035 God Is Nie Weggesteek Nie

Romeine 1:18-21 sê: “Want die toorn van God word uit die hemel geopenbaar oor alle goddelose en onregverdige mense wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk, omdat dit wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit vir hulle getoon. Sedert die skepping van die wêreld is sy onsigbare eienskappe duidelik gesien en verstaan deur die dinge wat gemaak is – selfs sy ewige krag en godheid – sodat hulle onversskrokke is.”

 God is nie versteek nie, maar ons is steeds besig om onsself weg te steek. Al van die tyd van Genesis af, toe Adam en Eva in die tuin weggekruip het weens sonde, het God nooit vir die mens weggekruip nie. Sy werke is vir almal sigbaar wat bereid is om te kyk. Letterlik, sy vingerafdrukke is oral op alles sigbaar.

Daar is geen verskoning om nie in God te glo nie. Hy het Homself duidelik aan die wêreld en aan elke mens se gewete bekend gemaak. Kom nou, Sy vingerafdrukke is oral sigbaar. Net deur na die sterre in die nag te kyk, behoort dit enigeëen te oortuig dat daar ’n Skepper is. Verder glo ek dat almal diep binne hulself weet dat daar ’n God is, en dat elke mens met ’n gevoel van reg en verkeerd gebore word. Reis na die verste uithoeke van die wêreld, en beide God-aanbidders sowel as God-haters is dit eens dat steel verkeerd is, lieg verkeerd is, egbreuk verkeerd is, verraad verkeerd is – veral wanneer dit hulself raak. Waar het hulle daardie idee van reg en verkeerd gekry? Soos C.S. Lewis gesê het: “Ons kan nie weet wat ’n krom lyn is nie, tensy ons eers ’n idee van ’n reguit lyn het nie.” Tog lyk dit asof mense die waarheid onderdruk omdat hulle nie wil glo nie. ’n Man het vir my eenkeer gesê: “Vir God om te bestaan, moet Hy aan sekere standaarde voldoen.” (lag) Hy het regtig geglo sy standaarde is hoog genoeg om God te definieer. Ek dink wat hy eintlik wou sê, is: “God moet Homself bewys volgens mý standaarde.”

Die Here is ewigdurend, Hy is nie afhanklik van iemand of iets nie, en Hy hoef ook nie aan iemand se standaarde te voldoen om te bestaan nie. As die Here gebonde aan menslike vereistes was, sou Hy nie regtig almagtig en onafhanklik wees nie. Hy sou net nog ’n ander god wees, ’n klein “g” in ’n see van mensegemaakte gode wat onderhewig en afhanklik is van die bui van die mens om te kan bestaan. …en vir my sou dit net dom wees.

Waarom glo ons dan nie in God nie? Dit is tog beslis makliker om in God te glo as om te glo dat draaiende atome ooreenstemming bereik het om nie net saam te smelt en iets te skep nie, maar ook intelligent en wys genoeg te wees om oneindige diep konsepte soos liefde, haat, verantwoordelikheid, vriendskap, blou lug, reën, en al die talle fisiese en nie-fisiese dinge van bestaan by te voeg. Waarom glo ons dan nie in God nie?

Ek glo ’n algemene “Ek wil nie” lê aan die kern van die saak – ’n hart vol van “ek wil nie.” Om te glo sou ongelowiges direk konfronteer met hulself, hul sondige karakter, hul rebellie, en hul behoefte om terug te keer na God, wat dalk meer is as wat die meeste bereid is om te doen. Dit lyk asof dit net te na aan die waarheid is, en te eerlik. Miskien is die behoefte aan Christus nog nie dringend genoeg nie … nog nie.

Daarom ontken hulle die feit van God se bestaan en speel klein geestelike speletjies om die waarheid weg te redeneer. Vanweë dit word God se vaste grens teen alle goddeloosheid en ongeregtigheid uit die hemel geopenbaar en is dit met onwrikbare vasberadenheid deur die hand van God self gestel. Teenoor die ongeloof het Hy gesê: “Tot hier toe en nie verder nie… julle sal nie sonde, boosheid en ongeloof in my huis bring nie.”

Die Here is die God van waarheid. Die God van die Bybel is nie ’n god van mites of legendes nie. Jesus Christus is Die Waarheid. Hy is die uiteindelike werklikheid; Hy is wat regtig bestaan in die heelal, in ’n wêreld vol misleiding en leuens. Net so is die Bybel nie net ’n gemaakde boek van godsdienstige fantasie nie; dit is waar, geestelik, histories en wetenskaplik.

God is nie versteek nie. Ons is. Ons het in die tuin van Eden weggekruip, en ons kruip vandag nog weg. Die Here roep ons om uit ons skuilplekke uit te kom, om nederig te wees en eerlik te wees, om die deure van ons harte oop te gooi en ons heinings af te breek. Wat gaan aan met al ons wrokke en jaloesie, eintlik? Christus is sigbaar en bereid om al ons donkerste geheime te vergewe; ons hoef net bereid te wees om uit ons wegkruipplekke uit te kom. Kom uit, kom uit, waar jy ook al is. God roep jou om huis toe te kom!

Vertaling is deur Chané de Clercq

Ek is “Social Porter” van “Living in His Name Ministries”

034 God Het Ingetree!

Jesus, U het dit reggekry! U het my spyt en diepe hartseer verander. U het my swart rouband van my arm afgeruk. U het my nie alleen gelaat nie. U het my ruimte gegee om asem te haal. U het my uit die sloot getrek, uit die diep modder gelig, en my laat spring en draai van vreugde—ek het myself heeltemal oorgegee aan U liefde. Toe my sondes my oorweldig het—opgehoop, stinkend en oneindig baie—en ek geleef het op ’n dieet van trane, het God ingetree… en my ’n gedig tot Sy eer gemaak.

 Wie is God? Kom ons praat oor Sy onsigbare eienskappe: God stel nie uit nie. Geen statistiek of geskrewe woorde kan Hom werklik beskryf nie. God tree in. Hy is ongelooflik goed daarin om God te wees—en Hy gee nooit op nie. Ons mag dalk besluit om op te gee, maar God gee nooit op nie. Sy liefde is absoluut vasberade. God is genadig en goedhartig. Hy het ons lief die hele dag en sing liedere oor ons in die nag. Hy maak die naam van dié wat in Hom glo, skoon. Hy gee Sy lantern en kompas aan dié wat Hom liefhet. Hy teken vir ons ’n kaart en gee ons wysheid en insig om die pad te volg. God se beloftes is altyd, altyd, altyd… en ja, ja, ja.

Baie jare gelede, toe ek in groot moeilikheid was, het ek geweet daar is net één plek waarheen ek kan gaan: na God toe. Wat is dit vir ons werd om oor te gee aan God? Toe al my vriende wat belowe het hulle sal daar wees—maak nie saak wat nie—verdwyn het… en ek gewens het ek kon ook verdwyn, het God ingetree. Toe ek geen idees meer gehad het nie, geen verbeelding oor nie, geen drome oor nie—en ek my einde bereik het—het God ingetree. In daardie tyd van my lewe het ek geen idee gehad waarheen om te gaan nie, wat om te doen, wat om te sê of hoe om op te tree nie. Ek het nie eens ’n vae benul gehad van wat om te verwag of wat volgende sou gebeur nie. Toe het Jesus op die toneel verskyn! Toe ek vasgevang was in die sluitgreep van sonde, het Jesus ingespring—Hy het die bene onder my gebondenheid uitgeslaan en dit platgetrek vir die oorwinning. Ek het gedink dit was die einde van die pad vir my… Maar toe tree God weer in—om my innerlike en geestelike stryd op te los.

Tree God dan werklik in die sake van die wêreld in? En as Hy dit doen, is daar enige onmiskenbare voorbeelde van hierdie goddelike ingryping? Het God dalk vingerafdrukke op Sy handewerk gelaat?

Ek glo ons kan met vertroue wys na baie voorbeelde van God se ingryping. Alles van die nederlaag van die Spaanse Armada tot die bestaan van die moderne Israel dien as getuienis dat God in die geskiedenis ingetree het. Daar is natuurlik ook die wonderwerke in die Bybel, opgeteken deur ooggetuies, en dan is daar die skepping self.

Aan die ander kant van die spektrum is daar ook gelowiges wat alles as God se ingryping sien—soos wanneer ’n goeie parkeerplek oop is en dit as ’n duidelike wonderwerk van God beskou word. ’n Skielike windvlaag of die toevallige ontmoeting met ’n vriend word maklik gesien as ’n teken van God om ’n ander rigting in te slaan. Miskien is dit, miskien is dit nie.

Hoewel hierdie ingesteldheid dalk meer Bybels is as dié van iemand wat God se betrokkenheid heeltemal ontken, bring dit wel sekere gevare mee. Om feitlik alles as goddelike ingryping te interpreteer, kan lei tot baie subjektiewe gevolgtrekkings. Baie keer, wanneer ons aan die einde van ons eie kragte kom, moet ons eerlik wees—ons het ’n geneigdheid om dinge op ’n manier te sien soos wat ons dit wíl sien.

Dit is aanloklik om wolkvorms te probeer ontleed om “bewyse” te vind van wat ons wil hê God se wil moet wees—in plaas daarvan om Sy wil werklik op ’n Bybelse manier te soek.

Maar om terug te kom by die onderwerp: ek glo God tree in, in die lewens van elke lewende wese op aarde—of hulle dit glo of waardeer of nie. As God nie op een of ander manier sou ingryp nie, glo ek die lewe sou dadelik vinniger verander na vernietiging, en binne ’n oogwink tot niks verval.

Genesis 20:1-18 is ’n goeie voorbeeld—Abraham was ongehoorsaam, maar toe hy die Here gesoek het vir hulp, het God namens hom ingetree. God tree selfs in ten bate van ongelowiges, want “so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het…” Selfs toe die mensdom nie in God geglo het nie, of Sy liefde as waardevol beskou het nie, het God tog ingetree en redding beskikbaar gemaak vir enigeen wat sou bekeer en Sy Naam aanroep.

God tree in! Hy is die Hoof-Ingrypende—en Hy is gewillig om jou doodsvonnis te kanselleer. Oorweeg Sy liefde ernstig, want jou lewe self is op die spel.

Vertaal deur Chané de Clercq

Ek is Social Porter van Living In His Name Ministries.

033 Hy is ons God!

Hy is ons God!
Hierdie is ’n samestelling uit The Message Bible:

Het jy geweet God is ’n veilige plek? Die oomblik as jy by Hom is, kan jy ontspan – en jy sal nooit spyt wees dat jy aan Sy deur geklop het nie. Wanneer God met mense praat wat seer gekry het, begin hul harte weer klop, en mense wat hoop verloor het, voel weer lig wanneer Hy in hul oor fluister.

Die tyd van die bendeleiers is amper verby, en die dae van die farao is op ’n einde.
Ons God en Koning het vir ons hemelse juwele gemaak – sterre soos juweliersware aan die lug – en Hy laat ons skryf in Sy boek van wonders! Hoe wonderlik is Hy! Hy is God, ons God.

Wanneer God naby is, werk boosheid teen homself; geweld draai terug na die een wat dit begin het. Mense wat vol vloeke is, word stil en leeg – hulle praat baie, maar sê niks. Hulle leef asof die wêreld plat is en kan nie verder as vandag dink nie. Sonder Jesus, die Christus van God, drink die mens uit ’n veldbottel vol warm woestynwind. Hulle kuier in die Kroeg van Sonde, en dwaal af in ’n doodloopstraat. Dié wat geregtigheid verag, noem God “leë windpraters”! Vol gal en opgeblaas,  blaas hulle hulself uit. Hulle sê: “God is weg”… maar kyk na hul lewens – het jy nie opgelet nie? Hul opbrengs is dorings en onkruid. Hulle is soos skape wat mekaar probeer oortuig hulle is die herder, maar sonder God is hulle niks meer as ’n ry nulle nie. Hulle behandel mense soos kitskos – waaroor hulle selfs te besig is om te bid.

Ek? Ek sal nooit God se Naam behandel soos ’n handelsmerk nie. Ek wil wees soos Jakob wat omdraai en springtou speel van blydskap! God se wyse raad is bevestig in my – dit wys in die vrede van my hart. Hy het my kaartjie hel toe gekanselleer en my sondeloon opgeskeur. Toe ek vol geheime was en hoë heinings reg rondom my gebou het om dit weg te steek, was God goed vir my. Hy het nie die heinings afgebreek nie – Hy het eerder genade-graffiti daaroor geskryf.

Voordat ek vir Jesus geken het, het die duiwel se waters my gedurig oorstroom.
Die toue van die hel was styf om my polse, doodstrikke was oral, en die galgtou het styf om my nek getrek! Maar toe – God!! Dis reg, toe het my God op die toneel verskyn! Die aarde het geskud, berge het gebewe, Sy neusgate het gevleuel, Sy mond het vuur uitgespoeg. Helder weerlig het losgebars, haelklippe en vuurpyle het gereën, die oseane is oopgevlek, weerlig is geslinger – en my God het teen die vyand van die hemel opgetree soos ’n orkaan van heilige woede wat losbreek…
en Hy het my laat staan – vry, bevry, op ’n oop en wyd veld! Ek was – en is steeds – so verras deur Sy liefde! Hy het my ’n vars begin gegee. Hy het die boek van my hart oopgemaak sodat al die wonderlike dinge wat Hy in my gedoen het, sigbaar kon word. Die teks van my lewe is geskryf – ek het Sy goedheid geproe, Sy gesondheid en Sy Waarheid. My lewe het God se soeklig geword! Hoe is dit moontlik? Hoe kán dit wees – dat God só goed is vir ’n mens soos ek?

Jesus het na my toe gekom – ek kon Hom van ver sien aankom, van baie ver af, asof ek teleskopiese visie gehad het! Daar was heerlikheid wat geblink het, hoë heinings is oorgespring, Sy vyande is gevang, en die opsweepers is verpletter; dooies is vasgespyker! Wham! Wham! Ek sê vir jou – ek hét gesien hoe Jesus dit doen! Hy was ongelooflik vreesloos! Wat ’n vertroue! Sy teenwoordigheid was só oorweldigend dat haters weggevee is, en duiwels het hul skuilplekke verlaat en padgegee.

Die Rots is ’n seën – Hy is vry, bevrydend, en Hy maak dinge reg. Jesus is Heerlikheid op toer – Hy is God se kunswerk ten toon gestel. Op Sy bevel hou Mejuffrou Dag klas, en Professor Nag gee lesings; ongesproke waarheid word oral hoorbaar gemaak. Die son het ’n nuwe bruidegom, en dagbreek hardloop soos ’n atleet na die wenstreep. Lied na lied word gesing, en Sy Naam rym so mooi – dit wek geloof in harte.

 

Vertaal deur Chané de Clercq

Ek is Social Porter van Living In His Name Ministries.

God se Huis

Ek het gedroom dat ek op pad na God se huis, deur ’n sagte, wonderlike woud gestap het – ’n plek waar lig soos dansende sterre deur die blaredak geflikker het, en die bome gefluister het soos ou vriende, terwyl die vrolike groen aarde soos ’n sagte kombers onder my voete gelê het. Die bome het saggies gefluister, amper asof hulle geheime van goedheid vertel het. Oral om my het klein blommetjies hul koppe gelig en met sagte, vrolike stemmetjies vir my gesing – dit het gevoel asof die hele woud bly is om my te sien. Toe ek by die rand van die woud aankom, het ek oorkant ‘n sagte groen veld, ‘n reuse herehuis gesien, met rye en rye vensters wat in die son geglinster het. Die huis was groot en glansend met so baie kamers dit het gevoel asof die huis nie ‘n einde gehad het nie. Die huis het nie net gelyk soos ’n paleis nie – dit het gevoel soos ’n plek waar jy rus, waar jy welkom is… waar God vir jou wag. Dit het ’n unieke binnehof gehad, en verder was daar ’n indrukwekkende buite-ingang wat na ’n nog groter, majestueuse binne-ingang gelei het. Vir een of ander rede, al het ek geweet dit is baie onbeskof en onvanpas om by iemand se vensters in te loer, het ek tog ’n vreemde gevoel gekry dat ek uitgenooi word om in te kyk – om in die “Oë van God” in te loer. Met groot moed het ek na die hoë, dubbellaag, pragtige versierde skuifvenster naby die hoofingang gestap. En daar… binne-in die huis… het ’n reuse-kamer op my gewag, vol prente wat soos stories oral teen die mure hang – hoog en laag, bo die groot kaggel, en daar was selfs fotos wat op die vensterbanke gerus het. Oral! Reg in die middel het daar ’n klein lessenaar gestaan waarop die Boek van Herinneringe gelê het, met ’n mooi, netjiese pen wat oor die bladsye rus – klaar reg om elke verhaal en geheim op te teken. In die droom het ek besef dat al daardie prente, versier met blink werkwoorde, byvoeglike naamwoorde en kleurvolle beskrywings in goue letters, God se gunsteling oomblikke van die verlede was – en ook kosbare herinneringe van dinge wat nog nie gebeur het nie. Dit mag dalk vreemd klink om te sê, maar op daardie oomblik het dit glad nie vreemd gevoel nie, want ek het geweet die Here sien die einde al vanaf die begin af. Hy was dus al by die einde en het sy kosbaarste herinneringe alklaar bymekaar gemaak.

Terwyl ek deur die venster kyk, hoog bo my, tussen die mooi en ingewikkelde houtwerk van die steunbalke, het een van die pragtige vensters stadig oopgegaan. Uit die venster het ’n groot groep helder, kleurvolle voëls uitgevlieg. Elke voël het ’n liggies-gloeiende juweel in sy kloue gehad, en hulle het in ’n pragtige groep na die ooste toe gevlieg, asof hulle ’n spesiale boodskap dra. Ek het besef dit was die Here wat seëninge uitstort uit die oop vensters van die hemel. In die droom het die Here gepraat met ’n stem wat soos klokkies in die verte geklink het, en dit het gelykertyd saam met die vrolike lag van reuse en ’n blye gejuig, wat reg in die middel geklink het – alles op een slag.

Die Here het gesê: “My seëning word uitgestuur volgens My eie Wil. Jy kan nie die venster oopmaak deur geld te gee nie. Jy kan nie die seëning ontvang deur dit uit My Hande uit te vas nie, en jy kan dit ook nie uit My Hande uit smeek nie en die vensters kan nie met bitterheid, ongeloof en teleurstelling toegehou word nie. My uitstorting gebeur omdat Ek dit stuur, nie omdat iemand dit uit my hand uit kan ruk, of kan bid nie.”

Ek beweeg toe na ’n ander venster aan die kant van die groot huis, en toe ek in God se Oog in kyk (die venster) sien ek hierdie keer ’n ongelooflik groot kombuis met breë werkskaste, baie oonde en stoofplate waar die daaglikse brood geknie en gebak word.

In God se kombuis was daar elke goeie ding wat jy jou kan voorstel, en selfs meer, beskikbaar vir dié wat net sou vra. Ek kon stapels lekkernye sien, elkeen netjies toegebind met ’n klein kaartjie waarop ’n naam gestaan het. Toe besef ek dit is seëninge wat nog nie voor gevra is nie, maar wag vir die persoon met daardie naam op om te vra, te soek en te klop. Ek was hartseer omdat ek geweet het dat mense nie gevra het nie, en daarom het hul seëninge en voorsiening net daar gesit. Ek het by myself gedink: “As hulle net sou vra en glo.”

Naby een van die lang kombuistafels was groot vate met etikette soos Wysheid vir die Magtiges, Eer vir die Dapperes, Integriteit vir die Moediges, en Hoop vir die Armstes. Op die rakke naby was daar groot houers vol verfrissings, wagend om oopgemaak te word vir die wat moeg geword het en swak in die hitte van die dag rondgestap het.

Toe ek wakker word, dink ek aan Efesiërs 2:10, waar God sê ons is Sy handewerk, of Sy poësie. Ek het die oggend deur my vensters na die mense buite gekyk en diep gedink oor die wonderlike droom. Ek het by myself gedink — van binne my venster af, terwyl ek na buite kyk, sien ek die mense aangaan met hul lewens, maar in my opinie lyk hulle nie regtig soos poësie nie.

Poësie sit netjies in ’n ry,
met ritme en rym wat altyd bly.
Maar die mense wat ek sien,
sit glad nie netjies in ’n lyn nie.

Hul ritme is vreemd en moeilik om te meet,
en lyk baie duidelik asof dit nie rym nie.

Maar vanuit God se vensters, van binne na buite, sien Hy ’n prentjie heeltemal anders as ons s’n. Wat is dan die waarheid? Is ons Sy poësie — met ritme en rym, of net vae skaduwees,’n stukkie stof op ’n wit muurlyn?

Ek dink dis iets besonders dat God ons liefhet – selfs al sien ons niks in onsself wat die moeite werd is om lief te hê nie. Soos C.S. Lewis eens gesê het, sien ons onsself dikwels as ’n vuil kolletjie in vars lug… soos dowwe spoke, sonder stem of waarde.

Maar van God se vensters af sien Hy al ons moontlikhede. Hy roep ons drome en hoopvolle potensiaal as Sy vaste “ja” en “amen.” Van Sy vensters af noem Hy ons mooi – soos God-poësie, helder en vol lig. Dít is iets wat ons regtig diep in ons harte moet laat insink.

 

Vertaling is deur Chané de Clercq

031 Innerlike Vryheid

Johannes 17:17-19: “Heilig hulle deur U waarheid; U woord is die waarheid. Soos U My in die wêreld ingestuur het, het Ek hulle ook in die wêreld ingestuur. En ter wille van hulle heilig Ek Myself, sodat hulle ook deur die waarheid geheilig kan wees.”

Solank ons as gelowiges in hierdie wêreld leef, gaan ons op een of ander manier teen die stroom van die wêreld se stelsel inswem. Dis net hoe dit is. Ons gaan druk ervaar, moeilikhede, probleme, versoekings en geleenthede om verkeerde dinge te doen. Dis deel van die lewe. Maar in al hierdie dinge – omdat Jesus die wêreld oorwin het en deur geloof in ons woon – is ons ook soos Hy … oorwinnaars. As Jesus nie die wêreld oorwin het nie, sou ons ook nie kon nie. Maar Hy het, en daarom kan ons. Dis altyd waar: omdat Jesus dit gedoen het, kan ons dit ook doen. Omdat Jesus gebuig het in gebed (Lukas 22:41), kan ons ook in geregtigheid buig.

In Johannes 14:18 sê Jesus: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Dit beteken God gaan nie toelaat dat ons alleen agterbly of verlate voel nie. As Hy iets sê, dan bedoel Hy dit. God maak nie grappies nie. Jesus het altyd reguit gepraat – Hy was nie vaag of dubbelsinnig nie. Dít is wat goeie grense wys. En omdat Jesus goeie grense gehad het, kan ons ook leer om goeie grense te hê.

Omdat Jesus die wêreld en alles wat daarmee saamkom – soos aanloklikhede, skinderstories, gemor, oordeel, veroordeling en begeertes – van die hand gewys het, kan ons ook keer dat die wêreld ’n plek in ons lewens kry. Hy het die pad vir ons gebaan – heeltemal, sonder om ooit te struikel. Omdat Jesus ons eerste liefgehad het, kan ons Hom liefhê. Omdat Hy vry was, kan ons ook vry wees. Niemand hoef vasgevang te bly in slegte gewoontes of in die mag van die dood nie.

Hier is iets om oor te gesels: Dink jy God gaan mense wat Hom nie liefhet nie, in die hemel toelaat? Het jy Jesus werklik lief? Verlang jy regtig daarna om Hom te ken – die Een wat vir jou gesterf en opgestaan het? Wat sê jou gewete daaroor? Wees eerlik… die rou, ongefilterde waarheid.

Dit gebeur gereeld dat gelowiges in Christus geskok is wanneer ’n bekende Christen of leraar in sonde vasgevang word. Selfs mense wat die Waarheid ken, kan in die moeilikheid beland as hulle nie toelaat dat God se liefde diep wortel skiet in hulle lewens nie – en as hulle, hulle honger na Jesus verloor het. As ons nie versigtig is nie, kan ons die waarheid begin opdeel – dit net tot sekere dele van ons lewens toelaat – en dan mis ons hoe eg en werklik God werklik is. Dan bly dit by “kopkennis”, maar dit bereik nie ons harte nie.

Ware heiligmaking gebeur wanneer ons toelaat dat God se reinigende waarheid elke area van ons lewe binnekom – elke kamer, elke hoekie. Dit beteken daar is nie plekke waar ons vir God sê: “Hier mag U nie inkom nie.” Maar die waarheid is, God sien alles in elk geval. Dis nie asof daar enigiets is wat Sy oog ontglip nie. Hy is nie ’n halfblinde Koning nie, en Hy sukkel beslis nie met sy sig nie. Hy sien alles, altyd.

So maak daardie deure oop. Sê vir Hom wat regtig in jou hart aangaan. Vra Hom die moeilike vrae – jy moet weet Hy gaan nie terugdeins vir eerlike gesprekke nie. Stil twyfel word nooit beantwoord nie. Gee daaraan ’n stem. Soms moet óns self hoor wat ons eintlik dink – praat dit uit. God se ore is oop en Hy luister.

Omdat Jesus ’n oorwinnaar was, kan ons ook oorwin! In werklikheid het die Here gesê ons is meer as oorwinnaars (Romeine 8:37) – ons moet dit net begin leef.

Innerlike vryheid is soms net ’n geselsie met God vêr.
“Gesels net ’n bietjie met Jesus, vertel Hom van al jou moeilikheid.
Hy hoor selfs jou stilste sug, en Hy sal op Sy tyd antwoord.
Jy voel hoe die gebedswiel draai, en jy weet daar’s ’n vuur wat begin brand.
’n Geselsie met Jesus maak dinge baie beter.”

-Vertaling“Have a Little Talk with Jesus,” geskryf deur Cleavant                        Derricks in          1940.

Baie dankie dat jy geluister het – ek is Social Porter van Living In His Name Ministries.

Hierdie vertaling is gedoen deur Chané de Clercq

OP64 Vredemakers

Wanneer ’n mens besef hoeveel mense rondloop met ’n wrok in hul harte – mense wat week na week kerke en gemeenskapsbyeenkomste regoor Suid-Afrika bywoon – dan begin jy verstaan hoe swaar daardie onsigbare laste werklik is. Elke persoon dra aan iets, en daardie swaar hart hou baie keer hul vooruitgang terug.

’n Belediging klink dalk nie erg op die oomblik nie, maar gee dit tyd – dit kan mettertyd baie swaar begin weeg. Die kans om beledig te word is oral om ons – dit kan enigiemand, enige tyd tref. Soms ontvang jy dit, ander kere deel jy dit uit – soms selfs sonder dat jy dit besef.

Wat is dit wat jou terughou? En waar is die vredemakers – dié wat bereid is om seer dinge aan te spreek, om versoening te bring, om gewig van ander se skouers af te help dra?

Wees verseker: om elke draai in die lewe is daar ’n geleentheid om aanstoot te neem en in konflik betrokke te raak. Soms voel dit regverdig, maar baie keer – dalk selfs meestal – is daardie aanstoot net ’n saak van trots of arrogansie.

Let op, ek sê dit lyk regverdig, want daar is eintlik geen goeie rede om ’n wrok rond te dra nie. Dit onderdruk jou, dit verdraai jou denke en jou gevoelens. Hoe langer ons so ’n wrok dra, hoe meer begin dit ons oordeel en besluitneming beïnvloed – tot op ’n punt waar dit glad nie meer is soos God dit vir ons bedoel het nie. Dit raak alles in ons lewens.

Ek is seker ons het almal al iemand ontmoet wat bitter is – oor iets, of dalk oor alles. En as jy mooi dink, het dit waarskynlik begin by ’n wrok… en ’n onbuigbare, onvergewensgesinde hart.

Jesus en die Bybel is ons voorbeeld van hoe ons moet leef – in gedrag, karakter, moraliteit, beginsels en etiek. Dis belangrik om raak te sien dat Jesus nooit ’n wrok gedra het nie. Omdat Hy nie aanstoot gekoester het nie, het Hy ook nooit nodig gehad om Homself te verdedig of verdedigingsmeganismes te gebruik nie.

Elke keer as ek iemand ontmoet wat baie verdedigend optree, is daar gewoonlik ’n klomp ou wrokke wat hulle diep binne dra. Dinge wat nie hanteer is nie – wat weggepak en vertroetel is – en uiteindelik begin dit vrot.

Wat gaan jy doen met jou wrokke?

Op die ou end moet ons almal ons bagasie aanspreek en daarmee werk… of dit dra ons.

“Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” – Matteus 5:9

Kom uit julle verborge plekke, vredemakers! Dis tyd om op te staan en aan die werk te spring.

Die Bybel gee vir ons alles wat ons nodig het om ware vrede te bring – die beloftes én die beginsels. Een van die eerste voorbeelde van iemand wat vrede help maak het, was Moses.

In Eksodus 18:13 lees ons:

“Die volgende dag het Moses gaan sit om die volk te oordeel, en die volk het van die oggend tot die aand voor hom gestaan.”

Moses het tussen mense bemiddel en gehelp om reg en vrede te bring. Dit is ’n roeping wat steeds vandag geld – vir my en vir jou.

Toe Jethro, Moses se skoonpa, sien wat aan die gang was, het hy vir Moses gevra wat hy eintlik doen. Moses het in vers 16 geantwoord:

“Wanneer mense ’n probleem het, kom hulle na my toe. Ek help hulle om reg en verkeerd te onderskei, en ek verduidelik vir hulle God se wette en gebooie.”

Moses het duidelik as ’n soort vredemaker of arbiter opgetree, en hy het God se wette en gebooie as sy riglyn gebruik. Dis beslis ’n goeie begin. Maar Moses het alles op homself geneem – hy het nie die mense aangemoedig om self betrokke te raak by God se standaarde en riglyne nie.

As ons verder lees, sien ons hoe Jethro wysheid met Moses deel. Hy sê vir Moses dat hy die mense moet leer wat reg en verkeerd is, sodat hulle self kan weet wat om te doen. Jethro stel ook voor dat Moses gesag delegeer aan Godvresende mense om hom te help met die taak om vrede te bring.

Ek hou van daardie idee – om mense te leer wat reg en verkeerd is, sodat hulle self kan leef volgens daardie kennis. Nie om ’n organisasie bo hulle aan te stel wat elke beweging beheer en soos ’n “gedagtespolisie” optree nie.

Ons almal moet weet wat reg en verkeerd is – nie volgens wat ander mense sê nie, of wat die regering besluit nie, maar volgens God se standaard.

Is jy ’n vredemaker of iemand wat maklik aanstoot neem?

En ja, ek het spesifiek gesê vredemaker. Daar is ’n groot verskil tussen ’n vredemaker en ’n vredebewaker.

Om ’n vredemaker te wees, beteken jy neem aktief deel – jy help om vrede te bou en te herstel. Dis meer as om net ’n passiewe toeskouer te wees wat nooit regtig betrokke raak nie.

’n Vredebewaker probeer net die chaos stil hou – net genoeg om dinge onder beheer te hou. Hulle fokus daarop om geweld of konflik te keer, maar hulle verander nie noodwendig die omstandighede nie.

’n Vredemaker, aan die ander kant, werk daaraan om iets blywends te bou – ’n gemeenskap wat nie net sonder geweld leef nie, maar wat gesond, kreatief en vreedsaam is.

Die een plak net ’n pleister. Die ander bring ware genesing.

Ons kan nie ware vrede skep deur net die wet toe te pas of te probeer afdwing nie. Trouens, mense wat net op die wet fokus, wen selde. Sommige glo dat ons gemeenskappe veiliger sal wees as ons die wet strenger maak en swaarder straf toepas – maar die waarheid is: veroordeling het nog nooit iemand werklik bevry van immoraliteit of misdaad nie.

Die wet kan mense dalk bang maak, maar sonder Jesus is daar geen ware kans op versoening of innerlike verandering nie.

’n Interessante voorbeeld hiervan is die 1873 Colt Peacemaker, oorspronklik gemaak deur Colt Firearms. Dit was geskik vir .45 Long Colt-patrone en het bekend gestaan as die “wapen wat die Weste gewen het.” Wetstoepassers het dit gebruik om orde af te dwing tussen strydende partye. Maar om die wet af te dwing, skep nie vrede nie – dit hou net dinge onder beheer.

Mense het opgehou baklei omdat hulle bang was om geskiet te word, nie omdat hul hart verander het nie. Die geweer het gehelp om die uiterlike vrede te handhaaf, maar dit het nie enige werklike of blywende eenheid gebring nie.

Dalk moes Colt eerder die geweer ’n vredebewaker genoem het, en nie ’n vredemaker nie.

Dit lyk vir my asof ons, om werklik vredemakers te wees, eers vir Jesus moet leer ken – en self iets van vrede moet ervaar, diep binne ons. Dink jy nie ook so nie?

Tussen my notas het ek ’n interessante feit neergeskryf in my klein boekie. Ek weet nie wie dit oorspronklik geskryf het nie, maar dit het my laat dink:

“Daar word geskat dat minder as agt persent van die hele geskiedenis van die mensdom as tye van vrede beskou kan word. In die afgelope 3 200 jaar was daar minder as 300 jaar van vrede. Historici sê dat daar in die afgelope 300 jaar alleen al 286 oorloë in Europa plaasgevind het.”

Dis ’n skokkende gedagte, nè?

Maar ons – dié van ons wat deur Jesus Christus se dood en opstanding bemagtig is – is geroep om meer te wees as net vredebewakers wat dinge probeer beheer. Ons is geroep om vredemakers te wees wat ware, blywende vrede bring – dié soort vrede wat net God kan gee – aan almal wat dit begeer.

In Galasiërs 5:22 sê die Bybel dat een van die vrugte van die Gees vrede is, en in Markus 9:50 lees ons: “Wees sout in julself, en wees in vrede met mekaar.”

Ek hou van daardie vers: “Wees sout in julself, en wees in vrede met mekaar.” Kom ons wees “sout” vir die wêreld – ons moet diegene wees wat vrede bring en nie onvrede nie.

Interessant genoeg het die idioom “jou sout werd wees” oorspronklik beteken dat Romeinse soldate dikwels in sout betaal is. Dit het beteken dat die persoon se waarde gelyk was aan die hoeveelheid sout wat hy ontvang het vir die werk wat hy gedoen het. Hoe hoër die rang van die soldaat, hoe meer sout het hy gekry – wat sy groter waarde weerspieël het.

Volgens Matteus 5:13 is ons, diegene wat in Christus glo, die sout van die aarde. Ons moet in staat wees om ’n werklike impak op die aarde en die mense daarin te hê. Sout was en is steeds van groot waarde, en ek dink die Here sê vir ons om waarde in onsself te hê en om te oefen om in vrede met mekaar te leef.

Ons moet die gawes wat die Vader vir ons gegee het, gebruik en nooit konflik toelaat om voort te duur as ons dit kan help nie. En jy weet, die geleenthede vir konflik is altyd daar – dit is oral rondom ons. Onopgeloste konflik is soos om die duiwel saam met jou te dra. As jy hom toelaat om saam te reis, sal hy later die stuurwiel probeer oorneem.

As mense wat versoen is met God, word ons geroep om op ’n manier op konflik te reageer wat heeltemal anders is as hoe die wêreld dit hanteer. Die wêreld antwoord dikwels met woede en oordeel – ‘n oog vir ‘n oog. Maar Romeine 12:18-19 sê: “As dit moontlik is, sover dit van jou afhang, leef in vrede met almal. Moet nie vergelding neem nie, liewe vriende…”

Ons samelewing lyk obsessief oor vergelding en wil altyd seker maak ander kry wat “hulle verdien”. Maar ’n goeie vraag wat ons kan vra, is: Hoe meet ons wat iemand “verdien”? Volgens wie? Volgens watter standaard?

As ons kyk na wat die wêreld sê ons verdien, dan is die enigste reg wat die wêreld aan ons bied, die reg om te ly. Maar as ons dit meet volgens wat ons van Jesus kry, is daar iets heeltemal anders: versoening. Ons kry nie wat ons verdien nie, maar genade – omdat Jesus gekry het wat Hy nie verdien het nie: oordeel, lyding en kruisiging. As Hy nie gesterf en opgestaan het nie, sou ons nie genade gekry het nie, maar veroordeling.

Toe Jesus gekruisig is, het Pontius Pilatus die mense gevra wat hulle met Jesus wou doen, en met een stem het hulle uitgeroep: “Neem Hom weg! Kruisig Hom!” Die ongegronde oordeel en vooroordeel was ongelooflik. Jesus het gekom om die mensdom die geleentheid te gee om vrede met God te maak. Hy was die vredemaker tussen die mens en God, maar tog kon die mense net sê: “Kruisig Hom!” Die gewonde gewete en bevooroordeelde gedagtes van die mense was so blind vir die goeie nuus dat baie die besoek van God gemis het.

In plaas daarvan om ons oë op ons eie begeertes te stel, of onredelik baie tyd te spandeer oor wat ander mense mag doen of nie doen nie – wat hulle moes gedoen het of kon gedoen het, maar nie gedoen het nie – kom ons verkwik onsself in die Here en gee getuienis van Sy liefde. Ons kan dit doen deur vergifnis, wysheid, en ’n voorbeeldige karakter te leef.

Konflik is maklik. Die hel maak seker dat daar altyd geleenthede vir konflik is. As die duiwel mense teen mekaar kan laat optrek en hulle eenheid uitmekaar skeur, sal die mense van God – wat die bron van hulle vrede is – vervreem word. Miskien kan die duiwel hulle selfs beïnvloed om met ‘n diep gewonde gewete te leef, chaos te aanvaar, en vir hulself te sê: “Oo, dit is net hoe dinge is.”

Vir die meeste mense is vrede eenvoudig net die afwesigheid van rus. Maar God se siening van vrede is baie dieper en groter as net die afwesigheid van konflik. Die Here sê ware vrede kom wanneer ons verhouding met God herstel word.

Wat sal dit vir jou neem om ‘n vredemaker te wees in plaas van ‘n onvredemaker? Is ons bereid om die taak van vredemakers op te neem? Uiteindelik sê Matteus 5:9 dat om ‘n vredemaker te wees, een van ons kenmerke as kinders van God moet wees.

Een van die vyf punte in die Vredemakers Gelofte sê punt 2: “Kry die balk uit jou eie oog.” In plaas daarvan om ander te blameer vir konflik of weerstand teen straf, kom ons vertrou op God se genade en neem verantwoordelikheid vir ons eie bydrae tot die konflik.

As ons aanstoot neem en dink dat die ander persoon die probleem sommer sal erken wanneer ons dit aan hulle blootlê, is die kans groot dat die ander persoon nie eens weet hulle het ons aanstoot gegee nie. Ons kan nie verwag dat die ander persoon alles vir ons regstel nie. Dit is ons verantwoordelikheid om versoen te word met God. Niemand kan die vredesaanbod van die Bloed van Jesus namens ons aanvaar nie, en ons kan nie hierdie gawe van God namens iemand anders ontvang nie.

Nog ‘n aanhaling uit die Vredemakers Gelofte sê in punt 3: “Herstel sagkens.” In plaas daarvan om te doen asof konflik nie bestaan nie, of agter mense se rug oor hulle te praat, sal ons nie klein konflik ignoreer nie. Ons sal persoonlik en met genade met diegene praat wie se optrede aanstoot gee en wat te ernstig is om oor te sien. Ons sal streef om te herstel eerder as om te verdoem.

Wanneer konflik nie privaat opgelos kan word nie, sal ons ander in die liggaam van Christus vra om ons te help om die saak op ‘n Bybelse manier op te los.

Matteus 18:15 sê: “As ‘n medegelowige jou seergemaak het, gaan en vertel hom—los dit tussen julle twee op. As hy luister, het jy ‘n vriend gemaak.” Dit is wat ons noem ‘n vredemaker. Het jy dit begryp? As HULLE jou seergemaak het, gaan JY na hulle toe en oefen jou konflikoplossing. En as hulle nie luister nie, skud die stof van jou voete af en wag op God om die dilemma op te los.

Hoeveel van ons neem aanstoot, gee die verhouding op en gaan huis toe, en sê: “Ek gaan nooit weer met haar praat nie!” of “Dis die laaste keer wat ek vir hom enige van my tyd sal gee!” Of, en ek dink dit is dikwels wat die meeste mense doen: glimlag ons en gebruik ons geestelike taal net wanneer dit nodig is, bly oor die algemeen stil terwyl ons die fasade van welstand handhaaf, en beweeg dan net weg—dalk selfs na ‘n ander kerk—en laat die konflik staan om te roes in ons gedagtes. Ons dink dat as ons net niks sê nie, dit dalk van self weg sal gaan.

My vriend, nee, dit gaan nie net “weggaan” nie! Daar is geen woorde wat uit jou mond kom wat niks doen nie en net “weggaan.” En glo my, jy kan nie van alles af weghardloop nie.

In Johannes 6, toe Jesus gesê het: “Hy wat My vlees eet en My bloed drink, bly in My, en Ek in hom,” Sy dissipels het dit moeilik verstaan. Toe vra Jesus vir hulle: “Is julle aanstoot gegee deur dit?” Aanstoot is soos ‘n strik wat die persoon immobiliseer en neutraliseer.

Aanstoot is ‘n struikelblok, maar deur God se genade kan ons dit verander van iets wat ons laat struikel, na iets wat ons help om op te staan.

Konflikoplossing is een van die min vaardighede wat in die Liggaam van Christus goed ontwikkel is. Eerlik gesê, ek dink dit is moeilik om werklike ‘vredemakers’ vandag te vind, maar ek glo ook dat God ons sal opwek om dit in die toekoms te wees.

Hoe sal dit lyk as ons nie vroeg al kompromieë aanvaar of verhoudings toelaat om te verwelk nie? Hoe sal dit wees as ons aktief werklike vrede en versoening nastreef—en ander mense vergewe net soos Jesus ons vergewe het? Hoe sal dit lyk as ons die tyd neem om regverdig te wees en wedersyds voordelige oplossings vir ons verskille te soek en te vind?

Ek sê ook vir jou, net omdat ons iemand wat aanstoot gee of konflik veroorsaak, vergewe het en na daardie persoon gegaan het om ‘n vreedsame oplossing te vind, beteken dit nie dat ons daardie persoon terug in ons lewens moet toelaat nie. Daar is soms mense in die wêreld wat werklik nie goed vir ons is nie.

My taak as ‘n vredemaker is om mense met God te versoen. Toe Jesus as mens op aarde was, was die wêreld verdeel. Een ras het ander rasse gehaat, een nasie het ander nasies gehaat, en mense van een godsdiens het ander godsdiensaanhangers gehaat. ‘n Voorbeeld hiervan is die gevoelens tussen Jode en nie-Jode. Die Joodse man het vir God dankie gesê dat hy nie ‘n nie-Jood, ‘n slaaf of ‘n vrou was nie. Hy het die Samaritane verag, selfs tot die punt dat hy baie myle ompad geloop het om kontak met hulle te vermy. Hy het vir homself gesê: “Ek is so bly ek is nie jy nie, want jy is so verkeerd en ek is so reg.”

Bemiddeling begin by die huis. Die beginpunt van bemiddeling vir ander is dat ons eers vrede met God moet maak. As ons in ons eie vel in vrede en gemak kan wees, glo ek dit is ‘n groot struikelblok wat ons deur die genade van God oorwin het, en dit kan maklik die wêreld rondom ons beïnvloed.

Wat dink jy? Is jy ‘n vredemaker of ‘n aanstootnemer? Wat gaan jy kies? Gaan ons leer hoe om konflik op ‘n regverdigde manier op te los, of gaan ons net van die een konflikson na die volgende beweeg, soos skape? Gaan ons probeer om wen/wen-oplossings te vind, eerlik wees en God vertrou, of gaan ons ‘n lewe lei van aanstoot neem en gedurig na ‘n volgende plek beweeg? Dit is iets wat ons elkeen vir onsself moet besluit. Dink daaroor na.

Luister na hierdie woorde van iemand wat geskryf het: “Jesus het die ergste sondaar omhels, die vuilste melaatse aangeraak, die mees afstootlike prostituut gesuiwer, en al die mense bymekaar gebring in ‘n pragtige gesin van God. Hy het ‘n hoë prys betaal, maar het sy missie as vredemaker as ‘n prioriteit in sy lewe gesien.”

Die oplossing vir gesinsprobleme, rasseskeuring en burgerlike konflik is Jesus. Vrede kom nie deur politieke partye, ekonomiese stelsels, nasionale vlae of die Verenigde Nasies nie. Jesus is die Een wat vrede bring.

Spandeer jy jou tyd om net pleisters op situasies te plak, die chaos en opwinding laag te hou totdat die volgende konflik en drama in jou lewe uitbreek, of is jy bereid om die werk te doen om ‘n vredemaker te wees? Is jy bereid om God se idee van konflikoplossing te oefen en te leer hoe om ‘n langtermyn, kreatiewe oplossing te bevorder wat ‘n wen/wen situasie vir almal skep?

Matteus 5:44-45 sê: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en vir diegene wat julle vervolg, bid, sodat julle kinders van julle Vader, wat in die hemele is, kan wees.”

Maak vrede met God, jouself en jou naaste. WEES die voorbeeld van hoe die Here van ons verwag om onsself te gedra. Vrede, my vriende, werklike vrede in die naam van Jesus. Amen.

Dankie dat jy gelees het. Ek is Social Porter van Living In His Name Ministries, en dit was Outposts.

Vertaal deur Chané de Clercq

029 Wees Outentiek

Wees outentiek, geloofwaardig, eerlik en opreg.

“Titus 2:1 “Maar jy moet die dinge onderrig wat ooreenstem met gesonde onderrig, wat die karakter en regte lewe behels wat ware gelowiges identifiseer.”

Paulus het vir Titus opdrag gegee om gesonde onderrig toe te pas en die mense te leer hoe om reg te lewe, volgens God se Woord, sodat hulle as ware gelowiges in Christus geïdentifiseer kan word. Een van die grootste behoeftes van die kerk vandag is geloofwaardigheid. Ons, as gelowiges, word dikwels meer geken deur die wêreld,  vir waarteen ons staan, as waarvoor ons staan. Ek het na die stad toe gegaan en ‘n klein opname onder jong mense gedoen en was geskok om te ontdek dat baie, die kerk van vandag, beskou as bedrieërs, swendelaars, leuenaars, manipuleerders, egbrekers, ensovoorts. Ja, dit is die woorde wat baie gebruik het. Lewe ons die ‘wet’ of leef ons op aarde soos in die Hemel? Ons moet elkeen ‘n uitsonderlike lewensstyl kies wat die karakter en eienskappe van Jesus Christus weerspieël.

Wanneer ons ‘n Christelike “bumpersticker” op ons motor sit, juweliersware met ‘n kruis dra, of t-hempies met Skrifte dra, kan ons gerus wees dat mense kyk … hulle is op soek na egtheid. Ons moet die mense van God wees, nie net soos die mense van God lyk nie. Ons moet Jesus Christus weerspieël en die mense wees wat Jesus so graag wil hê ons moet wees.  Kom ons leef ‘n lewe wat die onderrig van die geloof mooi maak. Miskien moet ons studeer om te leer wat die einskappe van God is, en dan ‘n koers uitstippel om aanpassings in ons lewens te maak om die stralende goedheid van God te weerspieël. Kom ons besef dat dit dalk ‘n rukkie kan neem om eg en deursigtig te wees voordat ander begin glo in ons geloofsbewerings en ons ernstig opneem. Dit is nie genoeg om net rond te loop en Skrif aan te haal nie, die wêreld wil resultate sien wat ooreenstem met ons bewerings.

‘n Pragtige prentjie in die Skrif word gegee in Titus 2:1, waar ek glo dat een siening van die skrif ‘n beeld is van ‘n krans om die nek van elke gelowige in Christus Jesus. Daardie krans kan baie dinge verteenwoordig, maar vir hierdie bespreking, kom ons noem dit gesonde onderrig. Die idee van ‘n krans is ‘n oorwinning of kroon, maar dit is ook een van ‘n pragtige versiering om ‘n venster met ‘n uitsig. Elke gelowige is soos ‘n venster met ‘n uitsig, en die vrug van die Gees, heiligheid en Godsaligheid versier daardie venster, soos ‘n krans van genade. Daardie krans is vir elke gelowige, en daar is geen kantlynbankie vir die onbevoegde spelers nie. Elkeen is op die speelveld, self al dink jy nie jy is nie, luister na die Here… jy is. Hoe lyk jou krans?

Watter nut het dit om ‘n “Jesus is lief vir jou” stieker op jou motor te hê en dan padwoede te beoefen, of om onbeskof te wees teenoor mense met ‘n slegte houding, voor jou kollegas, of selfs waneer jy buite sig is van ander? Ons houding is aansteeklik. ‘n Paar goeie vra wat ons, onself kan vra, is : Wat vang ander mense van ons op?  Wie se lewe weerspieël ons wanneer ons daardie soort houding vertoon? Die bybel is ons finale maatstaf wat ons Gedrag, Karakter en Geselskap betref. 1 Timoteus 3:15 – “Ek skryf sodat jy mag weet hoe om jouself in die huis van God te gedra, wat die kerk van die lewende is, die pilaar en grond van die waarheid”. Hoe ons BINNE die huis is, is hoe ons BUITE die huis moet wees. Dit is ‘n ernstige misverstand van die Liefde van God wanneer ons “op ‘n Sondag na die Hemel toe gaan”, en dan die res van die week “soos die hel” leef. In jou gedagtes, hoe lyk dit as jy die  soort persoon sou wees wat heilig en soos God is in jou gedrag ? Sien jy jouself rondloop met ‘n gloeiende gloriekrans, wat lang gewade dra, heeltyd heilig opgetrek en altyd opkyk? Of dalk net ‘n gewone mens wat eenvoudig eerlik en eg is? Die Hebreeuse woord wat vir “heiligheid” gebruik word, impliseer sterk dat dit beteken om “afgesonder” te wees, of geskik vir ‘n spesifieke doel. Kom ons wees nie ontrou aan God se ontwerp nie.

Ek moedig ons almal aan om ons lewens te ondersoek en seker te maak dat die manier waarop ons lewe, sover ons kan, die Here te verteenwoordig.  Dat dit wat ons sê, geloofwaardig is. Wees eg.

 

Vertaling is deur Chané de Clercq