213 Die Armoede van Gierigheid

[Kapelaan Steve Welborn het oor hierdie onderwerp gepraat, en ek het gedink dit is baie relevant vir vandag.]

Armoede is een ding, maar om só gierig te wees dat ons te arm is om aandag te skenk? Ja, dít is ’n heel ander storie. Wanneer armoede met gierigheid gepaardgaan, skets dit ’n prentjie van die hart en siel van baie mense in ons wêreld vandag—mense wat skynbaar heeltemal geïnspireer word deur die verdorwe wêreld sonder Jesus waarin ons leef. Ja, geïnspireer deur goddeloosheid. Maar as goddeloosheid jou inspirasie is, is dit eintlik glad nie inspirasie nie. Belaglik! Die flikkerende ligte en advertensies wat uitroep: “Kry dit soos jý dit wil hê! Jý is in beheer!” laat ons verdwaal in al die glans en vertoon. Dan is daar die blink beelde in klerewinkels wat die indruk skep: “As jy net hierdie hemp of daardie rok gehad het, sou jy ongelooflik wees en almal sou jou wou hê!”

Komaan, vriende, gebruik julle verstand en dink ’n bietjie. Wanneer Jesus die middelpunt is van alles wat ons doen, keer dit die wêreld se idees heeltemal op hulle kop. Dit gaan nie oor selfverheffing nie, maar oor selfverloëning. Ware verhoging kom uit die beginsel: “Nederigheid kom vóór eer”—met ander woorde, Jesus kom vóór ons eie begeertes en verlange. As die behoefte dat ’n persoon of ’n kerklike stelsel jou moet erken en bevestig voortdurend in jou karakter werksaam is, moet jy besef dat dit waarskynlik uit onsekerheid of die neiging om jouself met ander te vergelyk, voortspruit. Dit kan maklik daartoe lei dat jy al hoe meer dinge begin toelaat wat jy vroeër nie sou aanvaar het nie, en selfs uiteindelik tot onsedelikheid lei.

In watter vrugbare grond is ons gewortel? As ons gewortel is in ’n lewe wat God verheerlik en ander dien, is dit ’n gesonde deel van ons geloof. Kyk, Jesus Self het heerlikheid van die Vader gesoek. Dit wys dat die begeerte na heerlikheid nie op sigself verkeerd is nie; dit gaan eerder oor by wie ons dit soek en met watter gesindheid ons dit begeer. Johannes 17:1–5:

“Nadat Jesus dit gesê het, het Hy sy oë na die hemel opgeslaan en gesê: ‘Vader, die uur het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers gesag gegee oor alle mense, om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat U gestuur het. Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik My by U met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.’”

Om dit weer te beklemtoon: dit is nie begeerte op sigself wat verkeerd is nie, maar eerder dit waarop ons begeerte gerig is. En moenie in daardie soort swart-en-wit-denke verval en begin glo dat alle dinge waarna ons verlang, verkeerd of verdraaid is nie. Baie van ons het immers ’n diepe verlange, ’n begeerte, om Jesus te ken. Begeerte op sigself is dus nie die probleem nie. Laat ons onderskeidingsvermoë gebruik om dit reg te verstaan. Wanneer enige persoon of enigiets anders met God begin meeding vir die eerste plek in ons harte—ááh, dán word dit afgodery en sonde. Wanneer die fokus van my begeerte daarop gerig is om die grootte van ’n gemeente te tel omdat my hart daarop ingestel is om ’n koninkryk vir myself te bou, soos dié wat verlore raak in die wêreld van megakerke; wanneer my begeerte daarop gerig is om my eie gees bo my vlees te verhef en my gierigheid aan te vuur om méér te probeer wees as wat ek is, net sodat ek ’n titel of platform kan verkry, of ’n boekkontrak kan losslaan—dán het ons ’n probleem.

Dit is die gesig van gierigheid, en dit sal ons dryf—nie lei nie, maar dryf—om mense te word wat God as “arm” beskou.

In Markus 4 is Jesus gelei; in Markus 8 is die man wat deur demone geteister is, gedryf.

Geloof lei — gierigheid dryf.

So kom ons dan by “die armoede van gierigheid” en by dit wat aan die wortel daarvan lê. Ek hou daarvan om mense se menings te vra, en daarom het ek tussen mense beweeg en die volgende vraag gevra: “Wat lê aan die hart van die armoede van gierigheid?” Hier volg ’n paar van die antwoorde: Byron Wicker het geskryf: “Dit is vrees en ’n gebrek aan vertroue dat God genoeg en volkome voldoende is.” Ek sê: Daardie selfde vrees en gebrek aan vertroue sal ons stadig maar seker in diepe armoede van gees en denke indryf, en uiteindelik kan dit selfs ons liggame raak—moontlik tot ons eie ondergang. Eugene Peterson het gesê: “Gierigheid is die aanname dat alles vir my en oor my gaan.” Henry Nouwen het geskryf: “Gierigheid is gewortel in die vrees dat ’n mens nie genoeg sal hê nie.” ’n Anonieme antwoord was: “Gierigheid is die behae daarin om op jouself en jou eie vermoëns staat te maak, eerder as om eenvoudig tevrede te wees met genade.” Nate Seabury het geskryf: “Gierigheid is liefde wat uit orde geraak het—om op iets anders as God te vertrou en daarna te smag vir sekuriteit, vreugde en identiteit.” Die armoede van gierigheid is daardie knaende behoefte wat te midde van ons moeilike onsekerhede al hoe sterker word, totdat dit ons uiteindelik laat leef soos mense wat “arm” en “brandarm” genoem word. Om jou brood met die armes te deel, is inderdaad ’n daad van goedhartigheid, maar ons moet tog self brood hê om te kan deel. Het jy brood om te deel? Die armes is nie noodwendig dié wat min besittings het nie, maar dié wat arm van gees is—mense wat swaar gebuk gaan onder skaamte; wat in die verslete skoene loop van iemand wat al baie ver gestap het, maar nooit êrens uitkom nie; wat moeg is daarvan om moeg te wees; wat aanhou om teen die wind te hardloop en voel asof alles rondom hulle begin om hulle te versmoor.

Hier is nog ’n paar dinge wat, volgens my, diep aan die wortel van “die armoede van gierigheid” lê: Die vrees dat niemand my raaksien nie, en daarom tree ek op maniere op wat verseker dat ander my móét raaksien; die vrees dat niemand na my luister nie, en daarom kyk ek na predikers op YouTube om indrukwekkende dinge te kry wat ek kan sê en bid, en dan herhaal ek dit alles tydens my kleingroepbyeenkomste. En almal sê saam: “Sjoe!” Dit is die vrees dat God ons nie werklik liefhet soos Hy sê Hy ons liefhet nie, en daarom word ek iemand wat gedurig negatief en neerslagtig is; die vrees dat ek geen waarde het nie, en daarom druk ek myself in verhoudings en situasies in waar niemand my gevra het om betrokke te wees nie. Ek wil hê, ek wil hê, ek wil hê! Gee my nog, gee my nog, gee my nog! Maar dan word ons gekonfronteer met die woorde van Psalm 23: “Ek sal niks kortkom nie.”

Gierigheid gaan nie bloot daaroor om meer te wil hê nie—o nee. Dit spruit ook voort uit die vrees om beheer te verloor en die vrees vir wat voorlê. Dit is ’n daad van selfbeskerming wat gewortel is in die vrees dat God nie sal voorsien nie. En, sê ek, die armoede van gierigheid is ook gewortel in ’n totaal misplaaste vertroue in dit wat ek “opgehoopte wrokke” noem. Ons almal moet besef dat opgehoopte wrokke altyd na regverdiging soek. En al daardie opgehoopte wrok—opmekaar gestapel, stinkend en stomend, die een laag bo-op die ander—sal ons in ons denke en gees tot armoede dryf. Weereens, vriende: om ons brood met die armes te kan deel, moet ons self brood hê om te deel. Hoe gaan ons dit regkry? Ons sê ons ken die antwoord, maar hoe dikwels leef ons werklik nederig daarvolgens? Clemens van Alexandrië het geskryf: “Die armoede van gierigheid is een van die wreedste teenstrydighede van die menslike bestaan: hoe verbete iemand eindelose rykdom en bekendheid najaag, hoe dieper verarm daardie persoon—nie in sy beursie nie, maar in alles wat ’n lewe werklik ryk maak.”

Stel jou iemand voor met groot skure, baie volgelinge en groot gemeentes wat net aanhou uitbrei totdat alles soos ’n megakerk begin lyk—vir megamense, wat mega-aanbiddingsliedere sing, saam met ’n mega-aanbiddingsgroep, en megadinge om megaredes doen—terwyl mense vasgevang word deur van hulle te verwag om trou aan ’n bepaalde kerkverband te sweer. Op ’n manier begin dit amper lyk asof mense tot slawe gemaak word. Tog lyk dit asof elke nuwe aanwins net die bodemlose honger na die volgende een verder aanwakker. Die meul van plesier draai nie net nie—dit draai letterlik al hoe vinniger. Daardie honger mega-gelowiges mag van buite na oorvloed lyk, maar van binne ly hulle dikwels aan ’n voortdurende gevoel van tekort: Daar is nooit genoeg nie.

Weet julle dan nie dat gierigheid in die toekoms van “wat as?” leef nie, of in die verlede—in die vrees vir wat dalk verlore kan gaan—maar selde werklik in die hede, hier en nou, teenwoordig is? Ware rus vereis dat ons God vertrou, maar die armoede van gierigheid fluister: “Jy vertrou Hom nie,” en dan word angs jou normale lewenspatroon.

Spreuke 30:15–16:

“Die bloedsuier het twee dogters: ‘Gee!’ en ‘Gee!’—meer en meer. Drie dinge word nooit versadig nie, ja, 4 wat nooit sê: ‘Genoeg!’ nie:

die doderyk, die onvrugbare moederskoot, die aarde wat nooit genoeg water kry nie, en die vuur wat nooit sê: ‘Genoeg!’ nie.”

Ek dink—wanneer “meer” die enigste maatstaf geword het wat oorbly—ek weet dit nie vir seker nie, maar ek glo dit wel—word die lewe afgeplat tot ’n leë, betekenislose bestaan met net een dimensie. Seneca, ’n filosoof wat baie lank gelede geleef het, het die armoede van gierigheid uitstekend saamgevat:

“Dit is nie die mens wat te min het wat arm is nie, maar die mens wat voortdurend na meer smag—DÍT is die een wat arm is.”

Hulle eindig met vol hande, maar leë geeste.

Ons het Jesus bitter nodig.

As ons God nie vertrou om volgens sy rykdom in heerlikheid in al ons behoeftes te voorsien nie, kom die kolkende, afwaartse maalkolk van wanhoop al hoe nader aan ons. En weet julle wat die hartseerste deel is? Die meeste mense besef nie eens dat hulle daarin leef voordat daardie honger reeds al die ander dinge in hulle lewe verteer het nie.

Ons móét eenvoudig kies, en ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir ons keuses.

Vertrou ons God, of nie?
Glo ons God, of nie?

Vriende, die tyd raak min, en die oomblik waarop ons moet kies, kom vinnig nader.

Wat sê julle?

Jesaja 49:4:

“Ek het geantwoord: ‘Maar dit lyk asof my werk nutteloos was! Ek het my krag verniet en sonder enige doel opgebruik. Tog laat ek alles in die HERE se hand; ek sal God vertrou vir my beloning.’”

Ek is Social Porter vir Living in His Name Ministries.

Vertaal deur Chané Walker

Leave a Reply