Net omdat God iets weet, beteken dit nie Hy het dit bestem om so te gebeur nie. Ons kla: Hoekom doen God dit of dat vir my? Of as Hy geweet het dit gaan gebeur, hoekom het Hy dit nie gestop nie? Of my gunsteling: As God ons so liefhet, hoekom behandel Hy ons dan só?
Ek het al baie keer hierdie seer en teleurgestelde woorde gehoor, so ek maak dit nie op nie. Byvoorbeeld:
’n Man en ’n vrou het ’n motor wat sowat R12 000 herstelwerk nodig het. Ja, dit loop nog, maar dit raak elke week slegter. Hulle het nie daardie geld nie, en hulle kom net-net oor die weg elke maand. Hulle kan glad nie ’n sent meer afstaan nie. Hulle is vasgevang en weet nie wat om te doen nie. Hulle het al vir God gebid en gevra wat hulle moet doen. Hulle gee altyd tiendes volgens die kerk se reëls. Hulle is goeie mense in die wêreld se oë, net op die oomblik in ’n moeilike tyd.
Op ’n Sondagmiddag, na die kerk, besluit die man en vrou om ’n bietjie te ry. Hulle ry die dorp op en af, en toe ry hulle by ’n groot motorhandelaar verby. Skielik kry hulle die idee om te stop en ’n bietjie te droom, want drome is mos deel van God se idee, en niks is verkeerd daarmee nie. Trouens, om “wat as” te speel by die motorhandelaar bring bietjie verligting in hul moeilike tyd. Terwyl hulle na motors kyk, kom ’n verkoopsman uit en begin ’n geselsie. Hy vra: As hulle kon, watter motor sou hulle graag wou hê? Hulle sê vir hom dit maak nie saak nie, want hulle kan nie eens hul ou motor regmaak nie, nog minder ’n nuwe een koop. Die verkoopsman lag sag en sê hy verstaan hoe dit voel. Hulle hou van hom; hy het daai vriendelike, “jy-kan-my-vertrou” blou oë.
Die verkoopsman vertel van ’n spesiale naweekaanbod en sê hulle moet net ’n bietjie droom en “kom ons kyk net na die syfers, net vir die plesier.” So, “net vir die plesier,” stem die man en vrou in om die kantoor toe te gaan. Die verkoopsman wys hulle hoeveel hulle vir hul ou motor sou kry en wat hul maandelikse paaiemente sou wees. Met ’n warm stem vertel hy hulle dat as hulle die motor kry wat hulle wil hê, veral nou met die spesiale naweekaanbod, hulle nie meer die ou motor hoef reg te maak nie. Hulle kan in styl rondry, net soos hulle gedroom het. Hy vra toe: “Kan julle dit net voorstel?” Hulle kan hulself sien in die mooi motor, sonder sorg, glimlaggend ry, en alles sal goed wees. Hy vra weer: “As ek my bestuurder kan kry om die maandelikse paaiemente goed te keur, sal julle dit ernstig oorweeg? Dit is immers ’n eenmal-in-‘n-leeftyd aanbod!”
Terwyl die verkoopsman weg is, bid die man en vrou opreg: “As dit U is, Here, vra ons dat die syfers goedgekeur word, sodat ons weet dit is U wat hierdie wonderwerk reël.”
Wat hulle nie besef het nie, is dat selfs ’n bankrot misdadiger krediet kon kry in hul staat, en natuurlik kom die verkoopsman terug met ’n glimlag en sê opgewonde: “Hy het dit goedgekeur!” Die verkoopsman het presies dit gedoen, en hy het saam met hulle God geprys vir die wonderwerk. Hulle het die dokumente geteken, hul ou motor agtergelaat en in die nuwe motor gery, dinkend: “Dit moet God wees! Dit moet God wees!” Singend en bly oor die wonder van die Here.
Twee maande later, toe hulle besef hulle gaan bankrot wees en hulle gaan die motor verloor omdat hulle nie die paaiemente kan maak nie, en alles anders ook verloor, was hulle kwaad en bitter. In ’n uitbarsting van frustrasie het hulle gesmeek en gehuil: “Hoekom doen U dit aan ons, God?? Hoekom behandel U ons so? Hou U nie van ons nie?!?” Hoe gebeur dit dat wanneer dinge goed gaan, ons so vol vertroue is dat God ons liefhet met al ons drome, maar wanneer dit moeilik raak en ons sweet en moeg word, vra ons skielik waar is God en of Hy ons nog liefhet? Het Hy skielik verander in iemand wat onbetroubaar is, of was dit ons?
Het die Here dit aan hulle gedoen? Wie is verantwoordelik vir die omstandighede? Wat dink jy kon hulle gedoen het en wat dink jy moet hulle nou doen in hul situasie? Het God dit regtig aan hulle gedoen? Nee. Is die gevolge van hul aksies ’n aktiewe oordeel van God teen hulle, of is dit die passiewe gevolg van swak keuses wat hulle self gemaak het? Wees eerlik.
As jy vasbeslote was om met die verkeerde persoon te trou, het God dit aan jou gedoen? Nee. En al is jy vasbeslote om met die verkeerde persoon te trou, sal die Here jou nie verlaat nie. Hy gaan saam met jou deur al jou probleme en laat jou nie alleen met jou ellende nie. Net omdat Hy weet ons gaan met mekaar bots in hierdie huwelik, beteken dit nie Hy het bepaal dit moet gebeur nie. Ek sê, God se kennis beteken nie sy goedkeuring nie. God is nooit wreed nie. Net omdat Hy geweet het jy gaan met jou huweliksmaat bots, beteken dit nie Hy het gesê: “Doen dit so nie.”
Die Here is goed, en God is altyd goed. Hy doen nie net goeie dinge nie, Hy weet nie net goeie dinge nie, Hy is meer as net aangenaam en vertroostend — Hy is die lewende persoon van die goedheid self. Hy is perfek goed omdat Hy in elke opsig perfek is en verander nie soos wolke in die lug wat altyd van vorm verander nie. Hy is perfek konsekwent, perfek liefderyk, perfek vriendelik, perfek vrygewig en perfek goed, al die tyd en Hy verdwyn nooit nie.
Kom ons dink nou mooi daaraan, wees eerlik, verantwoordelik en openlik oor onsself en ons lewens. Sy hart teenoor ons is liefde in alles wat ons doen. Kom ons laat nie toe dat ons terugval en God die skuld gee nie — die een en enigste persoon in die heelal wat ons so liefhet dat Hy sy lewe vir ons gegee het.
Wat dink jy?
Vertaal deur Chané de Clercq