Om volwasse te wees bring verantwoordelikhede en ’n karakter mee wat ons nooit kon voorstel toe ons eers begin glo het nie.
Hebreërs 12:12-14 sê:
“Versterk julle moeë arms en swak knieë, maak reg die paaie vir julle voete, sodat wat mank is nie erger word nie, maar eerder genees word.” Jare gelede, toe ek in Charlotte, North-Carolina, gewoon het, het ek alleen in die donker op my agterstoep gestaan. Ek het voor die Here gehuil en gevra: “Hoekom, hoekom is ek altyd in die middel van ’n probleem? Hoekom voel ek asof ek teen die wind in hardloop, en altyd in ’n dilemma vasgevang is? My kop en my hart is moeg!”
Terwyl ek daar staan en die wind deur die boomtoppe hoor fluister, het ek stilletjies gehuil. Trane van frustrasie het oor my ken geloop. Toe hoor ek die Here sagkens sê: “Meeste kere is dit die enigste tyd wat jy na My toe kom met oop handpalms.” Ek was nie in sonde nie. Ek het nie geweet van ’n groot fout of ongeloof nie. Ek het selfs van dinge berou gehad waarvan ek nooit gedink het nie, net om seker te maak ek het niks gemis nie. Maar tog het niks verander nie.
Jy weet, as jy in die middel van ’n wonder is, lyk dit dikwels nie soos ’n wonder nie. God was besig om my hart te verander, maar dit het nie so gevoel nie. Nou kan ek sien ek het myself vernietig — myself die skuld gegee vir alles wat verkeerd gaan, myself met kwaai woorde in die spieël bestraf. Spyt en hartseer het my vasgekeer en wou nie loslaat nie. Daar het ’n wortel van bitterheid gegroei,
wat my voete vasgekring het, gevoed deur selfhaat, bewater met teleurstelling en frustrasie. God wou hê ek moes grootword en in Hom glo.
Jesus sê in Matteus 22:39:
“Jy moet jou naaste liefhê soos jý jouself liefhet.” Maar hoe leer ek om myself lief te hê? Hoe lyk dit? Let op wat Jesus sê: “Wees lief vir jou naaste soos jy jouself liefhet,” nie “verag jou naaste soos jy jouself verag” nie. Ons weet dit, maar diep binne sê ons soms: “As ek God was, sou ek ook nie van my gehou het nie.” Jesus sê “wees lief,” nie “verag” nie. As ons onsself verag, is die kans groot dat ons ook ons naaste sal verag. God het ons lief, maar dinge wat vir ons snaaks was toe ons drie was, sal ons laat brand wanneer ons tien is.
Ons lag vir grappies, maar as ons eerlik is, lag ons dikwels vir iemand anders se ongeluk. Ek wonder of daardie snaakse oomblikke dalk ’n wortel van bitterheid in ons harte verberg. God wil hê ons moet grootword — volwasse gelowiges wees, die Woord reg hanteer (1 Timoteus 2:15), sterk wees in Sy Naam en krag (Efesiërs 6:10), en ander troos in hul lyding, want ons self word ook deur God vertroos (2 Korintiërs 1:4). Dit is moeilik om volwasse te wees as ons aanhou om onsself in die spieël te veroordeel.
In Hebreërs 12:13 sê die vertalers “van die pad afgedwaal,” maar ’n beter beeld is iemand met ’n ontwrigte arm of been — iets wat reggemaak moet word. God vorm ons tot mense wat bereid is om eerlike gesprekke met onsself en ander te hê, gesprekke wat reguit paaie vir ons voete maak, en dit wat ontwrig is, weer op sy plek te sit. Laat ons volwasse gelowiges wees wat in karakter en in die lewe soos God lyk — net soos kinders wat soos hulle ouers lyk en hulle gewoontes aangaan. Laat ons wandel onder die leiding van God se Gees, en rustig lewe in Sy geregtigheid, vrede en vreugde (Romeine 14:17).
Ek glo baie mense sien hulleself nie reg nie. Wanneer jou gewete jou in die spieël aankyk moet jy jouself seën en nie vervloek nie. Vertel die waarheid vir jouself met vriendelikheid en genade, en onthou aan wie jy behoort, sodat jou moeë arms versterk word en jou swak knieë krag kry, en sodat liefde en goeie dade aangewakker word in jou lewe. (Hebreërs 10:24). Wees sterk en moedig! Dit is profetiese woorde — iets wat al gebeur het en steeds gebeur. Wees sterk en moedig!
1 Korintiërs 13:11 sê:
“Toe ek ’n kind was, het ek soos ’n kind gepraat, gedink en verstaan; maar toe ek volwasse geword het, het ek die kinderagtige dinge agtergelaat…”
Vertaal deur Chané de Clercq