Jesus, U het dit reggekry! U het my spyt en diepe hartseer verander. U het my swart rouband van my arm afgeruk. U het my nie alleen gelaat nie. U het my ruimte gegee om asem te haal. U het my uit die sloot getrek, uit die diep modder gelig, en my laat spring en draai van vreugde—ek het myself heeltemal oorgegee aan U liefde. Toe my sondes my oorweldig het—opgehoop, stinkend en oneindig baie—en ek geleef het op ’n dieet van trane, het God ingetree… en my ’n gedig tot Sy eer gemaak.
Wie is God? Kom ons praat oor Sy onsigbare eienskappe: God stel nie uit nie. Geen statistiek of geskrewe woorde kan Hom werklik beskryf nie. God tree in. Hy is ongelooflik goed daarin om God te wees—en Hy gee nooit op nie. Ons mag dalk besluit om op te gee, maar God gee nooit op nie. Sy liefde is absoluut vasberade. God is genadig en goedhartig. Hy het ons lief die hele dag en sing liedere oor ons in die nag. Hy maak die naam van dié wat in Hom glo, skoon. Hy gee Sy lantern en kompas aan dié wat Hom liefhet. Hy teken vir ons ’n kaart en gee ons wysheid en insig om die pad te volg. God se beloftes is altyd, altyd, altyd… en ja, ja, ja.
Baie jare gelede, toe ek in groot moeilikheid was, het ek geweet daar is net één plek waarheen ek kan gaan: na God toe. Wat is dit vir ons werd om oor te gee aan God? Toe al my vriende wat belowe het hulle sal daar wees—maak nie saak wat nie—verdwyn het… en ek gewens het ek kon ook verdwyn, het God ingetree. Toe ek geen idees meer gehad het nie, geen verbeelding oor nie, geen drome oor nie—en ek my einde bereik het—het God ingetree. In daardie tyd van my lewe het ek geen idee gehad waarheen om te gaan nie, wat om te doen, wat om te sê of hoe om op te tree nie. Ek het nie eens ’n vae benul gehad van wat om te verwag of wat volgende sou gebeur nie. Toe het Jesus op die toneel verskyn! Toe ek vasgevang was in die sluitgreep van sonde, het Jesus ingespring—Hy het die bene onder my gebondenheid uitgeslaan en dit platgetrek vir die oorwinning. Ek het gedink dit was die einde van die pad vir my… Maar toe tree God weer in—om my innerlike en geestelike stryd op te los.
Tree God dan werklik in die sake van die wêreld in? En as Hy dit doen, is daar enige onmiskenbare voorbeelde van hierdie goddelike ingryping? Het God dalk vingerafdrukke op Sy handewerk gelaat?
Ek glo ons kan met vertroue wys na baie voorbeelde van God se ingryping. Alles van die nederlaag van die Spaanse Armada tot die bestaan van die moderne Israel dien as getuienis dat God in die geskiedenis ingetree het. Daar is natuurlik ook die wonderwerke in die Bybel, opgeteken deur ooggetuies, en dan is daar die skepping self.
Aan die ander kant van die spektrum is daar ook gelowiges wat alles as God se ingryping sien—soos wanneer ’n goeie parkeerplek oop is en dit as ’n duidelike wonderwerk van God beskou word. ’n Skielike windvlaag of die toevallige ontmoeting met ’n vriend word maklik gesien as ’n teken van God om ’n ander rigting in te slaan. Miskien is dit, miskien is dit nie.
Hoewel hierdie ingesteldheid dalk meer Bybels is as dié van iemand wat God se betrokkenheid heeltemal ontken, bring dit wel sekere gevare mee. Om feitlik alles as goddelike ingryping te interpreteer, kan lei tot baie subjektiewe gevolgtrekkings. Baie keer, wanneer ons aan die einde van ons eie kragte kom, moet ons eerlik wees—ons het ’n geneigdheid om dinge op ’n manier te sien soos wat ons dit wíl sien.
Dit is aanloklik om wolkvorms te probeer ontleed om “bewyse” te vind van wat ons wil hê God se wil moet wees—in plaas daarvan om Sy wil werklik op ’n Bybelse manier te soek.
Maar om terug te kom by die onderwerp: ek glo God tree in, in die lewens van elke lewende wese op aarde—of hulle dit glo of waardeer of nie. As God nie op een of ander manier sou ingryp nie, glo ek die lewe sou dadelik vinniger verander na vernietiging, en binne ’n oogwink tot niks verval.
Genesis 20:1-18 is ’n goeie voorbeeld—Abraham was ongehoorsaam, maar toe hy die Here gesoek het vir hulp, het God namens hom ingetree. God tree selfs in ten bate van ongelowiges, want “so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het…” Selfs toe die mensdom nie in God geglo het nie, of Sy liefde as waardevol beskou het nie, het God tog ingetree en redding beskikbaar gemaak vir enigeen wat sou bekeer en Sy Naam aanroep.
God tree in! Hy is die Hoof-Ingrypende—en Hy is gewillig om jou doodsvonnis te kanselleer. Oorweeg Sy liefde ernstig, want jou lewe self is op die spel.
Vertaal deur Chané de Clercq
Ek is Social Porter van Living In His Name Ministries.