hy het Homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood toe—ja, die dood aan die kruis (Filippense 2:8). Van Genesis tot Openbaring vertel die Bybel God se verhaal en wys dit hoe ons inpas in Sy Koninkryk. Van begin tot einde is dit ‘n verhaal van ‘n God wat persoonlik is en ‘n verhouding met mense wil hê.”
Altyd.
Matteus 22:37–39 is persoonlik en verhoudingsgerig. Die oproep in 1 Tessalonisense 4 en 5 om mekaar aan te moedig en op te bou, is persoonlik en verhoudingsgerig. En dit is maar net ‘n paar voorbeelde. God is altyd persoonlik en verhoudingsgerig, en ons behoort ook so te leef. Selfs wanneer ons sê: “Dis niks persoonlik nie; dis net besigheid,” bly dit persoonlik. Dit is nooit bloot net besigheid nie. Laat ons die Bybel lees soos geliefdes wat met verlange na mekaar soek. Van vóór die begin af was God persoonlik en verhoudingsgerig, en selfs ná die einde van hierdie wêreld sal Hy steeds persoonlik en verhoudingsgerig wees. Dink daaroor.
Ek is die Social Porter van Living In His Name Ministries.
Vertaal deur Chané de Clercq Walke