Hierdie jaar is ek 72. Dit is nie so oud in vergelyking met sommige mense nie, maar vir my voel dit nogal lank, veral as ek dink aan die feit dat ons bure, toe ek ’n kind was, gesê het: “Daardie seun sal waarskynlik nie eers sewe jaar oud word nie.” Ek was seker maar ’n gevaarlike kind. Dit is die dae waarvan ek in my jeugdige onkunde gedink het ek nooit sou sien nie. En tog is ek hier — op een of ander manier het ek ’n lang skaduwee in my Christelike gemeenskap gewerp. En tog, daar is dit. Verbasend genoeg leef ek steeds — en ek bid steeds, eintlik meer as ooit tevore, met groter doelgerigtheid en ’n groter visie. Ek leef en wandel elke dag, die hele dag, in ’n persoonlike, stralende en diep verhouding met God, in voortdurende gesprek met Hom. Ek het nooit gedink ek sou hierdie vlak van intimiteit met God beleef nie. Trouens, dit was nie eens binne my vermoë om my so ’n wonderlike iets te verbeel nie. “Dink” — of beter nog: “Dink oor hierdie dinge na.” Filippense 4:8 sê: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lofwaardig is — watter deug of watter lof daar ook al mag wees — bedink dit.” Kan jy dit glo?! Iemand so groot en ewig soos die Koning van die heelal het Hom neergebuig om die klein stofkorreltjie op die vensterbank, wat ek is, te ken — en Hy wil eintlik my vriend wees. Hy ken selfs my naam!
Ongeag myself en my malle lewe, het God dit so bewerk dat ek “’n lang skaduwee werp.” Dit mag dalk ’n “lang skaduwee” wees wat gewerp word en wat net God kan sien, maar dit is nietemin daar. Om “’n lang skaduwee te werp” kan: óf as ’n idioom óf, as ’n metafoor verstaan word, en in my geval is dit eerder ’n idioom as enigiets anders. Ter wille van duidelikheid: ’n idioom is ’n algemene uitdrukking waarvan die betekenis nie letterlik verstaan moet word nie, maar figuurlik is en dikwels uit ’n bepaalde kultuur voortkom. Byvoorbeeld, wanneer daar in Eksodus 32:9 van ’n “hardnekkige” volk gepraat word, beteken dit dat hulle koppig of opstandig is. In Daniël 2:33–34 dui die beeld van “voete van klei” op ’n verborge swakheid in iemand wat sterk voorkom, maar uiteindelik bestem is om in duie te stort.
Wanneer dit op mense betrekking het, beteken “om ’n lang skaduwee te werp” dat iemand ’n betekenisvolle, wydreikende of blywende invloed het — ’n lewenswyse wat ander mense diep beïnvloed. Dit kan positief wees, soos wanneer iemand se prestasies toekomstige geslagte inspireer, of negatief, soos wanneer iemand skandelik opgetree het of ander mense geïntimideer het, moontlik selfs vir ’n paar geslagte lank. Wanneer ons sê dat ’n gelowige iemand is wat “’n lang skaduwee werp”, gaan dit oor nalatenskap. Dit beteken dat ons wandel met die Here ’n invloed het op mense en gebeurtenisse wat nog in die toekoms lê.
As Christene kan die eienskappe van die Vrug van die Gees, oftewel die karakter wat die Gees in ons voortbring, ’n “lang skaduwee” werp. Dit gaan oor meer as net wat ons doen; oor meer as om bloot “op pad” te wees. Dit gaan eerder oor hoe ons ons pad stap terwyl ons in Die Weg is. Dit gaan nie bloot oor die woorde wat ons gebruik nie, maar oor hoe ons ons woorde gebruik — en dit sluit ons gesigsuitdrukkings, liggaamshouding en stemtoon in. Verstaan jy wat ek bedoel? Byvoorbeeld: my vasberadenheid om eerlik te wees — en ek bedoel daarmee eerlikheid tot in die diepste van my wese — beïnvloed die mense rondom my om ook eerlik te wees. Dit mag ander mense ongemaklik laat voel, maar dan moet ons vra: “Waarom voel hulle ongemaklik?”
Om ’n bekende sendeling, C. T. Studd, aan te haal: “Net wat vir Christus gedoen word, sal bly.” En hy praat nie bloot van werke nie, maar veel eerder van hoe ons leef en wie ons is — of, soos ons dit vroeër gestel het: “die manier waarop ons ons pad stap terwyl ons in Die Weg is.” Wat hy gesê het, weerspieël 1 Korintiërs 3:12–15: “En as iemand op hierdie fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi of strooi, sal elkeen se werk aan die lig kom. Die Dag sal dit bekend maak, omdat dit deur vuur geopenbaar sal word; en die vuur sal elkeen se werk toets om te bepaal van watter aard dit is.”
Vir jare lank het ek hard gewerk as musikant. Ag, man! Ek het getrou my toonlere geoefen, my Bybel gelees, gebid, van Jesus getuig, getrou kerk toe gegaan, my tiende soos ’n goeie seun gegee — en dan weer my toonlere geoefen. Dag in en dag uit. Ek het saam met die aanbiddingsgroepe van verskeie kerke gespeel, by groot én klein byeenkomste — eintlik oral waar ek kon. Ek was beslis besig om ’n lang skaduwee te werp, maar ek is bevrees dit was nie ’n goeie een nie. My “lang skaduwee” het eintlik net oor myself gegaan. Van buite het ek goed gelyk, maar van binne was ek stadig besig om dood te gaan. Ek het egter glad nie aandag gegee aan wie ek werklik was nie, maar eerder aan hoe ek voorgekom het en hoe goed ek gevaar het. Ek was voortdurend besig om myself te meet: Hoe goed is goed genoeg? Hoe sleg is té sleg? Het ek die regte, kerkagtig-klinkende dinge gesê? Het die mense van my gehou? En so het dit aangehou, ad nauseam — ’n Latynse uitdrukking wat beteken “totdat ’n mens naar word daarvan.” Dit het nooit eers by my opgekom om te vra watter soort mens ek eintlik was nie. Jesus het gesê: “Ek IS die Weg,” maar ek het nooit gedink aan die manier waarop ek my pad gestap het terwyl ek in Die Weg was nie.
Eers gedurende die afgelope twintig jaar het God uiteindelik my aandag begin vestig op wie ek was en hoe ek geleef het. Ek het begin besef dat dit baie belangriker is as my vermoë om Skrifgedeeltes aan te haal — iets wat ek dikwels gedoen het sodat ek geleerd en vroom kon voorkom. Ek het selfs ander mense nageboots wat ek hoor preek of bid het, sodat ek indrukwekkend kon voorkom — sommer regtig indrukwekkend — en sodat almal kon sê: “Sjoe!” En dit nogal baie. Maar nog belangriker was die vrae wat ek moes begin vra: Het ek eerlikheid, integriteit en toewyding werklik waardeer? Het ek my woord gehou? Het ek groter waarde geheg daaraan om Jesus werklik te ken? Was my verhouding met God een van behoort en verbondenheid? Het ek Jesus as my Vriend vir altyd geken? Al daardie lawaaierige lewe en die voortdurende bedrywighede — daardie lewe waarna ek voluit gestreef het — was, sonder Christus as die fokus en einddoel, ’n doodloopstraat. En dit is steeds so. En dit sal altyd so wees. Sonder Christus as die middelpunt en einddoel van alles wat ons doen, lei selfs die besigste en indrukwekkendste lewe uiteindelik nêrens heen nie.
Laat ek jou dus vra: Watter soort nalatenskap sal jy agterlaat?Eendag — daarvan kan ek jou absoluut verseker — sal jy nie meer hier wees nie. Jy sal nie meer onder hierdie hemel leef, hierdie lug inasem, hierdie water drink of op hierdie aarde wandel nie. Ek weet dit is moeilik om jou voor te stel dat jy eendag nie meer hier sal wees nie, want dit is immers die enigste plek waar jy nog ooit geleef het. Maar daar sal ’n dag kom wanneer alles wat jy geken het, verander. Dink daaroor! Werp jy ’n lang skaduwee? En watter soort skaduwee is dit? Luister na my — ek is oud, en ek glo regtig dit is belangrik: nadat jy weg is, is dit baie waarskynlik dat die meeste van jou besittings, foto’s en al, binne ’n paar geslagte by ’n tweedehandse winkel of in die vullis sal beland. Binne drie geslagte sal byna niemand jou naam nog onthou nie. Die enigste Een wat jou en alles wat jy gedoen het, sal onthou, is God. In die lig daarvan wil ek, meer as enigiets anders, hê dat my “lang skaduwee”, my nalatenskap, een van vriendelikheid moet wees en nie van persoonlike grootheid nie. Ek wil eerder ’n voorspraak wees as ’n aanklaer. Ek wil die wêreld om my beïnvloed deur goddelike geduld en goddelike grense, en vrygewig wees soos God vrygewig is. Jou dade skep eggo’s wat deur die wêreld om jou weerklink. As iemand my onthou, wil ek hê hulle moet dink aan hoe ek my naaste liefgehad het. Ek wil onthou word as die man wat geluister het — wat werklik gehoor het wat ander mense gesê het — en as iemand wat ’n wysheid gehad het wat net God kon gee. En dit is maar net ’n paar dinge. Wie jy is, is belangriker as die groot dinge wat jy gedoen het. Al daardie dinge wat jy dink so wonderlik is — wanneer alles gesê en gedoen is — sal net dit wat in Christus gedoen is, bly staan.
As jy ’n verskil wil maak, glo ek die grootste verskil wat jy kan maak, is om aan die gelykenis van die Seun, Jesus, gelyk te word. Wees soos Jesus. Bestudeer Jesus. Praat met Jesus en leer om elke dag, deur die loop van jou gewone lewe, voortdurend met God in gesprek te wees. Vra jouself af: Watter soort “lang skaduwee” werp jy? Dink daaroor.
Vertaal deur Chané de Clercq